Dag 55 – Leef sorgvry met avontuur

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Wolk

 

Heilige God Drie-enig, in hierdie dae vier ons die hemelvaart van ons Here Jesus Christus – daardie vreemde gebeurtenis wat op die oog af ’n afskeidsgeleentheid was. Ons word daaraan herinner dat die opstanding van Jesus Christus die begin van ’n nuwe werklikheid aangekondig het: U is waarlik die vredevolle Koning wat tot in ewigheid op aarde en in die hemel regeer.

Wys vir ons, Here, hoe ons in hierdie tyd steeds kan glo en verkondig dat U waarlik oor alles en oor almal heers. Verruil ons vrees vir vertroue, Here, sodat ons te midde van al die onsekerheid steeds bouers van u koninkryk hier op aarde kan wees.

Herinner ons dat ons, deur die krag van die Heilige Gees, deel is van die storie wat U aanhou skryf met u skepping.

Vertroos ons met die wete dat U ons nie as weeskinders hier agtergelaat het nie, maar dat u Voorspraak vir ewig by ons is – en dat U inderdaad sal terugkeer (Joh 14:16-18).

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot … Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons” – Numeri 13:27-31.

Een van die kenmerke van menswees is ’n soeke na sekerheid. Kyk na die Israeliete in Numeri 13. Toe hulle honger en onseker oor die toekoms in die woestyn rondgedwaal het, was hulle angsbevange oor die verspieders se verslag oor die Beloofde Land. Tien van die twaalf het vertel dit is onmoontlik om die land in te neem. Net Josua en Kaleb het verby menslike beperkings gekyk en God se hand vandag reeds en môre ook raakgesien. Hulle was bang, maar nogtans oortuig dat hulle die avontuur moes aandurf om saam met die Here te stap.

As Moses daardie dag ’n demokratiese stemming gehou het om almal gelukkig te probeer maak, sou die Israeliete net daar omgedraai en teruggekeer het na die bekende – die slawerny in Egipte. Tog het Moses en sy twee verspieders, dié twee wat die waagmoedige minderheidsverslag saamgestel het, stroomop gekies vir God se pad. Hulle wou nie die mense tevrede stel nie, maar vir God.

Om só te leef vra guts. Dit kos baie moed om afstand te doen van menslike sekerhede. Die meeste mense is vasgevang in bekommernisse en angs oor môre. Hulle leef nie waagmoedig nie, maar skuil in veilige hawens. Jesus loop egter na die storm toe, na die oop see toe.

Om vir vandag saam met Jesus te leef vra ’n nuwe manier van leef van ons, ’n sorgvrye manier leef. Kyk die Here elke dag in die oë en vertrou Hom vir vandag se brood. Raak opgewonde oor die klein dingetjies van die lewe. Leef eenvoudig. Lag uitbundig. Wees tevrede. Luister na die skepping se musiek. Deel met ander wat jy het.

Probeer gerus een van hierdie sorgvrye lewensritmes vandag. Is dít nie die lewe wat jy vir jouself wil hê nie?

Vader, help my om my soeke na menslike sekerhede neer te lê sodat ek sorgvry ’n lewe van avontuur saam met U kan beleef. Amen. 

Geloofsvrae

Waar is God as daar goeie dinge gebeur?


Waar is God as dit goed gaan? Wat ’n vreemde vraag …

Niemand vra so iets nie. Almal wonder net waar die Here is wanneer dit sleg gaan. Op die plek is Hy in die spervuur en almal wil weet: Hoekom laat Hy dit toe; hoekom het Hy nie ingegryp nie; is Hy regtig ’n God van liefde?

Maar as dinge voor die wind gaan, kry God nie sommer die krediet hiervoor nie. Dan is dit ons goeie geluk.

Wanneer goeie dinge gebeur, sê ons: Wees dankbaar! Tel jou seëninge.

Maar niemand kom eintlik sover om dit te doen nie. Toe iemand onlangs weer vir my sê ons moet ons seëninge tel, vra ek hom waar staan sy eie telbord tans wat die Here se seëninge betref. Hy het net gelag.

Die waarheid is dat alle goeie gawes in ons lewe van die Here af kom. Só leer Jakobus 1 ons. God is ons Vader in die hemel wat ons met seëninge oorlaai. Hy spesialiseer in “lewe in oorvloed”. Hy is ryk in genade. Aan sy liefde en trou is daar geen einde nie.

God is regtig goed. Elke dag deel Hy sy goedheid ruim met al sy kinders. Hy sorg vir ons daaglikse brood. Hy maak seker dat niks ons van sy liefde skei nie. Christus is by ons, al die dae, tot aan die einde. En die Heilige Gees is ons voltydse Trooster.

Dit alles klink vir my na voltydse goeie nuus. Én na voltydse goed-gaan-nuus.

Waar ís God dan as dit goed gaan?

Presies waar Hy nog altyd was: op sy hemelse troon, en ook hier by ons. Ons is voltydse geseëndes, want Christus is ons Heer. Selfs wanneer ons deur die een of ander donker vallei loop, is ons nie alleen nie. Swaarkry ruk ons nooit uit ons hemelse Vader se hand nie.

Dis nie asof God sy rug vir ons draai wanneer ons slegte tye beleef nie. Nooit, maar nooit leef ons alleen nie. Dít is goeie nuus.

– Stephan Joubert

Liturgie van die Lewe

’n Tyd om dankbaar te wees …

 

In ’n tyd waarin baie mense hulle frustrasies oor wat hulle nie kan kry of koop nie op sosiale media verwoord, is dit dalk ’n goeie tyd om te dink oor alles waarvoor ons dankbaar kán wees. Alles wat ons het, alles, kom uit God se hand. Dit is God wat ons seën met die lewe en dan ook met die middele wat die lewe moontlik maak. God seën ons met al die elemente wat die lewe die moeite werd maak, soos verhoudings en die gawe van die natuur. Gebruik hierdie week jou vyf sintuie om jou te help om opnuut bewus te raak van al die gawes en om werklik dankbaar te wees vir dit waarmee God jou seën.

Luister na die voëls in die tuin, na musiek, na die klank van trekkers wat werk op die plaas. Wat hoor jy wat jou met dankbaarheid vul?

Ruik vroegoggend die vars lug, die kos wat julle in julle huis maak. Wees dankbaar dat julle nog kos het om te eet.

Proe die kos wat jy het om te eet. Besef dat God vir jou die geleentheid gee om te werk sodat jy kan eet, sodat jy sy koninkryk kan help bou. 

Raak aan die grond buite in die tuin, in die land of in die boord. Raak aan ’n troeteldier of aan die hand van jou kinders, jou ouers, jou lewensmaat. Hoe voel hierdie seën? Hoe reageer jou hond, kat of perd wanneer jy met liefde en dankbaarheid hulle ore krap?

Sien alles rondom jou raak. Alles wat jy besit, jou kinders, die skoonheid van die streek waar jy woon en werk. Sien hoe God jou te midde van baie moeilike omstandighede steeds seën en vir jou en die wêreld sorg. Dank God!

Skryf alles wat jy hierdie week ervaar het neer. Skryf ’n dankbaarheidsbrief of ’n lofpsalm en sit dit in jou Bybel of deel dit selfs op sosiale media om jouself en ander te herinner waarvoor ons alles werklik dankbaar kan wees. 

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Daar is ’n speletjie met die naam “Truth and dare”. Hierdie speletjie werk so dat jy tussen “truth” en “dare” moet kies wanneer jy ’n vraag beantwoord. Wanneer jy “truth” kies, moet jy ’n vraag eerlik antwoord; wanneer jy “dare” kies, moet jy iets waaghalsig gaan doen. Albei hierdie uitdagings kos guts. Maar dis nie net sulke speletjies wat vra dat jy guts sal hê nie. Dikwels neem die lewe jou na situasies waar jy ook met guts moet optree. Gelukkig hoef ons nie op ons eie guts staat te maak nie, want God is altyd by ons om ons te help en ons daardie ekstra bietjie guts te gee.

– Lees vandag se Bybelvers. Hoe sou jy gevoel het as jy in die Israeliete se skoene was?

– Wat dink jy het vir hulle die guts gegee om regte besluit te neem?

Aktiwiteit


Hoe baie guts het jy? Dink aan ’n paar uitdagings wat guts sal kos om te doen. Hier is voorbeelde: om iets te eet wat jou mond gaan brand, om ’n ysblokkie 30 sekondes in jou hand vas te hou. Wees net versigtig om nie iets te doen wat jou of iemand anders kan seermaak nie.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.