Fontainebleau Gemeenskapskerk

GEMEENTERAAD BESLUIT OOR BYEENKOMSTE ONDER 50

Geliefdes

In ons pastorale brief van 17 Maart het die Gemeenteraad besluit dat, hoewel dit toelaatbaar was om in groepe kleiner as 100 te ontmoet, ons die eredienste en alle gemeenteaktiwiteite op die kerkterrein kanselleer. Ons het ons teologiese refleksie hieroor gegrond op naasteliefde en lydsaamheid tesame met die groter geheel (1 Korintiërs 12:26 & Romeine 8:26).

Aan die begin van die pandemie het ons onderskei dat, hoewel die eredienste en gemeenteaktwiteite nie meer op die kerkperseel plaasvind nie, ons nie minder nie maar meer kerk gaan wees.

Baie water het sedertdien in die see geloop!

Die kerkgeboue word tans gebruik as verspreidingsentrum van kospakkies, sowel as ’n tuiste vir talle haweloses. Ons gemeente ontmoet ook gereeld virtueel op verskeie platforms. Die eredienste word baie goed ondersteun omdat ons geloofsgemeenskap oor die algemeen toegang tot tegnologie het. Dié wat nie op hierdie manier kan inskakel nie, is deel van ons netwerk van sorg.

Kleingroepe, Bybelstudies, berading en ander geloofsgemeenskapsaksies word deur die Gees van God beweeg in hierdie tyd.

Dit is nie altyd maklik nie en ons mis dit om “saam” te kan wees. Maar ons probeer om die beste van hierdie ongewone situasie te maak.

Op 26 Mei het die president aangekondig dat geloofsgemeenskappe tydens vlak 3 weer byeen mag kom, maar in groepe van nie meer as 50 mense op ’n keer nie. Dié besluit is as toegewing gemaak nadat godsdienstige gemeenskappe vir so ’n toegewing gevra het.

As Gemeenteraad onderstreep ons weer dieselfde beginsels wat aan die begin van hierdie pandemie gegeld het. Ons onderskei dat dit van kardinale belang is om in hierdie tyd ons naaste lief te hê soos onsself (Markus 12:29-31). Dit beteken dat ons as dienaars selfopofferende besluite maak om ander te dien en in eenheid saamleef. Soos die pandemie ontvou, is dit ook belangrik dat ons dink aan ons getuienis teenoor die breër Suid Afrikaanse gemeenskap. Dit beteken dat ons van ons regte en voorregte inboet. In ’n tyd soos hierdie is dit belangrik om te onderskei dat dit wat wettig is, nie noodwendig noodsaaklik of bedagsaam is in ons konteks nie. Ons dink hier aan Paulus se woorde aan die gemeente in Korinte, “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie” (6:12).

Daarom het die Gemeenteraad besluit dat ons nie in Junie die byeenkomste by die gemeente gaan hervat nie. Ons sal aan die einde van Junie hierdie besluit heroorweeg.

Johannesburg is as een van die “hotspots” van dié pandemie geoormerk en ons gevoel is dat ons nie verspreiders van hierdie virus wil wees nie.

Waaraan ons onsself wél wil toewy, is om midde-in hierdie pandemie die uitnodiging te aanvaar om nie minder nie, maar meer kerk te wees. Ons glo dat ons in hierdie tyd op unieke maniere kan herontdek wat dit beteken om as dissipels van Jesus te leef. Ons is nog nie klaar met hierdie lesse nie.

Ons is bewus dat hierdie besluit vir sommige gemeentelede moeilik gaan wees; inderdaad sal  sekere gemeentes in ons omgewing besluit om wel hul dienste te hervat.

Ons beroep egter ons gemeentelede om:

a) oor maniere van kerkwees te herbesin

b) nuwe maniere om God en mense lief te hê te ontdek, en

c) in eenheid, saam as gemeente by die besluit te staan, omdat elke lewe vir ons kosbaar is.

Sou net ’n sekere aantal mense die dienste mag bywoon, sluit dit baie ander en weerloses uit wat juis “deel wil voel” en “mense wil sien”; daarom wil ons die gebou eers weer heropen wanneer dit vir almal veilig en toeganklik gaan wees.

Die president het in sy toespraak die land uitgenooi tot ’n dag van gebed op 31 Mei. Dit val natuurlik saam met Pinkster. Ons nooi elke gemeentelid uit om Sondag saam te bid en by die erediens op YouTube of Facebook in te skakel.

Genade en vrede vir almal!
Die Gemeenteraad


Die personeelspan het ’n kort video saamgestel om oor hierdie besluit te reflekteer: