4
Water
In 2010 verskyn Louis Esterhuyse se digbundel met die pragtige maar ook bykans misterieuse titel wat die water onthou. Water is nie alleen misterieus nie, maar ook ’n ryk simbool waarin heelparty paradokse opgesluit is (Beck, 2001). Aan die een kant reinig en verkwik water, les dit dors en is dit ’n simbool van afwassing. Aan die ander kant is daar ook bedreiging in water en kan water vernietig (beide te veel of te min water). Hierdie paradoksale simboliek van water word in bykans alle kulture en in vele godsdienstige tradisies aangetref. In Genesis 1 lees ons dat God se Gees voor die skepping oor die waters gesweef en dat water dus daardie eerste groot skeppingsdaad voorafgegaan het. Die verwoestende vloed in Noag se tyd het nie alleen verwoes nie, maar ook gesuiwer en gered. 1 Petrus 3:20-21 verwys na Noag en sy mense wat deur die vloed gered is. Dit is nie die bedoeling om hier ’n grootskaalse ondersoek te doen van watersimboliek in godsdienste en veral die Christelike geloof nie.4
Hierdie enkele voorbeelde wil gewoon die verbeelding prikkel oor die polisemantiese aard van water as simbool. Veral wil ek wys hoe hierdie watersimboliek in die agtergrond resoneer wanneer daar oor die betekenis van die doop en die Heilige Gees gepraat word, soos ek wel (indirek) in die volgende twee dele sal doen. Volgens Beck (2001) het water in die Christendom veral ’n positiewe simbool geword. In haar studie oor doopsimboliek in die eerste eeue van die Christendom onderskei Jensen (2012) vyf kategorieë waarin daar ook iets van die simboliek van water teruggevind kan word. Hierdie kategorieë is: reiniging van sonde en siekte; inlywing in die gemeenskap; heiliging en verligting; sterf en opstanding, en die begin van die nuwe skepping. Die bekende sogenaamde Sondvloedgebed van Martin Luther, wat ek hier vry vertaal aanbied, tel heelwat van hierdie simboliek op:
- Vir bronne hieroor, sien Beck (2001), Van der Leeuw (1949) en Wepener & Müller (2012) vir ’n verkenning van waterrituele en gepaardgaande simboliek in die Afrika Onafhanklike
Gebed
Genadige en goeie God,
rondom die doopvont onthou ons vanoggend u regverdigheid en genade.
Ons onthou hoe U met ’n groot vloed
regverdig geoordeel het oor die ongelowige wêreld.
Ook onthou ons dat U in u groot genade Noag en sy familie gered het
Verder onthou ons dat U die farao en sy weermag in die Rooisee laat verdrink het,
maar u eie mense droogvoets daardeur gelei het. Ons dink ook aan die doop van Jesus, ons Here.
Daar is die water ’n teken gemaak van die heilsame vloed
en volkome afwassing van al ons sonde.
(Wanneer ’n kind/kinders gedoop word, verder ook:)
Ons bid dat U
deur dieselfde genade vir NN sal beskerm
en met ware geloof in die Gees sal seën, sodat hierdie reddende vloed
alle sonde wat uit Adam in NN is, sal verdrink, sodat NN deel mag wees van die gelowiges,
wat droog en veilig bewaar word in die ark, die kerk.
Laat NN u Naam ywerig bly dien en vreugdevol hoop,
sodat NN met alle gelowiges die ewige lewe volgens u belofte sal ontvang; deur Jesus Christus ons Here.
Amen.
(Met erkenning aan Luther se Sondvloedgebed)
Tradisioneel word die simboliek van ’n dooprok ook aan die reeds vermelde sondvloed en 1 Petrus 3 gekoppel. ’n Dooprok word doelbewus te groot gemaak om sodoende die vloed te simboliseer waaruit die dopeling, soos Noag en sy mense, gered word.
5
Ten slotte
Die lewe is ’n reis, ’n pelgrimstog. Christene is besoekers aan hierdie wêreld, vreemdelinge en bywoners, swerwende Arameërs wat oor menige drumpels op die lewenspad voortstap. Die drumpels en oorgange bestaan en oorgangsrituele funksioneer bykans soos ’n wandelstaf op hierdie weg of soos ’n reling op ’n brug. Tog, soos aangetoon is in die inleiding van hierdie deel met die voorbeeld van die ramparty, raak ons soms die pad byster en ons kieries kwyt. Dan is dit nodig om opnuut stil te gaan staan tydens hierdie reis en net weer te kyk waar ons vandaan kom. Om net weer ’n keer te verpoos by beskikbare bronne en daaruit te put voordat die reis weer aangepak word. Dít is dan ook die doel van die volgende twee hoofstukke, naamlik om by nog twee bronne, te wete die Bybel en die tradisie, te verpoos voordat die reis opnuut aangepak word. Uit elkeen van hierdie bronne word roetemerkers afgelei wat in Deel IV aangebied sal word om die liturgiese verbeelding van die leser op ’n kreatiewe dog steeds verantwoordbare wyse te stimuleer.
6
Inleiding tot die Afskeidsgesprekke
Die Evangelie van Johannes is een van die bekendste en mees geliefde boeke van die Bybel. Rofweg bestaan Johannes se Evangelie uit vier dele (Kösterberger, 2004:10-11), naamlik die inleiding of proloog (1:1-18), die sogenaamde Boek van die Tekens of Tekens van die Messias (1:19 – 12:50), die Boek van Glorie of Heerlikheid (13:1-20:31) en dan die slotgedeelte of epiloog (21:1-15). Sodra ’n mens egter begin om die werk van Nuwe-Testamentici te lees en hulle indelings te vergelyk, is daar nie eenstemmigheid oor die presiese indelings nie. Nietemin, die bedoeling hier is geensins om in daardie debatte betrokke te raak nie, maar eerder om aan te toon dat, hoe ’n mens nou ook al die Evangelie verdeel, hoofstuk 13 – 17 (wat deel uitmaak van die Boek van Glorie) ’n literêre eenheid vorm. So byvoorbeeld het Daniel Stevick in 2011 ’n kommentaar geskryf getiteld Jesus and his own: A commentary on John 1317, wat by uitstek Johannes 13 – 17, die sogenaamde Afskeidsgesprekke, as ’n eenheid beskou. Die Afskeidsgesprekke dien hier as aanknopingspunt tussen die voorafgaande deel oor oorgangsrituele en die volgende deel oor die geskiedenis van die viering van die doop.
In hoofstuk 13 vind ons vir Jesus aan tafel met sy dissipels. Daar by die tafel en later in die gedeelte (13:13-17) tydens ’n wandeling, berei Jesus sy dissipels voor op ’n tyd wat nog sal aanbreek. Hy berei die dissipels voor op sy lyding én sodat hulle, ná sy weggaan, as ’n nuwe Messiaanse gemeenskap op aarde kan lewe. Hierdie Afskeidsgesprekke kan op sigself in drie dele verdeel word, te wete: 1. Die reiniging van die gemeenskap: die voetewassing en Judas wat hulle verlaat (13:1-30); 2. Die finale opdragte van Jesus, oftewel sy Afskeidsgesprekke (13:31 – 16:33), en 3. Jesus se gebed (17:1-26). In die geheel gesien, gaan hierdie paar hoofstukke oor Jesus wat die dissipels voorberei op ’n tyd wat gaan aanbreek; ’n tyd waarin Jesus nie meer in die vlees by hulle gaan wees nie, maar waarin Hy hulle nie alleen gaan laat nie.
In die lig van die tema van hierdie boek, naamlik oorgange in hierdie lewe en daarna, en die oorgangsrituele wat daarmee saamgaan, is hierdie Afskeidsgesprekke ’n goeie Bybelgedeelte om daarmee saam te behandel. Hier gaan dit juis oor ’n groot oorgang in Jesus se lewe én in dié van sy dissipels. Teologies bied hierdie tekste ’n ryke verskeidenheid beloftes vir gelowiges wat waardevol is vir die oorgangstye van die lewe, spesifiek van vóór die wieg tot ná die graf, met ander woorde, beloftes wat verder strek as slegs hierdie lewe, alhoewel dit nie ons aardse lewe uitsluit nie. Inteendeel.
Tradisioneel pas die tekste wat hier bespreek word in die Paas- en Pinkster- siklusse van die Kerkjaar. Die leesrooster neem teksgedeeltes uit die Afskeidsgesprekke dan ook gewoonlik op in die Sondae ná Paassondag en tot en met die Sondag ná Pinksterfees, oftewel Drie-eenheidsondag.5 Daarom sou hierdie boodskappe goedskiks as bykomende bron vir benutting met die oog op ’n Pinksterreeks kon funksioneer, of andersins as preekhulp of boodskappe in hierdie tyd van die kerkjaar.
Die Afskeidsgesprekke word hier nie sistematies van Johannes 13:1 tot en met Johannes 17:26 aangebied en vers vir vers behandel nie. (Daar is oorgenoeg goeie kommentare beskikbaar wat die teks so hanteer, soos dié van Köstenberger en Stevick, om twee uit te sonder.) Daar is eerder ’n keuse van enkele tekste gemaak wat beskou is as besonder geskik vir die tema van hierdie boek. Hierdie tekste word as volg aangebied: Ná ’n weergawe van die gekose teksgedeelte uit die 1983-vertaling volg ’n boodskap wat daarop gebaseer is. Daarna word enkele liturgiese elemente aangebied, wat grootliks op hierdie tekste of ander teksgedeeltes in Johannes se Evangelie geskoei is, en wat in die erediens of ander aanbiddingsgeleenthede gebruik kan word. Hierdie elemente sluit onder meer ’n nagmaalsformulier, ’n geloofsbelydenis, gebede en enkele ander liturgiese elemente in.
In die voorbereiding van hierdie boodskappe het ek ruimskoots gebruik gemaak van ander se insigte en dit hier geïntegreer. Bronne wat benut is, sluit eksegetiese en homiletiese werke in, en nog heelwat ander bronne. Sover moontlik is in die teks na die outeurs van hierdie bronne verwys en is die betrokke bronne opgeneem in die bibliografie aan die einde van die boek. Met hierdie opmerkings rakende die posisie van die Afskeidsgesprekke in Johannes se Evangelie, asook die potensiële bruikbaarheid van die boodskappe wat volg, sal daar nou na ’n keuse van tekste uit die Afskeidsgesprekke self oorgegaan word. Roetemerkers voortvloeiend uit hierdie boodskappe sal in Deel IV behandel word saam met al die roetemerkers afkomstig uit die ander dele.
- Sien gerus ook Stevick (2011:18-19) vir ’n langer bespreking van die Afskeidsgesprekke in die kader van die