Dag 38 – Is jy gewoond aan jou hemelse verwelkoming?

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Skoen

Gebed

Here ons God, ons is reeds ’n hele paar weke bewus daarvan dat ons vryheid van beweging beperk is, en dat ons slegs vir noodsaaklikhede en onder streng omstandighede buite ons tuistes mag wees. Help ons onthou dat ’n beperking op liggaamlike beweging nie beteken ons is beperk in ons dissipelskap nie. Wys vir ons hoe en waar ons steeds kan wandel met die evangelie – die Goeie Nuus vir alle mense.

 Ons bid vir elkeen wat in hierdie tyd noodsaaklike dienste verrig, en vir elke persoon wat die geleentheid het om te kan werk. Ons bid vir elke individu en elke familie wat geraak word deur werkloosheid en ’n verlies aan inkomste. Ons bid vir almal wat onseker voel en bang is oor wat die toekoms inhou.

 Ons bid vir president Cyril Ramaphosa, vir alle ministers en vir regeringsleiers wat moet voor stap in hierdie tyd. Mag U vir hulle krag gee om onder geweldige druk goeie en deurdagte besluite te neem. Seën hulle families en geliefdes wat hulle ondersteun.

 Dankie dat U nie van ons vergeet nie. Dankie dat U ons aanhou troos en bemoedig. Dankie dat U uit chaos en onsekerheid hoop kan skep. 

 Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my – Psalm 3:6.

Ons raak partymaal te gewoond aan mekaar, amper soos daardie professionele sportsterre wat hulle teenstanders deesdae in die fynste besonderhede bestudeer sodat al hulle bewegings later oorbekend is. Daar bly eintlik geen verrassings meer oor nie. Dieselfde gebeur tussen huweliksmaats, vriende, gelowiges en kollegas. Ons stereotipeer mekaar gedurig en plak etikette op mekaar.

Gelukkig is God nie soos ons nie. Hy begin elke môre oor en voor met ons. Hy weier om ons met terme soos “sondaar”, “dooie gelowige” of “geestelike terugglyer” te etiketteer. En nee, God raak nooit gewoond aan ons tekorte en foute nie. Trouens, God kan dit nie verduur nie. Daarom vergeet Hy daarvan so gou as wat Hy ons vergewe. (Of glo jy nie Psalm 103 nie?) Daarom verander God ons dag na dag na sy ewebeeld (2 Kor 3:18).

God se ritme is om oor en voor te begin. Sy genade wag elke oggend kraakvars, én met komplimente van die Heilige Gees, by ons lewe se voordeur. Psalm 3 en 4 sê immers ons raak in die Here se arms aan die slaap. Hy wag ons elke oggend met oop arms in en verwelkom ons hartlik in sy teenwoordigheid.

Wat beleef jy wanneer jy jou oë in die oggend oopmaak? Wanneer ons onsself morsdood jaag van die een dag na die ander, wanneer ons elke oggend laat is omdat die huiskat voor ons inhardloop of omdat ons ons tandeborsel laat val, hardloop ons waarskynlik loshande onder ons daaglikse hemelse verwelkoming uit. Fout!

Here, dankie dat U elke dag nuut begin met my. Maak my bewus van u sorg, vandat ek my oë in die oggend oopmaak totdat ek weer in u arms gaan slaap. Amen.

Geloofsvrae

Voel jy soms jy mis iets wanneer iemand anders se geloofslewe vir jou lyk asof dit net met lig en voorspoed gevul is?

 

Van kleins af word ons op verskillende maniere geleer dat lig beter is as donker: As die son sak, gaan die ligte aan. As jy bang is vir nie-kan-sien-nie, is daar bedliggies of liggies in die gang. 

Ook ons geloofsverstaan is vol lig-en-donker-kategorieë. Donker word byvoorbeeld maklik die plek waar die Bose en die sonde is.

Maar hierdie opvatting help ons glad nie wanneer die donker dae hulle in ons lewe kom aanmeld nie. Die vrees vir die letterlike donker word baie gou ’n vrees vir die figuurlike donker. Barbara Brown Taylor beskryf in haar boek Learning to Walk in the Dark ’n baie gevaarlike soort spiritualiteit wat nie die lig of die donker in ons lewe verreken nie, en wat vergeet dat God ook in die donker teenwoordig is en werk.

Sy noem dié spiritualiteit “the full solar version of Christianity”. Dit gee jou ’n definitiewe padkaart vir die lewe, met antwoorde op ál jou vrae. Maar dit berei jou nie voor vir die ontmoeting met God in die woestyn, by die put en tydens die donker dae in jou lewe nie. Die donker tye is volgens dié “full solar”-padkaart bloot die gevolg van jou sonde, ongehoorsaamheid en ongeloof.

Ons vergeet gou dat Jesus in die nag gebore is, dat Jakob in sy slaap gedroom het die hemel en die aarde is nooit ver van mekaar nie. 

’n Rabbi het die storie vertel van ’n seuntjie wie se maats hom vergeet het terwyl hy weggekruip het. Sy pa sê toe aan die snikkende seuntjie: “That’s how it is with God too. God is always hiding, hoping that people will come and look for him. But no one wants to play. He’s always left alone, wanting to be found, hoping someone will come. But crying because no one seeks him out.”

Miskien het Jesaja iets hiervan bedoel toe hy gesê het: “Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word” (Jes 45:3).

Wanneer leer ons regtig sien? Om ordentlik te begin luister? Is dit nie dalk wanneer ons gedwing word om in die donker rond te tas nie? 

– Lisel Joubert

Liturgie van die Lewe

Maak jou kas skoon!

Hoekom? Eerstens is dit ’n teken van dankbaarheid vir die oorvloed wat jy ontvang het. Tweedens, om dan vanuit jou oorvloed te deel en ander mense wat in hierdie tyd baie minder het, te help. En, laastens, om te besef dat jy jou lewe kan vereenvoudig. Soos Elizabeth Ann Seton gesê het: “Live simply so that others may simply live.”

Hoe? Begin by jou klerekas. Kyk na alles wat jy het en kies 10 goeie, bruikbare items wat jy self nog gebruik, maar nie meer so gereeld gebruik nie of nie nodig het nie. Skenk dit vir ’n welsynprojek. As jy klaar deur jou klerekas gegaan het, gaan kyk na jou ander kaste. Is daar alledaagse gebruiksartikels wat jy vir ander mense kan gee, goed wat dalk nie in hierdie tyd vir hulle bekostigbaar gaan wees nie? In ons gemeenskap gaan ons al die items wat geskenk word, beskikbaar stel teen ’n donasie van R20 per item. Iets het meer waarde wanneer jy ’n bydrae daarvoor lewer. Ons wil dit wel so bekostigbaar moontlik maak.

Wat wil ons bereik? Ons wil mense help om goeie, bruikbare items teen ’n bekostigbare donasie te kry, terwyl ons self tot ’n dieper besef kom van hoe geseënd ons is. Ons wil die groter gemeenskap betrek deur samewerking tussen die gemeentes, besighede en die plaaslike owerheid te bevorder.

Kyk gerus hierdie video, en pak hierdie week die kaste in jou huis reg.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Het jy al ooit gewonder of die son in die oggend gaan opkom nadat dit in die aand gesak het? Nee, ons is mos nie bekommerd daaroor nie, want ons weet die son kom elke dag weer op. Net so hoef ons nie bekommerd te wees of God vir ons gaan sorg nie. God sal elke dag vir ons sorg.

– Hoe kan jy sien dat God vir jou sorg?

– Hoe kan jy vir ander mense sorg?

Aktiwiteit

Wanneer jy vanaand in die bed lê, voordat jy aan die slaap raak, dink aan drie dinge: 

1. Waarvoor was jy vandag dankbaar?

2. Wat het jou vandag bekommerd gemaak?

3. Wat is die een ding wat jy môre gaan doen wat jou gelukkig gaan maak?

Verbeel jou ...

Kyk na hierdie week se illustrasie. 

Gesels met die mense in jou huis of met jou vriende oor WhatsApp oor die illustrasie.

– Wat val jou op?

– Let op na die dinge wat jy raaksien, maar ook na die dinge wat nie in die prentjie teenwoordig is nie.

– Wat sou jy graag wou bysit? 

– Hoe skakel hierdie illustrasie in by vandag se teks, en hoe nie? 

Skep jou eie interpretasie van vandag se illustrasie deur enige medium te gebruik: dans, fotografie, videografie, musiek, digkuns, teken, skilder, kortverhaal, en so meer. 

Neem dit op en deel dit met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.