Welkom by vandag se les.
Vir jou om hierdie les bevredigend te vind is dit belangrik dat jy alle elemente van die les sal deurwerk. Kyk die video as inleiding tot jou les en lees daarna die res van die les deur.
Stiltetyd
Stiltetyd is ‘n baie belangrike geloofsgewoonte, wat deel van jou lewe en daaglikse roetine behoort te wees. Die video het vir jou ‘n paar riglyne gegee om jou stiltetyd in te rig. Hier volg ‘n paar uitgebreide stappe wat jy vandag kan inoefen en van nou af in jou stiltetyd kan gebruik.
1. Word stil en bid rustig tot God oor enige iets wat op jou hart is.
2. Lees vandag Matteus 11:25-30 rustig deur. (Jy kan dit selfs ‘n tweede keer deurlees).
25 Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26 Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. 27 “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak. 28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30 My juk is sag en my las is lig.”
3. Vra jouself die volgende oor die gedeelte af?
Wat leer ek oor God uit die gedeelte?
Wat wil God vir my sê uit hierdie gedeelte?
Wat kan ek met ander deel uit hierdie gedeelte?
4. Bid weer en bid hierdie keer spesifiek vir jou geliefdes, ons land en die dag wat voorlê. Onthou ook om dankie te sê vir die tyd wat jy saam met God kon spandeer en vir alles wat Hy vir jou doen.
Besprekingsvrae/ Vra om oor na te dink
Indien jy hierdie les saam met jou gesin deurgaan kan julle lekker die volgende vrae bespreek. Indien jy die les alleen doen, vat ‘n paar minute om die vrae vir jouself te antwoord.
1. Hoe gaan jy van nou af stiltetyd hou?
2. Wat het jou vandag spesifiek geraak?
3. Waaroor is jy nog onseker?
Uitdaging vir die week
Kies een persoon in jou kategese groep. Lees Fillipense 2 deur. Sodra elkeen dit gelees het, moet julle mekaar bel of ‘n boodskap stuur om te vertel wat jy geleer het uit die gedeelte. Julle kan ook op die whatsapp groep julle terugvoer gee.
Gebed
Here, dankie vir vandag se les. Ek wil graag daagliks stiltetyd hou en tyd saam met U spandeer. Help my en lei my deur U gees hierin. Amen.