Welkom by vandag se les
Dit is belangrik dat jy elke gedeelte van hierdie les sal deurgaan. Kyk die video as inleiding en lees daarna die res van die les deur.
Die 4 hoekstene van ons geloof
Die video was kort, maar het eintlik baie inligting ingehad. Ek hoop jy het mooi opgelet. Hier volg meer inligting wat die video uitbrei.
Martin Luther het van 1483-1546 geleef. Hy is een van die belangrikste persone in die vorming van hoe ons vandag as Christene leef. Hy het vir ons vier hoekstene gegee waarop ons lewe gebou moet word. Op Jesus, op die Bybel, op genade en geloof. Dit is die kern van Christenskap. Ons as Christene glo in Jesus wat deur genade vir ons aan die kruis gesterf het, sodat ons kan lewe. Die Bybel vertel vir ons van Jesus, Sy genade en hoe ons hierdie lewe wat Hy vir ons gee ten volle kan uitleef deur ons geloof. Hoe sal jy elkeen van hierdie hoekstene beskryf? Gebruik ‘n sin, of sommer net een woord bv Jesus is lief vir my, of genade is wonderlik! Kom ons kyk nou hoe ‘n gedeelte uit die Bybel elkeen van hierdie hoekstene vir ons uitlig en verduidelik. Jy kan gerus dit ook op ander teksgedeeltes probeer.
Skriflesing | Efesiërs 2:4-10
4 Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5 Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6 Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7 sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. 8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
Besprekings vrae/ Nadenkende vrae
Indien jy die les saam met jou gesin doen kan julle die volgende vrae lekker bespreek. Indien jy die les op jou eie doen kan jy ‘n paar minute vat om oor die vrae na te dink.
- Wat val my op uit Efesiërs 2?
- Wat sê die gedeelte oor Jesus, geloof en genade?
- Hoe kan jy jou lewe op die vier hoekstene bou?
- Hoe gaan dit met jou verhouding met God?
Uitdaging vir die week
Bou ‘n kerkgebou of teken een en wees kreatief om die hoekstene uit te beeld soos bo. ‘n Hoek waar Jesus is, ‘n Hoek waar die Bybel is, geloof en genade. Stuur ‘n prent van jou huis op julle whatsapp groep.
Gebed
Here Jesus, dankie vir U genade in my lewe. Dankie vir die Bybel wat ek elke dag kan lees. Dankie dat ek in U kan glo. Amen.