(Auto)biography as theology
This article provides a reflection on the relationship between (auto)biography and theology.
This reflection is done with reference to, and in honour of the story of Theuns Dreyer. The author positions himself on the theory that the theology develops on a narrative basis and therefore also by way of (auto)biography. The life of a person, in this case a theologian, is regarded as a ‘piece of art’ and becomes both a reflection of one’s theology and a way of constructing a theology. The richness of walking the inbetween land (ecotone) and to combine two contexts (church and academia) in one story is also explored.
Inleiding
Ek en Professor Theuns Dreyer was saam eerstejaarstudente aan TUKS (Universiteit van Pretoria) in 1964. Ongelukkig was die Hervormde en die NG-opleiding op daardie stadium nog in twee afdelings van die Fakulteit Teologie geskei – twee afdelings wat eintlik maar soos twee afsonderlike fakulteite gefunksioneer het. Ons was dus van mekaar bewus, maar het relatief min raakpunte gehad. Gelukkig was die kursus nog detyds gestruktureer in ’n driejarige BA-admissie,
waarna die BD-graad gevolg het. Ons het almal saam die eerste BA-deel gehad en dit is waar die Nederduits Gereformeerde- en die Hervormdestudente mekaar redelik goed kon leer ken.
Sedert daardie jare het ons twee se paaie in die twee verskillende denominasies, weg van mekaar, maar tog steeds in sigafstand van mekaar, ontwikkel. Ons het albei voortgegaan met studies in Praktiese Teologie en is mettertyd aangestel as hoogleraars in ons vak – Theuns in Afdeling A en ek in Afdeling B. Na die samesmelting van die twee afdelings in 2000 is hy aangestel as hoof van die Hervormde Teologiese Kollege en het in dié hoedanigheid verantwoordelikheid geneem vir die kerkeie deel van die opleiding vir die Nerderduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA). Terwyl ek hoof was van die Departement Praktiese Teologie, was dit nodig dat ons goeie kontak behou. Veral in die laaste jare toe die kerklike kontrakte tussen die verskillende kerke en die Universiteit heronderhandel moes word, het ons nader aan mekaar gegroei. Die wedersydse vertroue in mekaar, het ons gehelp om ’n goeie verstandhouding te bou en ons kon ons kollegialiteit met integriteit bevorder. Sedert September 2010 was ek ook bevoorreg om in ’n kantoor te werk wat omtrent reg langs syne op die grondvloer van die Fakulteit Teologie geleë is. Ons paaie het dikwels gekruis.
Juis omdat my en Theuns Dreyer se professionele lewensverhale nogal ineengevleg is, is dit vir my ’n voorreg om hierdie artikel aan hom op te dra. Dit maak ook sin om in ’n artikel soos hierdie te reflekteer op die verband tussen ’n persoonlike verhaal (biografie) en teologiese ontwikkeling.
Ek gebruik die artikel vir ’n teoretiese refleksie op die saak van (outo)biografiese teologie met sydelingse verwysings na ons albei se verhale as praktiese teoloë.
Lewensteologie
Die boek van James McClendon (1974) staan in die tradisie van narratiewe teologie waar
godsdienstige idees in storievorm uitgedruk word. Mens sou daarna kon verwys as ‘story
theology’ en hy gebruik ook die term ‘theology of life’. McClendon (1974:188−201) identifiseer
sewe uitgangspunte ter verduideliking van die verband tussen lewensverhale en teologie. Dit
vorm ’n belangrike agtergrond waarteen enige (outo)biografiese teologiese refleksie gedoen
moet word. Ek gee dit in my eie woorde weer:
• Die primêre uitgangspunt is dat teologie op ’n narratiewe wyse uitgedruk kan word. Of
sterker, dat verhale ’n manier van uitdrukking is wat ideaal geskik is vir teologie.
• Deur verhale word dit moontlik om die ‘compelling quality of lives’ teologies te verstaan en te
begryp wat die betekenis daarvan is.
• Verhale maak dit moontlik om die metafore wat die ‘compelling lives’ geïnspireer het, te
begryp.
• Sodoende word dit moontlik om die oortuigings wat
karakter vorm, te onderskei. Daar moet onderskei word
tussen oortuigings en beginsels. Laasgenoemde word
bewustelik gevorm, terwyl oortuigings onbewustelik
gelewe en uitgeleef word.
• Teologie het tradisioneel outobiografie as waardevolle
bron erken (vgl. byvoorbeeld die Konfessies van
Augustinus).
• Die sentrum en beginpunt van Christelike teologie is die
lewe van Christus.
• Die persoon wie se verhaal vertel word, is altyd ’n karakter
binne ’n gemeenskap. So ’n persoon kan alleen verstaan
word indien ons ook sy ofhaar deelname aan geloofs- en
ander gemeenskappe begryp.
My boek, Om te mag twyfel (2011), het onlangs verskyn
en daarin het ek my geloofs- en teologiese reis op ’n
outobiografiese basis ontwikkel. Die boek is gebore en het
grootliks ontwikkel tydens ’n navorsingsverblyf van twee
maande aan die Vrije Universiteit van Amsterdam, waar
ek ook die voorreg gehad het om oor die tema van (outo)
biografiese teologie te doseer. Die refleksie in hierdie artikel
is onder meer deur hierdie ervaringe geïnisieer. Wanneer ek
ook na my eie verhaal verwys, probeer ek nie die aandag van
Theuns Dreyer na myself verskuif nie. Inteendeel, ek probeer
slegs met enkele verwysings na my eie verhaal iets illustreer
van die verband tussen biografie en teologie.
Wat gebeur as mens (outo)biografies werk? Stories kom na
vore. Ervaringe word ge-storie en in die nadenke daaroor
en refleksie daarop, ontstaan nuwe verhale. Teologie word
geformuleer en gevorm – nie op argumentatiewe basis nie,
maar op ’n narratiewe basis. Natuurlik is verhale ook vol
argumente, maar hulle is veral kontekstueel. Argumente
wat los van verhale aangebied word, loop die gevaar om
a-histories, a-kontekstueel en uiteindelik irrelevant te raak.
Nie net irrelevant nie, maar ook nutteloos en magteloos.
Want stories is nie alleen ’n manier om ervaringe te beskryf
nie, maar ook ’n manier om onsself en ons realiteite te
konstrueer en sodoende betekenis aan die ervaringe te gee
(Sclater 2003:317). Deur die proses van taling (languaging)
vorm ons ons verhale, maar dan vorm daardie verhale weer
vir ons tot wat ons word. Dit is ’n nimmereindigende proses
van storie en word, word en storie.
Die eerste keer waar ek ervaar het ek word doelbewus
uitgedaag om my teologie te storie, was in ’n werkswinkel
wat deur Jill Freedman and Gene Combs, van die Family
Centre, Evanston, Chicago (skrywers van die boek, Narrative
Therapy. The social construction of preferred realities, wat in 1996
verskyn het) aangebied is. Dit was een van hul sogenaamde
Level Two Workshops en word gedoen met ’n klein groepie
van sowat agt persone. ’n Intensiewe narratiewe proses word
gebruik om al die betrokkenes te betrek. Die werkswinkel
duur ’n week lank en elke deelnemer kry geleentheid om
feitlik ’n volle dag lank die ‘kliënt’ te wees. Met die fokus
net op jou, word jy deur die twee aanbieders gelei om enige
ervaring of aspek van jou lewe te vertel en al vertellende te
konstrueer.
Toe my beurt aanbreek, het ek gekies om met hulle in
gesprek te tree oor die verhouding tussen my teologie en
die narratiewe terapeutiese benadering. Die gevolg was dat
ek op ’n hoogs professionele wyse deur hulle gelei is om
intensief oor my eie teologiese posisie na te dink en dit te
vertel. Die gespesialiseerde manier waarop hulle my begelei
het in die vertel en dekonstruksie van my teologiese verhaal,
was ’n onbeskryflik ryke ervaring. Dit het my vir die eerste
keer gehelp om my teologie te eksternaliseer en daarop te
reflekteer. Ek kon veral ook ontdek hoedat my teologie
eenvoudig deel van my lewenstorie is. Dit was ’n ontdekking
van die verhouding tussen outobiografie en teologie, hoewel
ek dit toe nog nie so kon verwoord nie.
’n Hele paar jaar later, in 2010, het ek die voorreg gehad
om as inwonende navorser vir twee maande aan die Vrije
Universiteit van Amsterdam deur te bring. Daar word ek
toe gevra om ’n lesing oor Biografie en Teologie te lewer.
Sodoende kon ek uit ’n ander hoek opnuut akademies
reflekteer op die verhouding tussen ’n persoonlike verhaal
(biografie) en teologie. Dit was juis hierdie ervaring wat my
verdere vrymoedigheid gegee het om my boek, Om te mag
twyfel, te skryf en te publiseer.