Inleiding
Die souffleur en die water
Voor en agter in hierdie boek is ’n foto van ’n doopvont. Die foto voor in die boek is van ’n doopvont wat in die vorm van ’n baarmoeder1 gebou is. Die foto agter in die boek is van ’n doopvont in die vorm van ’n doodskis. Met hierdie foto’s word die tema van die boek – van voor die wieg tot ná die graf – reeds aangeraak. Daar word in die loop van die boek deurgaans na hierdie motief verwys. Hopelik sal die keuse vir hierdie besondere twee foto’s teen die einde van die boek heeltemal duidelik wees. Soos Robin Jensen (2012:3) tereg oor die doopvonte van die eerste eeue opmerk: “The font into which they stepped was, simultaneously, a watery tomb and a watery womb.” Maar laat ons begin met die subtitel, te wete die drumpels van die lewe en die noodsaak van roetemerkers. Met die oog daarop, begin ek met ’n drumpel of oorgang in my eie lewe enkele dekades gelede.
Vandag is ek ’n predikant en praktiese teoloog, maar ek het eers drama gestudeer voordat ek met teologie begin het. Toe ek as eerstejaar-dramastudent by die universiteit aankom, het ek van die wêreld van die teater nie veel geweet nie, buiten die enkele rolle wat ek op skool in toneelstukke vertolk het. Daarom was baie van die woordeskat van die dramaklasse en teater vir my vreemd. (Ek het toe nie besef dat die taalgebruik in die dramawêreld veel “normaler” is as in die wêreld van die teologie wat ek nog sou leer ken nie.) Met woorde soos siklorama, butch en camp toneelspel, ad lib en prompter, om maar enkeles te noem, was ek nie goed bekend nie. Daardie laaste Engelse woord, prompter, is vir ’n jongman – wat met bykans affie-plaas-Afrikaans by die universiteit opdaag en hom binne vier dae in ’n rol as ’n lord in The Tempest bevind – egter vergelykbaar met ’n woord soos engel of beskermheilige. Prompter is ’n woord waarvan jy die betekenis bitter vinnig leer ken, en die verpersoonliking daarvan leer jy ook gou liefkry. Wanneer jou tong knoop om die Elizabethaanse Engels van Shakespeare, dink jy onwillekeurig dikwels aan die dominee se votum uit jou kinderjare – “Waar sal ons hulp vandaan kom?”
- Volgens Jensen (2012) is hierdie spesifieke doopvont en ander soos hierdie een moontlik ook in die vorm van ’n vulva gebou. Die sirkelvormige doopvonte is dalk simboliese uitbeeldings van baarmoeders.
Jy besef vir die eerste keer dat daar bes moontlik vir die dominee aan die begin van die erediens ’n persoonlike versugting ingebed is, vergelykbaar met dié van ’n Afrikaanse seun wat in Shakespeare-Engels voor ’n groot gehoor moet toneelspeel. Dit is dan die taak van die prompter of souffleur (die Franse woord), wat ons naas voorsêer in Afrikaans gebruik, om die hulp wat potensieël benodig word, te verteenwoordig.
In ’n tyd wanneer jy die groot oorgang maak van huis na universiteit en in die proses vir eers van baie bekende dinge moet afskeid neem, in ’n tyd waarin jy jou gewone Afrikaans gereeld op ’n verhoog vir Shakespeariaanse Engels moet verruil, vergeet jy maklik jou woorde. ’n Souffleur (voorsêer) is daardie persoon wat in die vleuels van die verhoog agter die gordyne met die volledige teks staan en die woorde letterlik voorsê vir akteurs wat dalk hulle woorde vergeet. Jy weet die souffleur is genadiglik daar, en dis nogal ’n troos, veral in sekere tye en situasies in jou lewe, nie net op die verhoog nie.
Met groot oorgange vergeet ’n mens nie noodwendig net jou woorde nie; jy vergeet dikwels baie ander dinge ook. Jy vergeet dalk om gereeld huis toe te bel of om jou groente te eet. Heelwat erger natuurlik is om te vergeet wie jy is.
Kom ons bly op hierdie punt ’n oomblik langer by my eie verhaal van universiteit toe gaan om drama te studeer. Ons het gekom van oral in Suid-Afrika: van Koekenaap tot Kaapstad en van Pearston tot Pretoria. Daardie voorafgaande ongeveer agttien jaar is egter nie noodwendig op uitstalling wanneer die gange van die Dramadepartement betree word nie. Tussen aksente wat aangeleer en haarstyle wat gekweek word, word Johannes van Johannesburg vinnig Johnny van Joburg. Dramastudente is natuurlik geen uitsondering nie, maar dalk net die eerlikste oor die proses. Want vra maar vir enige student, jy kan binne weke ná aankoms op universiteit reeds die filosowe van die medici onderskei en die prokureurs van die spraakterapeute (almal se aangekweekte identiteite met wisselende grade van welslae in wording). Ek laat doelbewus die teoloë hier uit, want beskrywings en humor gekoppel aan tokkelokke of dominees in wording is regtig so eentonig!
Kortom, dis ’n oorgangstyd, ’n tyd waarin (jong)mense afskeid neem van een identiteit en ’n nuwe (of dikwels eerder nuwes) met verloop van ’n proses gedurende en ná afloop van hierdie oorgangstyd aanneem. Boonop is dit ’n onseker tyd, soos enige oorgangstyd maar altyd is. Wanneer jy in hierdie periode in die spieël kyk, ry jy, anders as Bart Nel, wel wipplank tussen die bevestiging van “Ek is nog hy of sy” en die vraag “Is ek nog hy of sy?” Die een groot identiteitsmerker wat jou herinner aan wie jy behoort en daarom aan wie jy is, kan jy nie eers sien wanneer jy daar voor die spieël in die badkamer van die koshuis staan nie. Anders as op sekere materiaal laat water nie ’n vlek op die voorkop nie. Wanneer jy dus vanaf die teater by die Dramadepartement terugloop koshuis toe, hoor jy baie stemme. Regte stemme en stemme in jou kop, maar of (een van) hierdie stemme ten minste as ’n betroubare souffleur geëien kan word, is geen uitgemaakte saak nie.
Wanneer ons groot oorgange in ons lewe maak, word ons meer intens bewus van ons eie feilbaarheid en dat ons leiding nodig het. In sulke tye verlang mense na hulpmiddels wat die oorgang makliker kan maak. Vanuit die teologie sou verskeie benaderings gevolg kon word om hier ’n bydrae te probeer maak. Ek kies egter om die saak vanuit my eie vakgebied – Liturgiek en Homiletiek – te benader. Ek maak gevolglik my aanbod in hierdie boek in die vorm van ritueel liturgiese verkennings van hierdie oorgange in mense se lewe, en daarmee saam enkele voorstelle en boodskappe geskoei op ’n spesifieke Bybelgedeelte.
Hierdie boek gaan dus oor oorgangsrituele en die rol van die Heilige Gees tydens oorgangstye. En in ’n mate in lyn met ’n vorige boek, Aan tafel met Jesus (2010), waarin ek die tafel by Lukas as deurlopende tema geneem en dit dan vanuit verskillende invalshoeke belig het, onderneem ek ’n soortgelyke benadering in hierdie boek. Hier is my tema afskeid en oorgang, die drumpelbelewenisse in ons lewe en die rol wat God die Gees in en deur liturgiese rituele daarin speel. Klem val veral op Johannes se Evangelie. Terwyl ek die tafel by Lukas aan die nagmaal gekoppel het, koppel ek die afskeid by Johannes aan water, in besonder die doop. Dié twee boeke, hierdie een en Aan tafel met Jesus, is eintlik baie nou verwant aan mekaar. As ek die twee as behorende tot ’n reeks moet beskou, sal hierdie een, al is hy ná Aan tafel met Jesus geskryf, Deel 1 in die reeks wees en Aan tafel met Jesus Deel 2.2 Ek sal in die slot weer hierheen terugkom, maar vir nou eers iets meer oor die inhoud en opbou van die boek.
Ek begin in Deel 1 met ’n algemene, meer kultureel antropologiese gedeelte oor oorgange en lewensfases, en in die besonder hoe hierdie twee sake bymekaarkom in oorgangsrituele. In Deel 2 behandel ek enkele tekste in die sogenaamde Afskeidsgesprekke (hfst 13 – 17) van Johannes se Evangelie in die vorm van boodskappe en meegaande liturgiese voorstelle. In Deel 3 kyk ek na die
- Die bedoeling van hierdie boek is nie ’n terugtrek uit die lewe deur middel van ’n soort ooraksentuering van die vertikale verhouding tussen God en mens ten koste van die horisontale verhouding tussen mense Inteendeel, eerstens sou ek graag wou sien dat hierdie stof in noue samehang met Aan tafel met Jesus en die Lukaanse klem daarin op die horisontale verhoudings en geregtigheid gelees word. Tweedens, soos Welker (2007:238) tereg opmerk, vorm die Heilige Gees ’n gemeenskap wat voortdurend probeer om geregtigheid, genade en kennis van God te vestig en te verbeter.
besondere geskiedenis van die doop deur die eeue heen en eindig met ’n beskrywing van wat tans in kerke gebeur met betrekking tot die viering van die sakrament van die doop en verwante liturgiese rituele. Hierdie antropologiese, Bybelse en historiese dele word laastens aangevul deur te kyk na twee oorgange in die lewe en wyses waarop die kerk ’n liturgiese en, daarmee saam, ’n pastorale bydrae in sulke situasies kan lewer, veral na rituele met betrekking tot die dood en doop.
In die lig van die verskillende dele is die gebruiksmoontlikhede van die boek dus velerlei. Predikante sou dele daarvan kon benut in ’n reeks in die gemeente, by uitstek tydens Pinkster, aangesien die Afskeidsgesprekke die dissipels juis wou voorberei op die tyd wat met die hemelvaart van Jesus sou aanbreek. Verder is die doop as sakrament tans druk onder bespreking en word daar ook wyd liturgies geëksperimenteer. Hopelik kan verskeie dele van die boek, veral ook die historiese deel, insig verleen in die tradisie en pogings tot sogenaamde liturgiese vernuwing verryk en begrond. Benewens ’n verryking van die doop en verwante liturgiese praktyke soos doopherinnering, sou ander liturgiese rituele ook kon baat vind by die materiaal wat hier behandel word, in die besonder met betrekking tot die sogenaamde heruitvinding van oorgangsrituele en rituele vir sekere (moeilike) oorgange waarvoor ons tans geen rituele het nie.
Benewens hierdie gebruiksmoontlikhede het ek met die skryf van hierdie boek tog een eksplisiete doel in die oog gehad. Die doel is nie om ’n doopteologie vir vandag daar te stel nie, ook nie net om ’n diachroniese beskrywing van die viering van die doop te gee of om die belang van oorgange en oorgangsrituele onder lesers se aandag te bring nie. Hiervan bestaan daar oorgenoeg voorbeelde en meestal ook beter as wat ek dit hier kan probeer doen. My vernaamste oogmerk kan ten beste in lyn met Augustinus se klassieke definisie van sakramente verduidelik word. Augustinus het die sakramente kortliks beskryf as sigbare tekens van ’n onsigbare werklikheid. Vandag en in my eie kerklike tradisie is die sakramente nouliks sigbaar, bykans so onsigbaar soos die onsigbare werklikheid waarvan hulle tekens is. Ek is oortuig dat ’n kritiese en kreatiewe omgaan met die bronne ons kan help om in en deur simbole en rituele uit te kom by ’n verryking van ons bestaande praktyk vir liturgie, aanbidding en rituele, sodat gelowiges deur hulle sintuie meer bewus gemaak kan word van die werklikheid van God, juis ook op die drumpels van die lewe. Dít is die vernaamste oogmerk van hierdie boek, naamlik om in die bestaande skat van kerk en akademie te delf en ons praktyk daardeur te verryk, sodat hierdie een basiese teologiese waarheid vandag beter gedien kan word, sodat ’n dieper en voller bewussyn van die sogenaamde praesentia realis Dei, oftewel die werklike teenwoordigheid van God, gevestig kan word.
Soos met enige boek het die inhoud wat ek in hierdie een saambring ook ’n besondere aanloop, en ek noem graag enkele aspekte daarvan. Eerstens was ek – terwyl ek in 1999 ’n nagraadse kursus in Liturgiegeskiedenis aan die Universiteit van Tilburg in Nederland gevolg het – diep onder die indruk van die besondere potensiaal wat die kategumenaat (die viering van die sakrament van die doop as ’n uitgebreide proses in die eerste eeue) vir ons eie liturgiese tradisie kan hê. Dit was ’n module wat aangebied is deur die Nederlandse liturgie-historikus dr Louis van Tongeren, waarin hy die wyse waarop die doop deur die eeue gevier is as uitgangspunt geneem het. Enkele jare later het ek saam met dr Coenie Burger by Buvton (tans Communitas) ook navorsing oor die kategumenaat gedoen. Die resultaat daarvan het ons gepubliseer as ’n reeks van vyf artikels in die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) onder die titel “Die lang pad van bekering. Deel 1-5”. Heelwat van die navorsing wat ek destyds in hierdie verband saam met Coenie gedoen en wat ons in daardie reeks gepubliseer het, is in Deel 3 verwerk. My eie verdere leeswerk, belangstelling en navorsing het my telkens teruggebring na die belangrikheid van oorgangsrituele, asook die begrip liminaliteit soos gebruik is deur kulturele antropoloë wat navorsing oor rituele gedoen het. Hier kan veral die werk van Victor Turner en Ronald Grimes uitgesonder word. Grimes spesifiek het my verbeelding gestimuleer deur wat moontlik is in die voortgaande proses van die heruitvinding van rituele en hoe ’n soortgelyke proses ook ons liturgie kan verryk. Ten slotte het my eie bediening as prediker en liturg my gebring by die Afskeidsgesprekke in die Evangelie van Johannes wat ek ook in 2012 gebruik het as tema vir ’n Pinksterreeks in die NG Kerk Aasvoëlkop en in 2011 en 2012 in verskeie eredienste in die NG Kerk Waterkloof. Aan almal wat op ’n direkte of indirekte wyse my gedagtes gestimuleer het, sê ek hier opreg dankie.
Cas Wepener
1
Oorgange en lewensfases
Oor oorgange in mense se lewe is al heelwat geskryf, gewoonlik vanuit ’n sielkundige of pastorale invalshoek. Ek kies hier spesifiek om te werk met die Nederlandse teoloog Rein Nauta (2001) se verduideliking van rituele en lewensloop. Nauta behandel agt fases in die lewensloop van die mens, en omskryf by elke fase die aard van die fase en die soort rituele wat daarby pas. Ek gee dit kortliks weer.
- Geboorte: rituele van begroeting. Telkens word die kinders bevestig deur die noem van hulle naam, waardeur hulle uniekheid beklemtoon Volgens Nauta is elke keer wanneer ons in die res van ons lewe gegroet word, eintlik ’n herhaling van daardie eerste ritualisering waardeur ons uniekheid bevestig word.
- Wanneer ’n kind ’n mate van onafhanklikheid bereik en die babafase agterlaat, tree ’n nuwe variasie van ritueel op die voorgrond, naamlik dié van oordeel. Die belewenis vir die kind is dié van geweeg word. En in ’n mens se lewe keer dit dikwels terug, naamlik wanneer jy van ’n nuwe groep, ’n sportklub, ’n gemeente wil deel word.
- In die kleutertyd word die dramatiese deur speel geoefen en leer die kind eksperimenteer. Waar die kwaad verleidelik is, word die kind gedwing om om te gaan met skuld en
- In die laerskool-leeftyd staan die ritualiteit van dissipline
- In die puberteitsfase is die vernaamste ritueel dié van debat wat onontbeerlik is vir Die bewuswording van ’n eie ek word in hierdie fase onderstreep.
- Jong volwassenheid word gekenmerk deur die ritualiteit van vriendskap en
- Rype volwassenheid word gekenmerk deur die ritueel van Hulle fel die oordeel oor wat goed en kwaad is, en is verantwoordelik vir die oordrag van oortuigings. Dis die fase van onderrig.
- Die ritueel van die ouderdom is dié van afskeid
Nauta stel dit skematies as volg voor (Nauta, 2001:95) en voeg daarby die bekende prent van die sogenaamde trap des ouderdoms waarvan ek in navolging van Nauta ’n voorbeeld hieronder insluit:
SKEMA | |||
Leeftydfase | Ritueel | Dinamiek | |
1. | Vroegste kindertyd | Begroeting | Erkenning, oorgawe |
2. | Vroeë kindertyd | Oordeel | Distansiëring, beoordeling |
3. | Kleutertyd | Spel | Dramatisering, identifikasie |
4. | Laerskoolfase | Metode | Dissiplinering, ordening |
5. | Puberteit | Debat | Vestiging van oortuigings |
6. | Jong volwassenheid | Paring | Samehorigheid |
7. | Rype volwassenheid | Sorg | Onderrig, sorg |
8. | Ouderdom | Afskeid | Aanvaarding, besinning |
Trap des ouderdoms
So ’n uiteensetting van die lewensfases en die soort ritualiteit wat daarby pas, is onontbeerlik vir ’n studie soos hierdie. Tog is dit belangrik om in ag te neem dat hierdie oorgange, waarvan baie ook biologies aan die mens se lewe gekoppel is, geensins staties is nie. Ronald Grimes (2000) bied belangrike insigte in hierdie verband. Volgens Grimes verander die hoeveelheid oorgange en die tye waarop hulle voorkom. Grimes se konteks is Noord-Amerika, maar tog is heelwat van sy insigte van nut vir ons. Ek haal hom aan: “Both the number and length of life stages have altered drastically, rendering ages twenty-one and sixty-five almost meaningless as markers of adulthood. The age at which most girls experience the onset of menstruation has steadily declined in the West. Not only is biological puberty arriving earlier, it also lasts longer.” Grimes gaan voort en wys daarop dat mense dikwels eers op ’n later ouderdom trou en dan ook later kinders kry, en ten slotte ook dat mense langer leef en die gaping tussen aftrede en dood groter word. Hierdie skuiwe hang uiteraard nou saam met ’n eerstewêreldse konteks en is nie net so veralgemeenbaar vir ’n Suid-Afrikaanse konteks nie. Hoe dit ook al sy, die punt is dat hierdie lewensfases wel bestaan, maar dat hulle nie in lood gegiet en dus in alle kontekste geldig is nie.
In dieselfde boek spreek Grimes ook die gedagte uit dat hierdie lewensfases universeel by alle mense voorkom. Wanneer daar oor lewensfases nagedink word met die oog op oorgangsrituele, is dit belangrik om te erken dat mans en vroue se lewensfases van mekaar verskil, en dat Westerse, Afrika- en Asiatiese mense se fases nie identies is nie. Selfs die basiese veronderstelling dat mense gebore word, lewe en sterwe, as die enigste norm, is volgens Grimes geensins universeel nie, aangesien mense in sekere kulture en gelowe “weer gebore” kan word of dat mense reïnkarnasies van ander mense kan wees. Hierdie gegewens weerspreek heelwat van die basiese aannames ten opsigte van lewensfases en gepaardgaande oorgange.
Met hierdie kort verkenning van lewensfases kan oorgangsrituele as verskynsels self nou aan die beurt kom. Wat belangrik is om te onthou, is dat verskillende fases wel bestaan, maar ook dat hierdie fases minder veralgemeenbaar is as wat dikwels veronderstel word. Selfs ook dat hierdie lewensfases in die tyd waarin ons leef aan die verander is. Dit behoort dus bykans vanself te spreek dat rituele wat saamhang met hierdie oorgange tussen lewensfases ook krities bekyk behoort te word.
2
Oorgangsrituele
(rites de passage)
In hierdie deel behandel ek oorgangsrituele as ’n verskynsel baie kortliks, veral aan die hand van die werk van Victor Turner, maar ook dié van Arnold van Gennep. Redelik bekend is Turner se gebruik en verdere ontwikkeling van die konsepte societas, communitas en liminaliteit. Om die ratwerk van oorgangsrituele beter in fokus te kry, is dit nodig om hierdie konsepte kortliks te verduidelik. Dié konsepte het hulle oorsprong in Victor Turner se hantering van oorgangsrituele, en heelwat van sy werk daaroor het hy gebaseer op die werk van die Franse akademikus Arnold van Gennep, en aangevul met waarnemings tydens sy veldnavorsing onder die Ndembu’s in Zambië. Reeds in 1909 het Van Gennep ’n boek, Les Rites de Passage oftewel Oorgangsrituele, gepubliseer. Dit is nodig om by Van Gennep te begin ten einde enigsins ’n greep op die verskynsel te verkry, of eerder ’n greep op oorgangsrituele soos dit deur Westerse akademici nie alleen ondersoek en dus beskryf is nie, maar ook hoe dit in die proses deur hulle in die loop van die 20ste eeu gefabriseer is.
Van Gennep het in Les Rites de Passage drie duidelik onderskeibare fases geïdentifiseer, te wete skeiding, grens of limen, en herintegrasie. Limen is die Latyn vir drumpel en dit is dan ook waar die konsep liminaliteit vandaan kom. Volgens Van Gennep is al drie hierdie fases te vinde in een oorgangsritueel, deurdat ’n persoon wat so ’n oorgangsgritueel ondergaan eerstens losgemaak word, daarna in ’n soort tussenstaat verkeer en ten slotte ná ’n sekere periode weer in die bepaalde groep geïntegreer word. Victor Turner (1969:94; 1967:93-94) het hierdie gedagte by Van Gennep oorgeneem en beskryf op sy beurt hierdie drie fases as volg:
Die eerste fase (skeiding) behels simboliese gedrag wat veral gaan oor die losmaking van ’n individu of ’n groep van ’n vaste punt in ’n sosiale struktuur of van kulturele omstandighede, of beide. Die tweede fase is die liminale periode waartydens die subjek(te) in ’n tussenstaat verkeer (meer oor liminaliteit later). In die derde fase van herintegrasie word die oorgang voltooi. Dan is die subjek(te) van die ritueel weer in ’n relatief stabiele staat en verkry hierdeur gewoonlik (voor)regte en verantwoordelikhede wat hulle voorheen nie gehad het nie. Die subjek(te) verkry sodoende ’n nuwe sosiale posisie en daar word van hulle verwag om gevolglik dienooreenkomstig op te tree.
Met hierdie oorkoepelende en kort oorsigtelike verduideliking van oorgangsrituele en die tipiese drie fases daarin, sal daar nou in meer besonderhede op die tweede fase (liminaliteit) ingegaan word.
3
Liminaliteit
Die tweede fase (liminaliteit) is ’n staat van oorgang waardeur ’n situasie wat as communitas getipeer kan word, ontstaan. Die fases voor en ná liminaliteit waardeur communitas ontstaan, die fases van die staat waarin daar volgens Victor Turner ’n “structure of positions” bestaan, is societas (society). Hierdie societas-situasie is ’n tydperk van “structure” wat gekenmerk word deur ’n geordende situasie wat op ’n formele wyse funksioneer. “Dit is ’n tyd wanneer ’n gemeenskap sy probleme tot op ’n groot hoogte onder beheer gekry het, goed gestruktureer en georden is, en ’n groeifase beleef” (Burger, 1995:25). Teenoor die struktuur van societas sal vervolgens eers meer op liminaliteit en communitas en die anti-struktuur daarvan ingegaan word.
Volgens Coenie Burger hoor ’n mens die woord community in die begrip communitas. Dit dui op ’n “samelewingsvorm en situasie wat meer informeel en losser gestruktureer is”, en só ’n tydperk van communitas word gekenmerk “deur onsekerheid en oorgang”. Turner tipeer hierdie tyd self as anti-struktuur teenoor die societastyd wat as struktuur beskryf kan word. Persone in die liminale fase van communitas word deur Turner as volg beskryf: “Liminal entities are neither here nor there; they are betwixt and between the positions assigned and arrayed by law, custom, convention, and ceremonial. As such, their ambigious and indeterminate attributes are expressed by a rich variety of symbols in the many societies that ritualize social and cultural transition” (Turner, 1969:95). ’n Redelik bekende Suid-Afrikaanse voorbeeld wat iets illustreer van wat Turner hiermee bedoel, is die amaKwetas van die Oos-Kaap en sekere ander dele in die land. Dit is die seuns/jong mans wat gedurende hulle inisiasie vir ’n periode in die veld leef. Hulle is duidelik herkenbaar waar hulle met witgeverfde lywe in die veld woon in afwagting op hulle besnydenis en inisiasie. Daar in die veld is hulle nie meer seuns nie en ook nog nie mans nie. Hulle is tussenin, in ’n liminale fase.
Turner beskryf verder hoe persone in die liminale fase op velerlei wyses in rituele voorgestel word, maar altyd om hulle van ander te onderskei as onder meer besittingloos, passief en nederig, soos die voorbeeld hierbo van die amaKwetas. “It is as though they are being reduced or ground down to a uniform condition to be fashioned anew and endowed with additional powers to enable them to cope with their new situation in life” (Turner, 1969:95). In hierdie liminale fase is daar dan ’n mengsel van geringheid en heiligheid, van homogeniteit en kameraadskap. Hierdie anti-struktuur van communitas in die liminale periode van ’n oorgangsritueel kan alleen bestaan vanweë die werklikheid of moontlikheid van societas, of struktuur. “Liminality implies that the high could not be high unless the low existed, and he who is high must experience what it is to be low.” Sodoende kom Turner tot die konklusie dat sosiale lewe ’n tipe dialektiese proses van opeenvolgende ervarings van hoog en laag is, van societas en communitas, en die beweging van hoog na laag gaan deur ’n limbus van statusloosheid (Wepener, 2004:114).
Wat van besondere belang is, is die aard van die krag van mense of groepe wat in ’n liminale periode is. Volgens Turner (1969:102) het die “swakkes” wat hulself in ’n liminale fase bevind besonderse rituele krag. Hy sê voorts: “In liminality, the underling becomes uppermost.” Ander moontlike kenmerke van hierdie mense is seksloosheid, anonimiteit, onderdanigheid; hulle is stil; hulle word ’n tabula rasa waarop die wysheid van die groep geskryf kan word. Die kenmerke van liminaliteit sit Turner (1969:106-107) uiteen in binêre opposisies, teenoor statussisteme.
Transition/state; Totality/partiality; Homogeneity/heterogeneity; Communitas/ structure; Equality/inequality; Anonymity/systems of nomenclature; Absence of property/property; Absence of status/status; Nakedness or uniform clothing/ distinctions of clothing; Sexual continence/sexuality; Minimization of sex distinctions/maximization of sex distinctions; Absence of rank/distinctions of rank; Humility/just pride of position; Disregard for personal appearance/care for personal appearance; No distinctions of wealth/distinctions of wealth; Unselfishness/selfishness; Total obedience/obedience only to superior rank; Sacredness/secularity; Sacred instruction/technical knowledge; Silence/speech; Suspension of kinship rights and obligations/kinship rights and obligations; Continuous reference to mystical powers/intermittent reference to mystical powers; Foolishness/sagacity; Simplicity/complexity; Acceptance of pain and suffering/avoidance of pain and suffering; Heteronomy/degrees of autonomy.
Die beskrywings van liminaliteit kom neer op ’n tipiese “op weg wees”, en Burger (1995:26) praat hier van ’n woestyntyd. Vir hierdie studie is dit belangrik om eerstens die liminale fase van communitas as ’n kreatiewe tyd te sien. Vanuit ’n Christelike perspektief sou ’n Christen se hele lewe op aarde eskatologies as ’n liminale periode tussen die “alreeds” en die “nog nie” van God se koninkryk beskryf kon word: ’n kontinue onderweg-wees, ’n tyd van vreemdelingskap en pelgrim-wees op pad na die societas-situasie van die Bybelse beloftes. Maar in die staat van communitas self is daar baie potensiaal wat ontwikkel kan word. Turner praat van communitas se eksistensiële kwaliteit deurdat dit die hele persoon betrek in relasie tot ander heel persone, en verder dat communitas ’n aspek van potensiaal besit (Wepener, 2004:115). Communitas het potensiaal, dit is nie vasgelê nie, en daarom is dit by uitstek ’n goeie fase waarin mense aan die hand van die Skrif ritueel na ’n nuwe societas begelei kan word. So merk Turner op dat communitas bykans oral as ’n heilige of sakrale tyd beskou word, “possibly because it transgresses or dissolves the norms that govern structured and institutionalized relationships and is accompanied by experiences of unprecedented potency” (Turner, 1969:128). Hierdie insigte in oorgangsrituele is van besondere waarde wanneer daar nagedink word oor die liturgie in die algemeen en die sakramente en spesifieke Christelike rituele met oorgange in die mens se lewe in die besonder.
In ’n oortuigende artikel kombineer die liturgis Marcel Barnard (2010) die kon-
sep liminaliteit met teorieë oor ’n globaliserende netwerk-samelewing3. Barnard toon aan dat liminaliteit vandag eintlik iets is wat nie meer beperk is tot ’n fase in ’n oorgangsritueel of sekere groepe mense nie, maar dat dit die dominante staat geword het. Volgens hom het struktuur geskuif na die periferie van die moderne netwerk-samelewing waarin alles vloei. Ek haal hom aan: “In the network society of the 21st century liminality has accomplished its journey by moving to the centre of society, pushing structured human interrelatedness to the ‘margin’.”Barnard bring hierdie waarneming van hom dan in verband met nuwe wêreldwye aanbiddingspraktyke, en kan gevolglik opmerk dat “the old semantic potential of the concept no longer fits societal and ecclesial reality in which people also through their worship want to be both rooted and connected also through their worship”. Dus is ons by ’n staat van vloei (Wepener, 2001), en hierdie gedagte bring ons by ’n sentrale simbool van hierdie boek, naamlik water.
- Sien met betrekking tot hierdie onderwerp ook Barnard, M, Cilliers, J & Wepener C 2014. Worship in a network culture. Liturgicalritual studies, fields and methods, concepts and metaphors. Liturgia Condenda. Leuven: Peeters Press (verskyn binnekort).