Dag 48 – Carpe Diem, selfs die chaos daarvan

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Notaboek

 

Gebed

Here God, Skepper van die heelal, ons bevind ons steeds in ’n tussenintyd. Ons besef al meer dat die lewe voor Covid-19 nooit weer sal wees nie; terselfdertyd weet ons nie hoe die lewe saam met en moontlik na Covid-19 sal lyk nie. Dit voel of ’n pause-knoppie gedruk is, terwyl ons steeds op die een of ander manier moet aanhou leef en ’n stukkie normaliteit en roetine moet probeer handhaaf.

 Sommige van ons het groot drome en planne gehad vir hierdie jaar en vir die onmiddellike toekoms, Here, en dit is swaar om te weet dat dit vir eers uitgestel of aangepas moet word. Verjaarsdae, huweliksherdenkings, troues, familiebyeenkomste, kuiers saam met vriende, besoeke aan oupas en oumas is tans nie moontlik nie. Ons verlang na hulle vir wie ons lief is, vir wie ons so graag ’n drukkie wil gee, vir wie ons wil vashou en verseker dat ons omgee en nie van hulle vergeet het nie.

Oor hulle wat siek en in hospitale is, is ons bekommerd, Here. En dit is rouseer om in hierdie dae ’n geliefde te moet afstaan aan die dood, en nie omring te kan wees deur ’n omgee-gemeenskap nie. Ons harte is vol emosies, Here. Die onsekerheid maak ons soms opstandig, moeg, hartseer, kwaad en moedeloos.

Mag U, wat die groot Vertrooster is, ons herinner dat U naby aan elk van u kinders is, dat ons deur u Heilige Gees lewe inasem, en daardeur ook u troos ons eie kan maak. Wys vir ons dat en hoe ons steeds mag droom, steeds mag vashou aan die wete dat daar weer ’n tyd sal aanbreek wanneer ons gemeenskap met mekaar sal beleef. 

Help ons, Here, om uit te reik na elkeen wat alleen voel in hierdie tyd. Mag ons verteenwoordigers wees van U, die lewende Here, wat deur onbeperkte genade omgee en liefhet, bo ons verstand.

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig – Genesis 1:1-3.

In rugby is daar ’n bekende “use it or lose it”-reël. Dit geld ook vir ons intelligensie. So sê die neurowetenskaplikes. As jy ophou om sekere breinfunksies te benut, kan jy later sommige van daardie vermoëns verloor. Geestelike intelligensie werk ook so – gebruik dit of verloor dit. 

Oefen daarom elke dag om een dag op ’n slag vir God te leef. Begin vandag. Dit gaan die res van die dag so anders maak. En môre ook, as God wil dat jy nog in daardie tydsone leef. Maar hier en nou moet jy die regte keuses maak sodat daar vir die mense naby aan jou ’n pad gebou word waarop hulle ook kan loop, ’n pad wat hulle duidelik kan sien. Los jou voetspore agter dié van die Rots, Jesus. Dan is daar vir ander ’n goeie lewenspad gebaan. Jy is dit aan hulle verskuldig.

Leef elke dag in die lig van God se prioriteite. Beplan sodat jy nie mislukking ’n metgesel op jou pad maak nie. Moenie onverskillig leef nie. Maar moet ook nie bang wees vir onsekerheid en chaos nie. Anders as al die mense wat toekomsgeoriënteerd leef, vir wie chaos so bedreigend is omdat dit die ordelikheid en roetine van die lewe omverwerp, moet jy juis floreer in chaos.

Hoekom? Want jy weet Jesus het gekom om Lig in donker te bring. Die Hebreeuse woord wat ons met “woes” vertaal, kan ook met “chaos” vertaal word. Chaos is God se gunsteling-werkterrein, nie veilige hawens nie. Daarom bedreig dit jou nie wanneer jy chaos rondom jou sien nie. Dis jou werkplek! Nou toe, gaan koop die tyd vandag behoorlik uit, uur vir uur!

Skepper-God, help my om in chaos en onsekerheid aan U vas te hou en dit as ’n geleentheid te sien waarin U my kan gebruik om lig in die donker te bring. Amen.

Geloofsvrae

Hoe beïnvloed ons Godsbeeld ons hantering van krisis, pyn en ontnugtering?

 

As gelowiges is dit doodnatuurlik dat ons dinge wat oor ons pad kom in God se lig wil verklaar. Ons probeer in die Bybel en deur hoe ons God verstaan, sin vind vir ons seer en swaarkry. Dis wel so dat ons dan by Godsbeelde kan vassteek wat eintlik vir ons van geen waarde in donker tye is nie.

Daar is wel die bekende beeld van God as Skepper, en die implikasies daarvan, wat ons juis in moeilike tye kan herbesoek. Die Bybel is vol verskillende metafore wat God se skeppingswerk uitbeeld. En God wat geskep het, is steeds besig om in sy skepping te werk. Hy is reeds besig om deur sy Heilige Gees te herskep. 

In Genesis 2 kom die werkwoord vorm voor wat op God as pottebakker dui, soos ons in Jesaja 64:8 lees: “U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm (letterlik: ‘U is die pottebakker’), ons almal is die werk van u hande.” Ons beleef dus die intieme gebaar en aksie waar die klei ’n verlenging van die pottebakker word.

In Psalm 139:13 vind ons God as wewer: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.” Die Engels lui “knit me together”, wat assosiasies met breiwerk oproep. 

En in Jesaja 42:14 word die nuwe hoop en toekoms vir die ballinge as ’n geboorteproses uitgebeeld: “Nou skree Ek soos ’n vrou wat ’n kind in die wêreld bring.”

Al hierdie metafore kan ons help wanneer ons krisisse en wanhoop beleef, want die skep van nuwe moontlikhede, die vorm en weef van hoop uit wanhoop, lê aan die aard van God se redding. In die klei en die weefdrade word ook die slegte en die donkerte gevoeg. Jan Richardson skryf in haar boek In the sanctuary of women hierdie aangrypende seëning: “From all that is broken, let there be beauty, from what is torn, jagged, ripped, frayed, let there be not just mendings but meetings unimagined. May the God in whom nothing is wasted gather every

scrap, every shred and shard and make of them new paths, doorways, worlds.”

– Lisel Joubert

Liturgie van die Lewe

Hierdie week: Dink anders oor jou selfoonlaaier …

 

Ek bel my vrou nie baie nie. Nie omdat ek nie wil nie. Ek hoef nie. My kantoor en haar kantoor is 10 treë van mekaar af, in ons huis. Ons kry mekaar sommer in die gang as ons met mekaar wil praat. Sy verwag dus nie dat ek haar gaan bel nie. Maar so een keer in drie weke moet sy stad toe gaan vir vergaderings. Dan bel ek haar graag … As haar selfoon se battery nie pap is nie. 

Dit het in die laaste klompie jare dikwels gebeur dat sy my laat weet het haar foon is amper pap en dat ek haar nou moet bel, anders gaan ek haar nie in die hande kry nie. Ek het haar al baie gespot oor dié pap selfoon en dan verwys na die verhaal wat Jesus vertel het van die 10 diensmeisies met hulle lampies. “Jou lampie is al weer leeg …” is ’n uitdrukking in ons huis wat na ’n pap selfoon verwys. 

Maar wat was Jesus se bedoeling regtig met hierdie gelykenis wat Hy vertel het? Hier is ’n poging tot ’n moderne vertelling … 

Stel jou voor jy het ’n tienermeisie in die huis. Sy en haar hoërskoolliefde is uitmekaargeruk deur die monster wat Lockdown genoem word. Die boyfriend bly op die rand van die Karoo en hulle het nie eintlik selfoonontvangs daar nie. Hy laat weet per SMS of posduif dat hy haar later die dag gaan bel. Sy sal sorg dat haar foon gelaai is. Sy sal dalk sommer ’n powerbank en ’n kragopwekker ook reël, net om seker te maak haar foon is reg vir hierdie oproep. Dit word laat en naderhand raak sy aan die slaap, maar toe daai oproep om 00:15 deurkom, is sy wakker en haar foon is gelaai en die vreugde in die huis is groot, want sy kon met haar geliefde praat.

Die punt van hierdie verhaal is dat ons met verwagting en hoop behoort te wag.

Ons moet tans ook met hoop en verwagting wag sodat ons reg sal wees vir dit wat sal volg. Dit is dieselfde soort wag wat Jesus se gelykenis van ons as gelowiges vra. Hierdie Covid-19-tyd kan ’n baie gepaste metafoor wees om ons te help dink oor die groot gebeurtenis waarvoor gelowiges wag: die wederkoms en die voleinding van die tyd. Ons moet regmaak vir wanneer dié nuwe tyd sal kom, al weet ons nie wanneer dit gaan wees nie. Ons moet ook só leef dat ons gereed is wanneer hierdie wêreld tot ’n einde kom. 

Wat doen ons om gereed te wees? Ons lewe die opdrag van die Bybel uit. Ons lewe in liefde teenoor ander en onsself. Ons sorg vir ander mense. Ons help om dit wat stukkend is heel te maak. Ons oefen om te lief te hê in ons eie huise.

Skep hierdie week ’n nuwe gewoonte wanneer jy jou selfoon inprop om dit te laai. Herinner jouself aan die gelykenis van die 10 meisies wat Jesus vertel het en vra of jy vandag leef met hoop en verwagting vir die nuwe tyd wat kom. Die tyd ná Covid-19 én die tyd van God se volledige nuwe wêreld. Laai jou foon, maak jou lampie vol, want die wonderlike dag gaan aanbreek wanneer die oproep gaan deurkom.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Party mense is bang vir die donker. Dalk is jy een van hulle. Eintlik is ’n mens nie bang vir die donker nie; jy is bang vir die onsekerheid, want jy weet nie wat in die donker gebeur nie. 

Aan die begin was die aarde donker en deurmekaar, maar God het ander planne vir die aarde gehad. Een van die eerste dinge wat God gedoen het, was om lig te bring. Hierdie lig jaag die duisternis weg, sodat ons nie meer bang hoef te wees nie. In die Bybel lees ons ook dat ons Jesus se lig moet laat skyn om die duisternis weg te jaag. Jesus se lig maak nie lig soos ’n flits nie; Jesus se lig jaag alles wat bang maak weg. 

Kom ons laat skyn Jesus se lig.

– Wat dink jy beteken dit dat ons Jesus se lig vir ander mense moet laat skyn?

– Wat kan ons doen om Jesus se lig te laat skyn?

Aktiwiteit


Sit vanaand in jou kamer met die lig af en skakel net ’n flits aan. Skyn die flits in die kamer rond. Wanneer die ligstraal op iets val, bid en sê vir God dankie vir daardie voorwerp en waaraan dit jou laat dink. Hier is ’n voorbeeld: As jou flits op jou venster skyn, kan jy dankie sê vir die natuur.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.