Dag 41 – Is jy ’n “onveilige heilige”?
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Gebed vir die week
Begin jou dag met hierdie gebed.
Simbool: Skoen
Gebed
Here ons God, ons is reeds ’n hele paar weke bewus daarvan dat ons vryheid van beweging beperk is, en dat ons slegs vir noodsaaklikhede en onder streng omstandighede buite ons tuistes mag wees. Help ons onthou dat ’n beperking op liggaamlike beweging nie beteken ons is beperk in ons dissipelskap nie. Wys vir ons hoe en waar ons steeds kan wandel met die evangelie – die Goeie Nuus vir alle mense.
Ons bid vir elkeen wat in hierdie tyd noodsaaklike dienste verrig, en vir elke persoon wat die geleentheid het om te kan werk. Ons bid vir elke individu en elke familie wat geraak word deur werkloosheid en ’n verlies aan inkomste. Ons bid vir almal wat onseker voel en bang is oor wat die toekoms inhou.
Ons bid vir president Cyril Ramaphosa, vir alle ministers en vir regeringsleiers wat moet voor stap in hierdie tyd. Mag U vir hulle krag gee om onder geweldige druk goeie en deurdagte besluite te neem. Seën hulle families en geliefdes wat hulle ondersteun.
Dankie dat U nie van ons vergeet nie. Dankie dat U ons aanhou troos en bemoedig. Dankie dat U uit chaos en onsekerheid hoop kan skep.
Amen.
Oordenking
Lees hierdie teksuitleg vir die dag.
“Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” – Matteus 6:33-34.
Om God volledig met vandag te vertrou en om ons hande van môre af te haal, is nie noodwendig goeie nuus vir gelowiges wat daarop roem dat hulle in “die regte wêreld” leef nie.
As jy God met vandag én môre vertrou, moet dit kan lei tot ’n radikaal nuwe leefstyl wat buite beheer is, in tradisionele kerklike terme. Dit moet lei tot “onveilige heiliges” wat nie inpas in netjies ontwerpte, voorspelbare, geykte kerklike boksies nie.
Christene wat regtig een dag op ’n slag leef, volg “the barbarian way”, soos Erwin McManus dit beskryf in sy fantastiese boek met dieselfde titel. Dit is mense wat roekeloos, passievol en energiek leef. Vir “Christelike barbare” is daar nie nog tyd om te talm tot môre nie. Hulle het ’n diep ingeboude dringendheid in hulle. Hulle moet vandag anders opstaan, leef, praat, dink, droom, bid, sing, werk, speel, lag, ontspan, getuig, oefen, stap, ry, bel, op die internet werk, wag, kuier, groet, totsiens sê, slaap!
“Christelike barbare” het nie die luukse om by ’n klaagmuur te sit en wag op toekomstige kerklike oplossings wat blykbaar sal aanbreek wanneer daardie groot herlewing eendag van iewers af op die horison arriveer nie. Vandag is presies die regte dag vir groot dinge, vir leef! Vandag is die énigste dag. Vandag moet gelowiges buite die boks, nee, anderkant die boks, saam met God loop. Daar is net een vandag om dit te doen. En dis vandag! Môre is reeds ’n dag te laat.
Here, maak my bereid om onveilig te wees ter wille van my verhouding met U. Laat ek ’n Christelike barbaar word, wat elke dag met passie aangryp om saam met U te loop, ook daar buite my gemaksone. Ook vandag. Amen.
Geloofsvrae
Het God ook geëmigreer?
Eers was dit die “brain drain”; nou, lyk dit my, is dit die “spiritual drain”. Dit lyk of al wat ’n geestelike leier, aanbiddingsleier en kerklike werker is die pad vat.
Die vraag is: Is God dalk saam met hulle landuit? Is God weg? Het Hy ook geëmigreer?
Soms voel dit so, veral wanneer jy aan die hemelse deure klop en alles bly op slot en grendel. Of jy bid en dit voel of jou gebede teen die plafon vasslaan. Dan voel jy dalk soos daardie Amerikaner wat op ’n keer by die beroemde Klaagmuur in Jerusalem gaan bid het. Toe ’n joernalis hom later vra hoe dit was, het hy droogweg geantwoord: “Well, it was like talking to a wall …”
As jy sulke gevoelens beleef, weet dit: Jy is nie alleen nie. Paulus skryf in Romeine 8 dat dit ons groot swakheid is: dat ons nie aldag weet hoe en wat om te bid nie. Soms voel dit asof daar byna geen geloof in ons hart oor is nie. Ons soek na die Here, maar ons loop ons net in nog méér moeilikheid vas.
Nee, om jou lewe as ’n gelowige te leef is nie ’n grap nie. Dis nie gelykpad nie. Dit kos moed, vasbyt, om stroomop te bly glo.
Hieroor is Paulus ook nie onduidelik nie. Hy skryf in Romeine 5 dat geloof is om teen alle hooploosheid in te bly hoop. Dis om te weet God is nie weg as hoop weg is nie. Of as die wind sterk van voor af waai nie. Of as almal landuit gaan nie.
Daar is geen hemel-“drain” in Suid-Afrika nie. Ook nie op enige ander plek op aarde nie. God is oral aanwesig. Hy is hier, en Hy is daar. Hy is die Here. Hy het nie van sy troon afstand gedoen nie.
Kom dan tot bedaring. Weet dat Hy die Here is. Kom tot rus aan sy voete. Wag geduldig op Hom. Leef een dag op ’n slag vir Hom. Dis oorgenoeg.
– Stephan Joubert
Liturgie van die Lewe
Maak jou kas skoon!
Hoekom? Eerstens is dit ’n teken van dankbaarheid vir die oorvloed wat jy ontvang het. Tweedens, om dan vanuit jou oorvloed te deel en ander mense wat in hierdie tyd baie minder het, te help. En, laastens, om te besef dat jy jou lewe kan vereenvoudig. Soos Elizabeth Ann Seton gesê het: “Live simply so that others may simply live.”
Hoe? Begin by jou klerekas. Kyk na alles wat jy het en kies 10 goeie, bruikbare items wat jy self nog gebruik, maar nie meer so gereeld gebruik nie of nie nodig het nie. Skenk dit vir ’n welsynprojek. As jy klaar deur jou klerekas gegaan het, gaan kyk na jou ander kaste. Is daar alledaagse gebruiksartikels wat jy vir ander mense kan gee, goed wat dalk nie in hierdie tyd vir hulle bekostigbaar gaan wees nie? In ons gemeenskap gaan ons al die items wat geskenk word, beskikbaar stel teen ’n donasie van R20 per item. Iets het meer waarde wanneer jy ’n bydrae daarvoor lewer. Ons wil dit wel so bekostigbaar moontlik maak.
Wat wil ons bereik? Ons wil mense help om goeie, bruikbare items teen ’n bekostigbare donasie te kry, terwyl ons self tot ’n dieper besef kom van hoe geseënd ons is. Ons wil die groter gemeenskap betrek deur samewerking tussen die gemeentes, besighede en die plaaslike owerheid te bevorder.
Kyk gerus hierdie video, en pak hierdie week die kaste in jou huis reg.
Kinderaktiwiteit
Pret vir jou en jou kinders.
Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Sê nou maar vandag is jou laaste 24 uur op aarde, wat sal jy alles doen? Ons hoef nie bekommerd te wees dat vandag dalk ons laaste dag sal wees nie. Tog moet ons elke dag voluit leef om Jesus se Naam te verheerlik. Ons moenie uitstel of wag tot môre nie.
Hoe kan jy vandag God se koninkryk sigbaar maak?
Is daar iets wat jy anders sou doen as jy kon weet vandag is jou laaste dag op aarde?
Aktiwiteit
Is daar dalk iets wat jy nou al lank uitstel of afstel? Dalk kan jy dit vandag doen.
Daar is 24 uur in elke dag. Dink aan 24 beskrywende woorde wat ons kan gebruik om Jesus te geskryf. Hier is solank twee voorbeelde: Redder en Koning.
Verbeel jou ...
Kyk na vandag se illustrasie.
– Wat sien jy alles raak?
– Watter kleure val jou op, en hoekom?
– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers?
Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie.
Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek.
Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies
Getuienisse
Slaaptydstorie
Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories.
Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.