Dag 58 – Wees radikaal!

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Duif

 

Gees van God, met Pinkster vier ons die besonderse uitstorting van u teenwoordigheid in die wêreld: ’n geleentheid wat ons die geboorte van die kerk noem. Deur hierdie lewensveranderende gebeurtenis het U dit moontlik gemaak vir elkeen wat glo om dit te kan bely en om te kan vertel dat Jesus die Here is.

Ons bely dat ons dikwels nalaat om die werk van die Heilige Gees raak te sien of te erken, en dat ons ons soms doelbewus daarteen verset. Ons wil ons eie leiding volg, eerder as om op u leiding te vertrou. Ons maak ons eie planne, eerder as om u planne uit te voer. Ons verkies die bekende van gerief, eerder as om ons oor te gee aan die avontuur van u aanmoediging.

Wys vir ons, genadige God, waar ons beter kan luister, meer kan raaksien, versigtiger kan aanvoel – sodat ons kan leef in die ritme van die Gees se asemhaling. Waai ons na waar U wil, o Here, sodat ons getrou sal wees aan die roeping om te vertel: daardie vertel wat die Goeie Nuus plant oral waar ons gaan, sodat elke tong uiteindelik sal bely dat U die Koning van die skepping is.

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Daar kom toe mense wat ’n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle ’n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!” – Markus 2:3-5.

Ons kan so baie uit hierdie verhaal in Markus 2 leer. Die verlamde man se vriende het besef Goddelike kanse moet dadelik aangegryp word. Daarom het hulle Petrus se woonhuis se dak oopgebreek om hulle verlamde vriend tot voor Jesus se voete te laat afsak. Praat van radikaal! Maar môre sou Jesus dalk weg wees, en dan het hulle hierdie unieke kans misgeloop. Daarom het hulle desperate planne gemaak om hulle verlamde vriend by Jesus uit te kry.

Dít is radikale geloof. En dit is wat gebeur wanneer jy net een dag op ’n slag het om die wêreld te verander, of om ander mense te help. Dan moet jy dakke afbreek en alle konvensies oorboord gooi. Dan tel fatsoenlikheid en sulke dinge veel minder as die lewens wat daadwerklik deur Christus vernuwe kan word.

Jesus self het nooit gewag tot ’n volgende dag nie. As Hy op ’n sabbat ’n sieke raakgeloop het, het Hy hom of haar gesond gemaak. Al het dit uiteindelik sy doodsvonnis beteken, kon Jesus mense nie afskeep nie. Stukkende mense was sy rigtingwysers. 

Jy is gekies as ’n impakspeler om vandag teen God se spoed ’n daadwerklike verskil in die wêreld te maak. Laat jou lig vandag skyn. Laat jou teenwoordigheid tel. Maak die regte impak. Hou op om so ’n skrikwekkende toekomsbeplanner te wees. Doen vandag net ’n paar keer wat reg is. En geniet dit, maak nie saak wat môre inhou nie.

Al leef jy net een dag in jou hele lewe op so ’n radikale manier dat die engele in die hemel daarvan kennis neem, het jy meer gedoen as ander mense in duisend dae. Al doen jy vandag net een regte danspassie, is dit veel meer as mense wat hulle lewe lank op die verkeerde ritme rondploeter.

Is daar ’n dak wat vandag vir jou wag?

Here Jesus, gee my die wysheid om eenmalige geleenthede raak te sien en die waagmoed om dit met albei hande aan te gryp, al moet ek ’n dak afbreek. Amen.

Geloofsvrae

Ek dra swaar aan al die onreg wat my aangedoen is. Hoe kom ek daarvan los?


Daar word vertel dat twee priesters, die een oud en die ander een jonk, op ’n keer ’n beseerde jong vrou langs die pad raakgeloop het. Hulle het besef dat hulle haar sou moes optel en tot by die naaste dorpie dra. Die probleem was egter dat ’n priester nie aan ’n vrou mag raak nie, wat nog te sê teenaan sy lyf dra. Maar die liefde oorwin en die oudste priester tel die vrou op. Wanneer die las te swaar word en sy arms te lam raak, was dit die jong priester se beurt. 

Laataand kom die twee priesters in die herberg tot rus. Die jong priester doen hartstogtelik skuldbelydenis oor sy vreemde gedagtes oor die vrou, vra om vergifnis en blaas dan die kers dood.

Maar uit die bloute begin hy weer praat oor die moeilike posisie waarin die vrou hulle geplaas het. Die hele tyd mymer hy: Moes ons haar opgetel het, of moes ons eerder gaan hulp soek het? Moedeloos met sy jong broer roep die ou priester oplaas uit: “Die les wat jy moet leer, is dit: Ék het haar opgetel, en haar neergesit toe ek kon. Jy, daarenteen, dra haar steeds. Sit haar nou neer; sy is lankal nie meer in jou arms nie!”

Moenie vashou aan dinge wat afgehandel is nie. Moenie swaar dra aan dinge wat nie meer ’n rol in jou lewe speel nie. Ja, ons almal weet dat die Hebreërsskrywer ons aansê om Jesus sonder bagasie te volg – maar hoekom sukkel ons dan so daarmee?

Neurowetenskaplikes leer ons dat ons, deur die voortdurende herhaling van dieselfde gedagtes, bepaalde breinpatrone vorm wat moeilik is om uit te wis. Hoe kan jy jou brein se “stootskraper” gebruik om hierdie ou paadjies toe te stoot? Eenvoudig: Vorm nuwe, gesonder en helender patrone; doen dit deur nuwe gedagtes te dink.

Ons is gemaak om vry te wees. Nie om slawe van ons gisters of eergisters te bly nie. Dis die wonderlike boodskap wat Paulus ons in Romeine 12:1-2 leer: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat … goed en aanneemlik en volmaak is.”

En dit is wat vryheid is.

Ronell Bezuidenhout

Liturgie van die Lewe

’n Nuwe gewoonte om jou dag af te sluit


Vestig gerus hierdie nuwe gewoonte om jou dag mee af te sluit:

– Dink ’n oomblik na oor God se goedheid deur die loop van die dag. Hoe het die Here vir jou vandag hemelse manna gegee? Watter daaglikse brood was op jou spyskaart? Het jy vandag dalk meer as net brood geëet? Hoe het die Here voorsien in jou en jou dierbares se behoeftes? Waar het jy oral God se hand in vandag raakgesien? Op watter maniere het God jou van voor af nuut gemaak? Watter impak het jou doen en late op ander gehad? Hoe is ander se lewe verander omdat God jou vandag juis naby aan hulle neergesit het?

– Sê vir die Here dankie vir vandag en vir sy brood en manna. Gee aan Hom die eer vir vandag, vir elke stukkie oorvloed en vir elke tekort. Wees ryk voor God vanaand, al is jy brandarm. Wees arm voor God vanaand, al is jy ryk. Wees klein, maar oordadig in jou dankbaarheid. Jubel en juig oor alles wat vandag in jou, met jou, rondom jou en met ander gebeur het wat God se eer nog meer weerkaats.

– Sê jammer vir elke vermorste kans, elke verswygde woord wat God sou verheerlik het, elke verbeurde geleentheid om te dien en vir ander om te gee. Sê jammer vir enige stukkie selfsug of eersug. Aanvaar God se vergifnis en maak daardie boeke vir oulaas toe. Moenie met skuldgevoelens of onafgehandelde negatiewe emosies gaan slaap nie. 

– Vra vir hemelse manna vir die nag wat voorlê. Bid die Heer se goedheid en sorg af oor jouself, jou dierbares en die mense rondom jou en ver van jou af.  

Lekker slaap!

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Ek wonder wat jy sal doen as jy sou hoor Jesus is vandag in jou dorp. Dalk sal jy dadelik planne maak om Hom te sien, of al jou vriende laat weet dat Hy daar is. In vandag se Bybelverhaal lees ons dat drie vriende uitgevind het Jesus is in hulle dorp. Hulle het dadelik planne gemaak om vir Jesus te sien, maar nie sommer net om Hom te sien nie. Hulle het geweet Jesus kon hulle verlamde vriend gesond maak, en hulle wou hulle vriend na Hom te neem. Hulle het geweet vir Jesus is enigiets moontlik.

– As jy nou enigiets vir Jesus kon vra, wat sou dit wees? Hoekom?

– Het jy geweet jy kan vir Jesus enigiets vra? Gaan sit nou iewers waar dit stil is en vra in gebed vir Jesus wat jy vir Hom wil vra.

Aktiwiteit

Ken jy iemand wat siek is of met wie dit nie goed gaan nie? Bel hulle en bid oor die foon vir hulle. Of stuur vir hulle ’n gebed met WhatsApp.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.