Dag 54 – Is jy toekoms-georiënteerd of hede-georiënteerd?

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Wolk

 

Heilige God Drie-enig, in hierdie dae vier ons die hemelvaart van ons Here Jesus Christus – daardie vreemde gebeurtenis wat op die oog af ’n afskeidsgeleentheid was. Ons word daaraan herinner dat die opstanding van Jesus Christus die begin van ’n nuwe werklikheid aangekondig het: U is waarlik die vredevolle Koning wat tot in ewigheid op aarde en in die hemel regeer.

Wys vir ons, Here, hoe ons in hierdie tyd steeds kan glo en verkondig dat U waarlik oor alles en oor almal heers. Verruil ons vrees vir vertroue, Here, sodat ons te midde van al die onsekerheid steeds bouers van u koninkryk hier op aarde kan wees.

Herinner ons dat ons, deur die krag van die Heilige Gees, deel is van die storie wat U aanhou skryf met u skepping.

Vertroos ons met die wete dat U ons nie as weeskinders hier agtergelaat het nie, maar dat u Voorspraak vir ewig by ons is – en dat U inderdaad sal terugkeer (Joh 14:16-18).

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie – Spreuke 27:1.

Daar is ’n reuseverskil tussen toekoms-georiënteerde mense en hede-georiënteerde mense.

Mense wat vir môre leef, stel die betekenis van die lewe gedurig daarheen uit. Vreugde en geluk wag altyd om die draai vir hulle, nooit hier nie. Hulle is nie gerat vir vandag nie. Hulle is veels te besig om teen 180 km/h vir die toekoms te beplan. Hulle leef so skrikwekkend vinnig om vandag agter die rug te kry sodat die toekoms iewers vorentoe kan aanbreek.

Hulle probeer so hard om vir die toekoms voorsiening te maak dat hulle nie weet wat vandag met hulle vriende en familie gebeur nie. Hulle onsekerhede oor môre steel hulle blydskap oor vandag. Toekomsgedrewe mense sien die lewe as ’n lang, uitgestrekte pad. Daar is nie ’n dringendheid in hulle om vandag te leef asof elke sekonde tel nie, want “môre is nog ’n dag”.

Mense wat vir vandag leef, is soos kortafstandatlete. Hulle hardloop die lewe voluit. Hulle suig die murg uit elke vandag omdat elke nuwe dag onherhaalbaar, nuut en vars is. Dit is nie maar net nog ’n doodgewone dag nie. Hulle weet dat elke vandag presies die regte dag is om ’n verskil te ervaar en ’n verskil te maak. Vandag-mense beskou vandag as spesiaal omdat God dit gemaak het.

Vandag-mense het korttermyn- eerder as langtermyn-doelwitte. Hulle beleef elke dag as ’n volledige stukkie lewe, nie as ’n punt onderweg na ’n onbepaalde môre nie. Hulle bereik hulle doelwitte gouer en ook doeltreffender, want hulle jaag nie die hele tyd agter onbereikbare ideale aan nie. Hulle sien die horison hier naby aan hulle en hulle leef rustig, maar baie gefokus, op pad daarheen. Hulle leef nie gejaagd nie, maar teen God se een-dag-op-’n-slag-spoed. Hulle ervaar ’n dringendheid in hulle omdat vandag so baie saak maak.

Vandag-mense wag nie vir die dag van môre om God se hand aan die werk te sien nie. Hulle rig hulle oë op God se wonderwerke en sy versorging hier en nou.

Here, help my om met die regte balans te leef sodat ek nie van vandag sal steel omdat ek te veel op môre fokus nie. Ek wil elke dag leef in die hede as ’n geskenk uit u hand. Amen.

Geloofsvrae

Ek wou hierdie jaar so graag minder gejaagd geleef het, en met minder spanning. Maar ek is reeds in ’n maalkolk vasgevang en ek voel hoe dit my al hoe dieper insuig. My baie verpligtinge het tot gevolg dat ek nie eens tyd kry vir my verhouding met die Here nie.

Bloot die gevoel dat jou wiele wil afval, is genoeg om jou erg gespanne te maak. En ons almal ken dit. Hier is ’n klompie praktiese dinge wat jy gerus kan probeer:

– As jy goed beplan, is jy reeds ’n stappie vooruit. Dan voel jy minder ingetrek in die omstandighede wat die lewe vir jou opdis. 

– As jy jou beplanning met jou kinders se aktiwiteite koördineer, maak seker jy sê genoeg kere “nee!” vir allerlei funksies of besoeke of kuiers sodat jy en jou mense minstens een keer per maand ’n naweek vir gehaltetyd kan opsy sit. Maak hierdie goeie tye dan maklik, met min moeite. Kamp sommer in die tuin! Dis groot pret, en dis gratis.

– Pak gereeld jou kaste reg – en gee maklik weg! Dit laat jou sommer dadelik ligter voel.

– Verminder, en verskerp jou fokus. Soms kan jy nie anders as om ’n klomp dinge op ’n slag te doen nie. Maar weet tog dat dít die grondslag van jou oorlaai-gevoel vorm. Doen liewers minder, en met meer fokus.

– Wees dáár wanneer jy na jou kind se storie luister of saam met ’n geliefde koffie drink. Om jou gedagtes na ander take te laat dwaal, bring spanning. En dit steel tyd by jou en by die persoon by wie jy is.

– Maak ’n gereelde afspraak vir tyd saam met God. Hy is die fondament waarop al die ander dinge gebou word. As jy elke oggend en/of aand by sy voete gaan sit om wysheid en krag te ontvang, gaan niks jou sommer oorweldig nie. En moenie die belangrikheid onderskat van die kort gesprekke wat jy deur die loop van die dag met Hom het nie.

Halrika Breytenbach

Liturgie van die Lewe

’n Tyd om dankbaar te wees …

 

In ’n tyd waarin baie mense hulle frustrasies oor wat hulle nie kan kry of koop nie op sosiale media verwoord, is dit dalk ’n goeie tyd om te dink oor alles waarvoor ons dankbaar kán wees. Alles wat ons het, alles, kom uit God se hand. Dit is God wat ons seën met die lewe en dan ook met die middele wat die lewe moontlik maak. God seën ons met al die elemente wat die lewe die moeite werd maak, soos verhoudings en die gawe van die natuur. Gebruik hierdie week jou vyf sintuie om jou te help om opnuut bewus te raak van al die gawes en om werklik dankbaar te wees vir dit waarmee God jou seën.

– Luister na die voëls in die tuin, na musiek, na die klank van trekkers wat werk op die plaas. Wat hoor jy wat jou met dankbaarheid vul?

– Ruik vroegoggend die vars lug, die kos wat julle in julle huis maak. Wees dankbaar dat julle nog kos het om te eet.

– Proe die kos wat jy het om te eet. Besef dat God vir jou die geleentheid gee om te werk sodat jy kan eet, sodat jy sy koninkryk kan help bou. 

– Raak aan die grond buite in die tuin, in die land of in die boord. Raak aan ’n troeteldier of aan die hand van jou kinders, jou ouers, jou lewensmaat. Hoe voel hierdie seën? Hoe reageer jou hond, kat of perd wanneer jy met liefde en dankbaarheid hulle ore krap?

– Sien alles rondom jou raak. Alles wat jy besit, jou kinders, die skoonheid van die streek waar jy woon en werk. Sien hoe God jou te midde van baie moeilike omstandighede steeds seën en vir jou en die wêreld sorg. Dank God!

Skryf alles wat jy hierdie week ervaar het neer. Skryf ’n dankbaarheidsbrief of ’n lofpsalm en sit dit in jou Bybel of deel dit selfs op sosiale media om jouself en ander te herinner waarvoor ons alles werklik dankbaar kan wees. 

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Sit jy soms en droom oor die toekoms? Maak jy planne vir hoe dinge kan gebeur, en dan gebeur dit dikwels nie so nie? Vandag se vers uit Spreuke herinner ons dat ons nie so baie moet sit en droom en dink aan die toekoms dat ons van vandag vergeet nie. Dit is goed om te beplan en vooruit te dink, maar ons fokus moet op vandag wees sodat ons die dinge van vandag nie misloop nie.

– Wat maak jou opgewonde oor vandag?

– Dink aan drie dinge wat vandag spesiaal maak en waarvoor jy vir God kan dankie sê.

Aktiwiteit

 

Maak ’n lys (op papier of in jou kop) van dinge wat nét vandag kan gebeur. Daar is baie dinge wat elke dag gebeur, maar hoe dit gebeur, is elke keer uniek. Maak dan tyd om spesiaal na daardie dinge te kyk en vir God dankie te sê daarvoor. Hier is voorbeelde:

– Kyk na die son wanneer dit opkom.

– Kyk na die vorm van die wolke.

– Kyk na die goggas wat in die tuin loop.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.