Dag 56 – Daar is nie verlore kanse nie, net verlore dae

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Wolk

 

Heilige God Drie-enig, in hierdie dae vier ons die hemelvaart van ons Here Jesus Christus – daardie vreemde gebeurtenis wat op die oog af ’n afskeidsgeleentheid was. Ons word daaraan herinner dat die opstanding van Jesus Christus die begin van ’n nuwe werklikheid aangekondig het: U is waarlik die vredevolle Koning wat tot in ewigheid op aarde en in die hemel regeer.

Wys vir ons, Here, hoe ons in hierdie tyd steeds kan glo en verkondig dat U waarlik oor alles en oor almal heers. Verruil ons vrees vir vertroue, Here, sodat ons te midde van al die onsekerheid steeds bouers van u koninkryk hier op aarde kan wees.

Herinner ons dat ons, deur die krag van die Heilige Gees, deel is van die storie wat U aanhou skryf met u skepping.

Vertroos ons met die wete dat U ons nie as weeskinders hier agtergelaat het nie, maar dat u Voorspraak vir ewig by ons is – en dat U inderdaad sal terugkeer (Joh 14:16-18).

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” – Lukas 10:40-42.

Frank Sinatra sing: “I did it my way.” Ek wil graag sing: “I did it God’s way.”

Moenie uitstel om vandag saam met die Here op sy pad te leef nie. Moenie die fout maak wat Marta gemaak het toe Jesus by hulle huis kom kuier het nie. Pleks dat sy, soos haar suster Maria, alles net so laat staan en dadelik aan sy voete gaan sit het, het Marta rondgeskarrel om die kos vir al die gaste reg te kry. Boonop was sy vies omdat haar suster aan Jesus se voete gaan sit het terwyl sy alleen moes kos maak. Gelukkig het Jesus haar vinnig reggehelp. Hy het vir haar gesê Maria het juis die regte deel gekies, wat nooit weer van haar af weggevat sou kon word nie.

Maria het reg gekies – vir Jesus. Sy het op die regte plek gaan sit – aan Jesus se voete. Sy het dit boonop betyds gedoen – sommer daar en dan. Die uitkoms? Die nuwe lewe, vir altyd. Daardie dag was Maria se beste dag ooit. Dit alles het begin met ’n besoek van Jesus wat sy nie deur haar vingers laat glip het nie.

Moenie saam met Marta rondskarrel wanneer Jesus kom kuier nie. Laat staan alles waarmee jy besig is, want jy weet nie of jy hierdie voorreg ooit weer sal beleef nie. Goddelike dae soos hierdie kruis jou pad nie aldag nie. Dae kom en gaan; kanse, dié is daar baie. Maar Goddelike dae, hulle kom net een dag op ’n slag.

Wis jou verlore dae vandag uit jou geheue, want van hulle is daar meer as genoeg op jou kerfstok. Begin deur van vandag af elke nuwe dag wat jy gratis en uit genade ontvang op die regte manier te beleef. Moenie vandag ook nog vermors nie. Leef dit deur Jesus as die eregas in jou lewe te verwelkom. En gaan sit aan sy voete om te luister.

Here, bewaar my daarvan om so besig te raak met goeie dinge, soos Marta met haar gasvryheid, dat ek die beste in die lewe mis – om by u voete te sit. Amen.

Geloofsvrae

Wat beteken Hemelvaartdag vir speel en spanning?


Hemelvaartdag geniet nie dieselfde “status” in die kerklike jaar as, byvoorbeeld, Kersdag, Goeie Vrydag en Paassondag nie. Dis asof gelowiges dit nie ewe belangrik as die ander ag nie.

Tog is Hemelvaartdag ryk aan betekenis en troos. Hier bely gelowiges dat Jesus nou aan God die Vader se regterhand is. Dink maar aan Paulus se woorde in Kolossense 3:1: “Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.”

As jy die gebruik van “regterhand” in die Bybel nagaan, kom jy gou agter dat dit in die meeste gevalle met God se krag te doen het, met sy kragtige beskerming en kragtige versorging. Dis die aanduiding van ’n magsposisie. Hy is in beheer.

Hoor ook hier:

– “Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit” (Luk 22:69).

– “Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit” (Heb 10:12).

Dis van Hom wat ons in die Twaalf Artikels van die Christelike geloof bely: “Ek glo in Jesus Christus … wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader …”

Voor Hom en in sy teenwoordigheid leef ons, speel ons en stres ons. Dis deel van ons troos dat ons in lewe en in dood nie aan onsself behoort nie, maar aan ons getroue Saligmaker (Heidelbergse Kategismus, Vraag en Antwoord 1).

Sal ons dan nie in sy teenwoordigheid speel – én dit geniet nie?

En sal ons dan nie, wanneer ons gespanne en vol stres is, uit sy teenwoordigheid moed skep en troos put nie?

Ons is immers nooit alleen nie. Die magtige Here, die regterhand-Here, is deur sy Gees in en by ons.

Malan Nel

Liturgie van die Lewe

’n Tyd om dankbaar te wees …

 

In ’n tyd waarin baie mense hulle frustrasies oor wat hulle nie kan kry of koop nie op sosiale media verwoord, is dit dalk ’n goeie tyd om te dink oor alles waarvoor ons dankbaar kán wees. Alles wat ons het, alles, kom uit God se hand. Dit is God wat ons seën met die lewe en dan ook met die middele wat die lewe moontlik maak. God seën ons met al die elemente wat die lewe die moeite werd maak, soos verhoudings en die gawe van die natuur. Gebruik hierdie week jou vyf sintuie om jou te help om opnuut bewus te raak van al die gawes en om werklik dankbaar te wees vir dit waarmee God jou seën.

– Luister na die voëls in die tuin, na musiek, na die klank van trekkers wat werk op die plaas. Wat hoor jy wat jou met dankbaarheid vul?

– Ruik vroegoggend die vars lug, die kos wat julle in julle huis maak. Wees dankbaar dat julle nog kos het om te eet.

– Proe die kos wat jy het om te eet. Besef dat God vir jou die geleentheid gee om te werk sodat jy kan eet, sodat jy sy koninkryk kan help bou. 

– Raak aan die grond buite in die tuin, in die land of in die boord. Raak aan ’n troeteldier of aan die hand van jou kinders, jou ouers, jou lewensmaat. Hoe voel hierdie seën? Hoe reageer jou hond, kat of perd wanneer jy met liefde en dankbaarheid hulle ore krap?

– Sien alles rondom jou raak. Alles wat jy besit, jou kinders, die skoonheid van die streek waar jy woon en werk. Sien hoe God jou te midde van baie moeilike omstandighede steeds seën en vir jou en die wêreld sorg. Dank God!

Skryf alles wat jy hierdie week ervaar het neer. Skryf ’n dankbaarheidsbrief of ’n lofpsalm en sit dit in jou Bybel of deel dit selfs op sosiale media om jouself en ander te herinner waarvoor ons alles werklik dankbaar kan wees. 

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Klink hierdie woorde bekend? 

“Ek sal dit nou-nou doen!” 

“Nee, doen dit NOU!” 

Nou-nou is een van daardie gevaarlike woorde wat ons gebruik as ons dink dit wat ons nou eerder wil doen, is belangriker as wat ons nou moet doen. Gewoonlik maak dit nie so erg saak nie, maar sommige dinge is wel belangriker. Die probleem is dat nou-nou ’n gewoonte raak, en dan mis ons dinge wat nou moet gebeur. Soms sê ons ook vir God “nou-nou”, maar God vra dat ons altyd reg sal wees om NOU tyd en aandag aan Hom te gee.

– Hoe maak jy seker jy maak elke dag spesiale tyd om alleen by God te wees?

– Watter gewoontes kan jy aanleer om God deel van jou hele lewe te maak?

Aktiwiteit

Probeer vandag oefen om die hele tyd by God te wees en met Hom oor alles te praat. Dink jy soms hardop in jou kop oor iets? Eintlik praat ons die hele tyd met onsself in ons kop. Probeer vandag met God gesels, in plaas van met jouself, elke keer wanneer jy oor iets moet nadink of ‘n besluit moet neem.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.