Dag 7 – Wees gasvry teenoor mekaar

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Gee ons, o Heer,
’n nederige hart
dat ons op U sal fokus

’n ruim hart
dat ons vir mekaar sal sorg

’n toegewyde hart
dat ons altyd gehoorsaam sal leef

’n liefdevolle hart
dat ons U en ons naaste sal dien.

Ons kan U nooit ten volle ken nie,
maar ons kan altyd vir seker weet – ons is U s’n.

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: ’n Kers

Ons bid vir families wat treur en geliefdes verloor het. 

Ons bid dat hulle vertroosting en vrede sal vind te midde van hulle hartseer en verlies.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla – 1 Petrus 4:9.

In die antieke wêreld was gasvryheid een van dié belangrikste deugde. Dit was gevaarlik om te reis en herberge was nie altyd beskikbaar of veilig nie. Daarom was mense van mekaar se gasvryheid afhanklik. Trouens, die hele sending van die vroeë kerk was gegrond op die gasvryheid van gelowiges teenoor rondreisende predikers. Gasvryheid was daarom ’n belangrike getuienis dat gelowiges liewer was vir ander mense – selfs vir vreemdelinge – as vir hulle eie besittings, tyd en gerief.

In die wêreld vandag is gasvryheid teenoor vreemdelinge nie meer ’n algemene deug nie. Parker Palmer skryf dat ons in die verlede kon praat van “’n vreemdeling in die dorp”, aangesien ’n vreemdeling duidelik tussen bekendes uitgestaan het. Nou leef ons as vreemdelinge in ’n dorp of stad vol ander vreemdelinge. Ons privaatheid en gerief het vir ons belangriker geword as om ander gasvry in ons huise te verwelkom.

As gelowiges is dit ons roeping om teenoor mekaar, en ander, gasvryheid te betoon. Om ander in ons huise te verwelkom, en om as gaste ook hulle huise te besoek. Só sal daar ’n nuwe gemeenskap ontstaan wat mekaar se belange op die hart dra. Die kerk is immers nie veronderstel om ’n geslote gemeenskap te wees nie, maar een wat almal verwelkom.

Vader, dankie dat ons welkom is in u teenwoordigheid. Open ons harte en huise vir hulle wat eensaam en in nood is en gee vir ons die liefde vir ander wat vreemdelinge in vriende verander.  Amen.

 

Sakkie se sepie

Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee. 

Liturgie van die Lewe

Laat ek mense welkom voel?

 

Noem vir mekaar plekke waar julle werklik welkom voel. In watter ruimtes voel jy aanvaar mense jou net soos jy is? Sit ’n paar oomblikke opsy en skryf neer wat ander mense alles doen wat jou help om welkom te voel. Dink jy jy is iemand wat ander mense welkom laat voel? ’n Woord wat ons kan gebruik om te verduidelik hoe ons mense laat welkom voel, is gasvryheid, om gasvry te wees teenoor ander mense. Hoe gasvry is julle teenoor mekaar in die huis op die oomblik? Dink jy dit is vir die ander mense in die huis lekker om naby jou te wees, om tyd saam met jou deur te bring? Hoekom antwoord jy juis so?

Skep ’n geleentheid waar almal wat saam in julle huis woon, help om julle huis (of net ’n paar vertrekke) skoon te maak. Wanneer ons help om die kombuis en die eetkamer skoon te maak, help ons om die ruimte wat ons deel aangenamer te maak, en dan wil ons saam wees. Help mekaar om al die vuilgoed bymekaar te maak en in die asblik te gooi. Op dieselfde manier kan ons al die lelike of verkeerde woorde wat ons teenoor mekaar gesê het, erken en dit saam met die gemorsies uitgooi.

Is jy bereid om dan jou optrede aan te pas sodat almal meer welkom voel in julle huis? Ons elkeen in die huis kan help bou aan ’n gasvrye huis!

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Om gasvry te wees beteken eenvoudig ons moet mekaar welkom laat voel. Wanneer jy welkom voel, voel jy geliefd en tuis. Vertel van ’n keer toe jy baie welkom en tuis gevoel het. Wanneer is dit vir jou moeilik om gasvry teenoor iemand te wees?

Aktiwiteit

 

Ontwerp ’n plekmatjie vir elkeen in jou huis. Dek die tafel mooi vir ete en sit elkeen se plekmatjie by hulle plek aan tafel neer. Julle kan selfs nou aan tafel vir mekaar komplimente gee.

In hierdie afsonderingstydperk moet ons kreatief dink oor hoe om gasvry teenoor mekaar te wees. Dink aan paar dinge wat julle in hierdie tyd kan doen om gasvry te wees. Hier is ’n paar voorbeelde: 

Bel iemand wat jy ken wat 70 jaar of ouer is en vra hoe dit gaan. 

Sit niebederfbare produkte saam met julle vullis met ’n dankiesêbriefie.

Gebruik die voorbiddingstasie om saam te bid.

Kreatiewe gebed

INSTRUKSIES

 

• Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie materiale kan werk.
• Kleur die prent in en doen die aktiwiteit.

WENKE

 

• Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op.
• Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die groot spasies eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur.
• Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.
• Wanneer jy die prent klaar ingekleur het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur.
Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk

Dankies en getuienisse

Gister se getuienisse:

Ons het gisteraand so lekker gelag. Ons het drie kinders tussen 2 en 8 jaar oud. Gisteraand word daar in die aktiwiteit gevra hoekom ons nie met ons neuse in die lug moet loop nie. My vyfjarige dogtertjie het dadelik geantwoord: “Want ons gaan die virus inasem!” Dit was so kosbaar.

Ons geniet elke dag se boodskap vreeslik baie en sal graag na die 21 dae nog wil aangaan daarmee. Ons kinders kan nie wag om elke dag daarmee te begin nie.

– Santa van Graan

 

Baie dankie vir die aftelkalender. Dit is oulik en ek gaan dit met my gesin deel.

– Esmarie

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.