Dag 46 – Die lewe op arendsvlerke
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Gebed vir die week
Begin jou dag met hierdie gebed.
Simbool: Notaboek
Gebed
Here God, Skepper van die heelal, ons bevind ons steeds in ’n tussenintyd. Ons besef al meer dat die lewe voor Covid-19 nooit weer sal wees nie; terselfdertyd weet ons nie hoe die lewe saam met en moontlik na Covid-19 sal lyk nie. Dit voel of ’n pause-knoppie gedruk is, terwyl ons steeds op die een of ander manier moet aanhou leef en ’n stukkie normaliteit en roetine moet probeer handhaaf.
Sommige van ons het groot drome en planne gehad vir hierdie jaar en vir die onmiddellike toekoms, Here, en dit is swaar om te weet dat dit vir eers uitgestel of aangepas moet word. Verjaarsdae, huweliksherdenkings, troues, familiebyeenkomste, kuiers saam met vriende, besoeke aan oupas en oumas is tans nie moontlik nie. Ons verlang na hulle vir wie ons lief is, vir wie ons so graag ’n drukkie wil gee, vir wie ons wil vashou en verseker dat ons omgee en nie van hulle vergeet het nie.
Oor hulle wat siek en in hospitale is, is ons bekommerd, Here. En dit is rouseer om in hierdie dae ’n geliefde te moet afstaan aan die dood, en nie omring te kan wees deur ’n omgee-gemeenskap nie. Ons harte is vol emosies, Here. Die onsekerheid maak ons soms opstandig, moeg, hartseer, kwaad en moedeloos.
Mag U, wat die groot Vertrooster is, ons herinner dat U naby aan elk van u kinders is, dat ons deur u Heilige Gees lewe inasem, en daardeur ook u troos ons eie kan maak. Wys vir ons dat en hoe ons steeds mag droom, steeds mag vashou aan die wete dat daar weer ’n tyd sal aanbreek wanneer ons gemeenskap met mekaar sal beleef.
Help ons, Here, om uit te reik na elkeen wat alleen voel in hierdie tyd. Mag ons verteenwoordigers wees van U, die lewende Here, wat deur onbeperkte genade omgee en liefhet, bo ons verstand.
Amen.
Oordenking
Lees hierdie teksuitleg vir die dag.
Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie – Jesaja 40:31.
Geestelik intelligente mense het altyd oorgenoeg tyd, ’n volle dag op ’n slag. Daarom kan hulle leef, werk en rus. Hulle is nie soos dié mense wat gedurig te min tyd het nie en hulle spog nie oor wie die besigste is nie. Hulle kry nie maagkrampe en spanningshoofpyne oor alles wat nog gedoen moet word nie. Hulle het daagliks die regte lewensritme.
Mense met God se tyd in hulle harte weet hoe om pas te hou. God gee immers hulle lewenspas aan.
Dit wat vir God saak maak, tel die meeste punte in hierdie mense se dagboek. Daarom laat hulle nie ’n enkele dag die son sak voordat hulle tasbaar omgegee het vir minstens een van God se gunstelingmense nie. Hulle skep geleenthede om iets vir onbelangrike mense te beteken, vir ’n arme, ’n verstoteling, ’n sieke. Dit maak hulle nie moeg, gespanne of gejaagd nie, want mense wat vanuit hulle passie leef, loop sonder om afgemat te raak. Hulle leef voluit, want die Here gee vir hulle krag. Hulle wil diensknegte wees vir net een persoon langs hulle. Dis meer as genoeg. Een dag op ’n slag, een mens op ’n keer – dis hulle leefritme. Om ander mense se lewe te verander is die Here se afdeling. Maar hulle wil graag daar wees waar die Here deur hulle sy veranderingswerk doen.
Peter Drucker vra ’n goeie vraag: “What can I and only I do that, if done well, will make a real difference?” Gebruik hierdie vraag as ’n leefriglyn, want dit sal bepaal of jy elke dag op die doeltreffendste manier tot God se eer gebruik. Staan elke dag jou tyd en energie af aan al die goeie dinge waarvoor die Here jou bestem het, soos Paulus in Efesiërs 2:10 sê.
Here, dankie dat U my elke dag met 24 uur seën. Wees U my pasaangeër sodat ek in pas met U kan leef, op arendsvlerke kan sweef sonder om moeg te word. Amen.
Geloofsvrae
My man het sy werk verloor. Hy sukkel al maande lank om weer werk te kry. Hoe ondersteun ek hom? Hoe help ek hom om nie hoop te verloor nie?
Soos ons nie sonder water kan leef nie, so kan ons ook nie sonder hoop leef nie. Hoop is die glasruit waardeur ons van binne ’n vertrek na buite kyk. Dit hoef nie eens ’n besonder groot ruit te wees nie; soms is dit bloot ’n spatsel lig wat deur ’n skrefie kom. Iets wat jou daaraan herinner dat daar lewe buite is.
Maar wanneer ’n mens begin glo dat jy nooit weer die son op jou gaan voel nie, word dit al hoe makliker om die donkerte ook na jou binneste toe te bring. Daarom is hooploosheid so gevaarlik.
Dis ook beter om, wanneer jy ’n tyd lank in die donkerte deurbring, iemand se hand te kan vashou. Daarom is hoop altyd ’n “saamwees”-belewenis. Gebruik dus alles moontlik tot jou beskikking om in hierdie tyd te leer wat saamwees beteken. Moedig jou man aan om ook ander gelowiges in sy vertroue te neem, sodat hy soveel moontlik hande het wat hom ondersteun.
Gebruik Bybelstories as “hande” wat vashou. Maak ’n studie van die Bybel – doen dit saam! – en vind stories vol hoop. Kyk hoe bepaalde Bybelkarakters gereageer het wanneer hulle sonder hoop was. Dink aan hoop as “agteruit onthou” sodat jy “vorentoe” kan glo. Dis moeilik om te glo as jy nie reeds ervaar het hoe God se getrouheid lyk nie. As jy nie self sulke stories het om te vertel nie, gaan soek in die Bybel. Jy sal heelwat daarvan vind.
Probeer vasstel: Wat het Jesus sy volgelinge oor donker tye en beproewings geleer? Watter “hoop”-riglyne het Paulus gegee aan die gemeentes wat swaarkry? (Gaan kyk gerus in die Romeinebrief.)
Moenie nét oor die moeilike tye praat nie. Al gaan dit tans broekskeur, is daar tog veel meer aan jul lewe as net hierdie slegte tyd. Praat met mekaar oor waaroor julle dankbaar is. En oor hoekom juis hierdie tyd ook goed is.
Ten slotte: Indien julle soms naby aan moed opgee kom, herinner mekaar gereeld daaraan dat hoop wel moontlik is, omdat God nooit moed opgee nie. Hy neem ons saam op sy arendsvlerke.
– Ronell Bezuidenhout
Liturgie van die Lewe
Hierdie week: Dink anders oor jou selfoonlaaier …
Ek bel my vrou nie baie nie. Nie omdat ek nie wil nie. Ek hoef nie. My kantoor en haar kantoor is 10 treë van mekaar af, in ons huis. Ons kry mekaar sommer in die gang as ons met mekaar wil praat. Sy verwag dus nie dat ek haar gaan bel nie. Maar so een keer in drie weke moet sy stad toe gaan vir vergaderings. Dan bel ek haar graag … As haar selfoon se battery nie pap is nie.
Dit het in die laaste klompie jare dikwels gebeur dat sy my laat weet het haar foon is amper pap en dat ek haar nou moet bel, anders gaan ek haar nie in die hande kry nie. Ek het haar al baie gespot oor dié pap selfoon en dan verwys na die verhaal wat Jesus vertel het van die 10 diensmeisies met hulle lampies. “Jou lampie is al weer leeg …” is ’n uitdrukking in ons huis wat na ’n pap selfoon verwys.
Maar wat was Jesus se bedoeling regtig met hierdie gelykenis wat Hy vertel het? Hier is ’n poging tot ’n moderne vertelling …
Stel jou voor jy het ’n tienermeisie in die huis. Sy en haar hoërskoolliefde is uitmekaargeruk deur die monster wat Lockdown genoem word. Die boyfriend bly op die rand van die Karoo en hulle het nie eintlik selfoonontvangs daar nie. Hy laat weet per SMS of posduif dat hy haar later die dag gaan bel. Sy sal sorg dat haar foon gelaai is. Sy sal dalk sommer ’n powerbank en ’n kragopwekker ook reël, net om seker te maak haar foon is reg vir hierdie oproep. Dit word laat en naderhand raak sy aan die slaap, maar toe daai oproep om 00:15 deurkom, is sy wakker en haar foon is gelaai en die vreugde in die huis is groot, want sy kon met haar geliefde praat.
Die punt van hierdie verhaal is dat ons met verwagting en hoop behoort te wag.
Ons moet tans ook met hoop en verwagting wag sodat ons reg sal wees vir dit wat sal volg. Dit is dieselfde soort wag wat Jesus se gelykenis van ons as gelowiges vra. Hierdie Covid-19-tyd kan ’n baie gepaste metafoor wees om ons te help dink oor die groot gebeurtenis waarvoor gelowiges wag: die wederkoms en die voleinding van die tyd. Ons moet regmaak vir wanneer dié nuwe tyd sal kom, al weet ons nie wanneer dit gaan wees nie. Ons moet ook só leef dat ons gereed is wanneer hierdie wêreld tot ’n einde kom.
Wat doen ons om gereed te wees? Ons lewe die opdrag van die Bybel uit. Ons lewe in liefde teenoor ander en onsself. Ons sorg vir ander mense. Ons help om dit wat stukkend is heel te maak. Ons oefen om te lief te hê in ons eie huise.
Skep hierdie week ’n nuwe gewoonte wanneer jy jou selfoon inprop om dit te laai. Herinner jouself aan die gelykenis van die 10 meisies wat Jesus vertel het en vra of jy vandag leef met hoop en verwagting vir die nuwe tyd wat kom. Die tyd ná Covid-19 én die tyd van God se volledige nuwe wêreld. Laai jou foon, maak jou lampie vol, want die wonderlike dag gaan aanbreek wanneer die oproep gaan deurkom.
Kinderaktiwiteit
Pret vir jou en jou kinders.
Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Ons elkeen het spesiale dinge wat ons goed kan doen. Die uitdaging is om daardie dinge só te doen dat dit ’n verskil in die wêreld kan maak. Ons kan dit egter nie op ons eie regkry nie, want ons sal moeg en lui word. Maar wanneer ons op God vertrou vir ons krag, en nie op onsself nie, gebeur iets spesiaals. Ons sal elke dag nuwe krag kry om ons spesiale ding te doen om ’n verskil in die wêreld te maak.
– Watter dinge kan jy baie goed doen?
– Hoe kan dit ’n verskil in die wêreld maak?
– Op watter maniere kan jy op God vertrou om vir jou krag te gee om hierdie dinge te doen?
Aktiwiteit
Vandag se Bybelvers vertel vir ons dat God vir ons krag sal gee wat soos arendsvlerke is wat nie moeg raak nie. Gaan vandag buitentoe of gaan sit by ’n venster. Sit ’n rukkie totdat jy ’n voëltjie sien. Hou fyn dop wat die voëltjie alles doen. Net soos God vir daardie voëltjie sorg, sorg God elke dag vir jou.
Verbeel jou ...
Kyk na vandag se illustrasie.
– Wat sien jy alles raak?
– Watter kleure val jou op, en hoekom?
– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers?
Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie.
Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek.
Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies
Getuienisse
Slaaptydstorie
Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories.
Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.