Pellissier Gemeente, Bloemfontein

EREDIENSTE VIR 50 MENSE OF MINDER?

Dinsdagaand 26 Mei is daar deurgegee dat kerke weer vanaf Junie eredienste vir tot 50 mense mag hou, maar met baie streng voorwaardes. En predikante is ook nou essensiële werkers! Ons is dankbaar vir die erkenning wat president Ramaphosa aan die rol van kerke en kerkleiers gegee het en dit sal verseker baie lekker wees om weer as geloofsgemeenskap by die kerk te ontmoet, saam te aanbid, te kuier en te gesels. Maar hoe beperk ons dit tot 50 persone? Wie mag kom en wie nie?

Ons deel ’n paar van ons gedagtes met jou:

  • Pellissier is ’n makro gemeente. Daar het voor die grendeltyd gemiddeld 2000 mense op ’n Sondag die eredienste bygewoon en as ons net 50 mense op ’n keer bymekaar mag wees beteken dit dat ons 40 eredienste op ’n Sondag moet hou en dit is nie haalbaar nie.
  • ‘n Samekoms waar net 50 mense bymekaar mag kom, maskers moet dra, twee meter uit mekaar moet wees, nie mag sing nie en nie kan saam kuier nie, ontneem ons juis van die saam-wees (koinonia) waarna ons so smag.
  • Die vraag is ook of die kerk nie eerder in hierdie tyd geroep is om die breë gemeenskap te dien deur nié eredienste te hou nie en veiligheid en welsyn van die hele bevolking voorop te stel nie.
  • Hoe ons dink oor kerkwees is veral in hierdie tyd baie belangrik. Die kerk is nie gesluit omdat die kerkgebou nie gebruik word nie. Ons is steeds kerk. Dalk net anders, maar die bediening gaan voort. Ons is die kerk.
  • Ons digitale bediening is goed op dreef en ons poog om alle fasette van die bediening so goed as moontlik digitaal voort te sit (digitale eredienste, kategese, kursusse en ander aanlyn bedienings is reeds in plek).
  • Ons is egter terdeë bewus dat daar lidmate is wat nie digitale toegang tot Pellissier se aanlyn bediening het nie en in sulke omstandighede sou ‘n fisiese erediens vir hulle ’n uitkoms wees. Die meeste persone wat nie digitale toegang tot die bediening het nie, is egter ouer mense wat ook hoër risiko gevalle sou wees indien hulle met die Covid-19 virus geïnfekteer sou word. Ons het planne in plek om lidmate te help wat nog nie aanlyn bedien word nie en ons sal baie moeite doen om te help waar ons kan.
  • Die kerkkantoor open weer Maandag 1 Junie. Streng maatreëls sal in plek wees om die oordrag van die Covid-19 virus te verhoed. Waar digitale pastoraat nie moontlik is nie, sal dit binne die kantoor opset plaasvind.

In die lig van bogenoemde gedagtes besluit Pellissier Gemeente om vir eers voort te gaan met ons digitale bediening totdat ons meer normaal as gemeente bymekaar kan kom. Soos wat nuwe riglyne en inligting beskikbaar raak (hopelik sal die regering vanmiddag meer duidelikheid gee) sal ons die besluite voortdurend her-evalueer en aanpas waar nodig (ook insake dope en ander kleingroep byeenkomste).

Kom ons hou aan om die Here se aangesig te soek en vanuit sy liefde en genade mekaar en ander te bedien!

Charles James
(Namens leraars en Gemeente Raad)