Verbeel jou jy is op die atletiekbaan besig om resies te hardloop, maar daar is niemand om jou aan te moedig of te ondersteun nie. Dit sal mos nie lekker wees nie. Net soos dit jou help wanneer mense jou aanspoor terwyl jy ’n wedloop hardloop, net so het ons mekaar nodig om mekaar in die lewe van elke dag aan te spoor.
• Dink aan drie komplimente wat jy vir elkeen in jou huis kan gee. Wat sal daardie komplimente wees?
• Wanneer voel dit vir jou of ander mense vir jou omgee of jou ondersteun?
Aktiwiteit
• Gaan tel ’n hele paar stokkies buite op of kry ’n hand vol sosatiestokkies. Probeer nou een stokkie middeldeur breek. Maklik, nè? Neem nou ’n hele hand vol stokkies en probeer dit middeldeur breek. Nie so maklik nie, of hoe? Ons is net soos hierdie stokkies: Saam is ons sterker.
• Maak papierfiguurketting deur ’n lang strook papier te neem en dit soos ’n konsertina of waaier op te vou. Teken dan die buitelyne van ’n mensfiguur heel voor op die opgevoude papier. Maak seker die arms en bene van die figuur gaan tot by die kante van die papier. Knip nou op die lyne en vou jou papier daarna oop. Versier elke figuur verskillend. Vir meer instruksies oor hoe om so ’n papierfiguurketting te maak, gaan kyk by wikihow.com/Make-a-Paper-People-Chain
Gebruik die voorbiddingstasie om saam te bid.