Aan tafel met Jesus – Hoofstuk 3

Hoofstuk 3

Sewe tafels van

Pase tot Pinkster

Tafel 1

Om God te sien …

Lukas 24:13-35

’n Kaapse Emmaus

Ek het eenkeer ’n oproep van ’n ringskollega gekry om my te vertel van ’n jongman wat in ’n hospitaal naby aan my opgeneem is. Die man was baie ernstig siek en die kanse was skraal dat hy sou oorleef. In die dae, weke en maande wat op dié oproep gevolg het, het ek vir Aubrey in die chirurgiese intensiewesorgeenheid leer ken.

In daardie tyd het hy deur onvoorstelbare diep waters gegaan – wat onder meer twee hartoperasies ingesluit het. Na etlike maande is hy wel huis toe gestuur, al was hy steeds in ’n redelike swak toestand. Aangesien hy nie ’n lidmaat van my kerk was nie en sy leraar my verseker het dat hy die siekepastoraat self sou hanteer, het ek nie weer van Aubrey gehoor nie. Ek moet erken dat sy situasie my redelik bedruk gelaat het. Die paar keer dat ek by van sy spesialiste in die hospitaal navraag gedoen het, kon hulle net sê dat sake maar sleg lyk en dat hulle nie met sekerheid kan sê dat hy dit gaan maak nie.

By die volgende ringsitting, ’n jaar later, het ons die eerste aand vooraf in die kerksaal staan en koffie drink. Toe ons in die vergadersaal gaan sit en met die verrigtinge begin, is die geloofsbriewe eerste gelees. Een van die name – Aubrey – het my geïnteresseer, maar ek het gou genoeg in die agenda begin verdrink en nie weer daaraan gedink nie. Dit was immers al meer as ’n jaar sedert ek die siek man met die naam Aubrey gesien het, en darem ook ’n paar dosyn hospitaalbesoeke later. In my agterkop kon ek in elk geval nog té goed die spesialiste se kommentaar onthou.

Een goeie ding van ’n ringsitting (sommige mense sal seker meer goeie dinge as ek self in sulke vergaderings kan raaksien) is die etes. Nadat ek met etenstyd vir my ’n stewige porsie bobotie en rys geskep en in die kerksaal gaan aansit het, het ’n man regoor my kom sit. Hy het na my gekyk, eintlik gestaar, en toe met ’n diep frons gevra: “Onthou Dominee my dan nie?” Dit was toe hy dít vra dat daar

skielik vir my ’n lig opgegaan en ek vir Aubrey herken het. Ek was werklik oorbluf. Hier sit hy oorkant my met ’n bord bobotie … vir my was dit ’n Kaapse Emmaus-verhaal.

Op die pad van Jerusalem na Emmaus

So was dit ook met Kleopas en sy medereisiger op die stofpad tussen Jerusalem en Emmaus. Aan die begin van ons teks tref ons twee mense aan wat moedeloos, uitgeput en bitter teleurgesteld is. Hulle was die vorige paar dae in Jerusalem en is nou op pad na Emmaus. Hulle wou net so gou as moontlik wegkom uit Jerusalem. Die afgelope paar dae was hulle vir die viering van die paasfees in Jerusalem. En hulle was daar met groot verwagting. Hulle was onder die mense wat gehoop het dat Jesus van Nasaret wel die Messias is; dat Hy hulle beloofde koning is wat op sy wit perd die Romeine sou kom uitdryf en die Joodse volk verlos.

Maar wat het gebeur? Dinge het sleg begin. Jesus het op ’n donkie in plaas van ’n perd die stad binnegery. En dit het sleg geëindig. Jesus is gekruisig en in ’n graf weggelê. Die Man op wie hulle hulle hoop gevestig het, is vermoor en in sy plek is ’n misdadiger vrygelaat. Ja, dit is soos die lewe is, het hulle waarskynlik gedink. Geregtigheid is ’n ideaal wat nooit bereik word nie, en die wêreld is vol mense wat beloftes maak wat hulle nie nakom nie.

Om hulle mismoedigheid nog verder te beklemtoon en te toon dat elke greintjie hoop wat daar nog by hulle kon wees ook op die punt was om te verdwyn, sê die teks vir ons dat dit reeds die derde dag ná die kruisiging was toe hulle daar loop en gesels het. Uit die teks blyk dit ook dat dit in daardie stadium reeds laatmiddag was (24:29: “Dit is amper aand en die dag is al verby”). Die Jode het geglo dat ’n mens se siel jou liggaam op die vierde dag ná die dood verlaat. Met ander woorde die tyd vir ’n wonderwerk was byna verstreke; dit was op ’n nippertjie na te laat vir enigiets om nog te gebeur – teen die einde van daardie dag sou alles wat met Jesus van Nasaret te make het, iets van die verlede wees.

Emmaus en Jerusalem

Kan jy soms jouself met hierdie mense se gemoedstoestand vereenselwig? Voel jy soms of jou persoonlike lewe, jou werk, al die negatiewe dinge wat in die land en in die kerk gebeur, net vir jou te veel raak? Jy sukkel dalk om die lewe te balanseer tussen jou man of vrou, jou kinders, jou familie, jou vriende en die hond. Jy jaag jouself dood van die een dag na die volgende. En dan kom vertel die kerk vir jou dat jy net moet glo en alles gaan oukei wees. Boonop is dit bitter moeilik om sin te maak uit verhale soos dié oor Jesus se opstanding, sy hemelvaart en ’n paar van die wonderwerke. Ja, vir baie mense is dit ’n groot uitdaging om in óns tyd nog “naïef” te glo. Dit is moeilik om elke dag God of Jesus by jou en in ons wêreld raak te sien.

Meestal kyk ons rondom ons en, soos die Emmausgangers, sien ons net na voor en na agter ’n stofpad – ’n pad wat gewoon huis toe lei ná maar net nóg ’n dag, nóg ’n week, nóg ’n jaar. Ons kyk rondom ons en ons sien baie dinge, maar vir God kan ons nie sien nie. Die Emmausgangers loop hulle pad, begin met ’n vreemdeling gesels, maar God self sien hulle nie in Hom raak nie.

Dit is ’n kwessie van kyk sonder om te sien.

Weet jy waar is Emmaus? Wel, die Bybelverklaarders verskil oor die ligging daarvan, en die eerlikstes sê gewoon dat hulle nie seker kan wees nie.

Weet jy waar is Jerusalem? Ja, ons weet. Dit is die stad waarheen Jesus die hele tyd volgens Lukas se Evangelie op pad is en waarvandaan die evangelie volgens die boek Handelinge weer verder versprei. Dit is die stad waar alles eindig, sodat alles weer juis dáár kan begin.

Ons het almal ’n Jerusalem en ’n Emmaus.

Jerusalem is die plek waar jy God ervaar, waar jy vermoed dat jy Hom kan sien. Dit kan die kerkgebou en die erediens wees; vir party mense is dit eerder hulle gunstelingplek in die natuur; en vir nóg ander is dit hulle tyd van stilword in die oggend of die aand. Emmaus is weer die plek waarheen ons vlug wanneer ons vermoed dat ons God nie meer kan sien nie. Dit is die plek waarheen ons gaan wanneer ons dié teleurstelling ervaar. Dit is die plek waarheen ons gaan wanneer ons, soos Kleopas en sy medereisiger, moedeloos raak. Soms is Emmaus vir ons ’n rekenaarskerm en ’n klomp werk; soms is dit ’n lazyboy-stoel en ’n afstandbeheerde televisie; Emmaus is soms ’n kroeg en ’n paar brandewyne; Emmaus is vir ander ’n besige, raserige inkopiesentrum en ’n kredietkaart. Vir sommiges is Emmaus ’n terugtrek in hulle eie gedagtes.

Ja, ons het almal ons Jerusalem en ons Emmaus. Soms ervaar ons dat ons nie meer vir God in ons Jerusalem kan sien nie … dan maak ons dieselfde fout as wat Kleopas-hulle gemaak het: Ons verwag ook nie veel van ons Emmaus nie …

In ’n gesprek oor hierdie onderwerp het ’n man eendag vir my van ’n baie persoonlike ervaring uit sy eie lewe vertel. ’n Mens hoor hierdie verhaal in baie vorme, maar sy verhaal en die manier waarop hy dit destyds vertel het, is een wat my altyd bybly. Hy het vertel hoe hy ná baie jare se diens sy werk verloor het. Hy was nie net diep moedeloos nie, maar ook finansieel diep in die knyp. Orals het hy werk gesoek, maar hy was al te oud en niemand wou help nie. As gelowige het dit later vir hom gelyk asof God Hom aan sy wêreld onttrek het. Hy het Kaapstad se middestad platgeloop om sy CV by verskillende instansies voor te lê, maar sonder sukses. Algaande het hy ervaar dat hy al minder vir God in enigiets sien. Dit het gevoel asof God baie ver van hom af was. Op ’n dag loop hy in die stasiegebou in die middestad en voor hom merk hy ’n ma en haar seuntjie. Skielik begin die seuntjie verbouereerd te roep: “Waar’s my ma?” Maar sy ma het dadelik haar hand op sy skouertjie gesit en gesê: “Toemaar, ek’s hier reg agter jou.” Ewe skielik het daar ’n lig vir die man opgegaan. Natuurlik! Hy is net soos daardie seuntjie wat sy ma soek. Hy soek na God en die hele tyd is Hy reg agter hom met sy hand op sy skouer.

Vyf stappe om God te sien

Die twee mense op pad na Emmaus het ’n soortgelyke belewenis gehad. Hulle kon God nie in Jerusalem sien nie en Hom ook nie op pad na Emmaus daar bý hulle raaksien nie – al het hulle Hom reg in die oë gekyk. Jesus loop die pad met hulle, as ’t ware met sy hand op hulle skouers, maar hulle sien Hom nie.

Om hulle te láát sien, om hulle oë oop te maak vir God se nabyheid, doen Jesus iets met hulle: Hy vat hulle deur ’n proses sodat hulle op ’n nuwe manier na die wêreld kan kyk. Ons kan amper sê Jesus doen met hulle ’n oefening om God te leer sien … Hy neem die Jerusalem-ervaring na hulle Emmaus toe. Jesus neem vyf duidelik herkenbare stappe om hulle oë oop te maak sodat hulle vir Jesus kan sien. (Verskillende lesers van hierdie teks identifiseer verskillende hoeveelhede stappe.) Die vyf stappe waarmee ons hier werk, is dinge wat ons ook in die erediens vind, maar wat ’n mens ook in jou lazyboy sou kon ervaar.

Allereerste is daar die faktor van gemeenskaplikheid of saamwees. Kleopas en sy medereisiger deel hulle twyfel met hierdie “onbekende” man langs die pad. So is die twee saam in die teenwoordigheid van die opgestane Christus, en dus in gemeenskap. Dit is soos wanneer gelowiges op ’n Sondag byeenkom in die erediens met al hulle twyfel en vrae en hartseer en geluk. Gelowiges kom byeen in die erediens, maar wat hierdie verhaal ook vir ons wil leer, is dat Jesus Christus, die opgestane Here, self ook in die erediens teenwoordig is. Die Emmaus-verhaal se gemeenskaplikheid is dus aan die een kant ’n saamwees tussen dissipels onderling, maar ook met ’n vreemdeling en ook met die opgestane Here Jesus self. Die teoloog Michael Welker skryf oor die opstanding na aanleiding van tekste soos die Emmaus-gebeure waar Jesus net verskyn en weer verdwyn. In die lig van dié tekste, wat ’n mens nie voor Jesus se opstanding aantref nie, sê hy dan dat Jesus se opstanding veel meer was as bloot die fisieke lewendig-word van ’n liggaam. Die opstanding van Jesus beteken juis dat Jesus só opgestaan het dat Hy elke sentimeter en elke sekonde van hierdie wêreld met sy opgestane heerlikheid vul. Dit beteken dat ons net so naby aan die opgestane Here Jesus is as Kleopas, sy medereisiger, Petrus, die vroue en die ander dissipels wat Hom destyds eerstehands gesien het. In ’n samekoms soos die erediens is gelowiges tegelykertyd in gemeenskaplikheid met mekaar én met die opgestane Here Jesus. Wanneer ’n mens dit weet en glo, is jy reeds ’n hele stuk nader daaraan om God, soos vergestalt in Jesus, in jou lewe te herken. Dan dink jy nie meer aan Hom as ’n man wat iewers ver weg van jou af “aan die regterhand van die Vader” sit nie. Jy word bewus daarvan dat Hy nóú, hiér by jou/my/ons teenwoordig is.

Die volgende gebeurtenis op die pad na Emmaus is dat die Here Jesus vir hulle die Skrifte open en verduidelik hoe die wet, die profete en die psalms op Hom betrekking het. Ons kry hier dus die ekwivalent van die Skriflesing en prediking soos ons dit op Sondae in die erediens terugvind. Die uitleg van die Bybel wat Jesus hier vir hulle gee, het spesifiek betrekking op Jesus as die Messias. En dan blyk dit spesifiek dat Hy alleenlik die Messias is langs die weg van lyding. Jesus is die Messias omdat Hy opgestaan het uit die dood, maar dit weet ’n mens eers as jy reeds kennis dra van die pad wat Hy moes stap. Sy heerlikheid kom via Golgota. En dit is ook wat die prediking behoort te wees: ’n verkondiging van Jesus Christus as ons Verlosser, maar spesifiek as Christus die Gekruisigde. Die prediking is deel van die oefening om God te sien, maar die prediking behoort ons God te laat sien … as die Gekruisigde.

Dan antwoord die Emmausgangers op Jesus se “prediking” met een van die oudste gebede in die Christelike tradisie, naamlik: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby” (Luk 24:21). Deur al die eeue was dit ook die aandgebed in die kloosters. Die woorde verteenwoordig vir ons die gebed van mense. In die erediens bid ons ook voor en na die prediking in afhanklikheid van God en vra Hom om in die erediens en ook in die komende week by ons te bly. Op die gemeente se saamwees in die kerk volg die prediking en dit loop uit op gebed. Die Emmausgangers se gebed is ook ’n spesifieke versoek aan Jesus, die Vreemdeling, om by hulle te bly. Al hierdie elemente loop dan uit op wat Jesus beoog, naamlik dat die Emmausgangers Hom sal sien en herken. Dit is belangrik om te noem dat hierdie gebed ook ’n voorbeeld van gasvryheid teenoor ’n vreemdeling is. En in die Bybel sien ons telkens dat gasvryheid teenoor vreemdelinge ook ’n handeling is waardeur mense God telkens op ’n verrassende wyse kan ontmoet.

Ná die gebed breek Jesus die brood. Dit vra nie veel verbeelding van ons om in te sien dat hier sprake is van die nagmaal nie. Hulle sit saam om die tafel, en Jesus neem die brood, vra die seën, breek en gee dit vir hulle. Presies die wyse waarop baie gemeentes ook gereeld nagmaal vier. En met die breek van die brood kom ons by die kern van die verhaal van die Emmausgangers. Kom ons haal hier vir Lukas self aan: “Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken.” Met ander woorde, in die nagmaal herken hulle die vreemdeling as Jesus, hulle Verlosser. Dit is ook die vierde element van ons erediens wat ons eintlik elke week moet vier, soos Calvyn ook gevra het dat ons moet doen. (Sien Deel C van hierdie boek wat handel oor die geskiedenis: “Aan tafel met Jesus in die erediens en die wêreld.”) Daar in die brood by die tafel kry ons vir Jesus. Aan tafel sien ons die opgestane Here. Maar weer eens, net soos in die prediking, sien ons Hom nádat die brood gebreek is. Sy liggaam is gebreek en dan sien ons Hom. En meer nog: Die Emmausgangers nooi wel die vreemdeling in om saam met hulle te eet, maar dit is die Vreemdeling wat, nadat ’n mens Hom ingenooi het, die ware Gasheer van die tafel is. Dit is die vreemdeling wat ons verras en ons help om God te sien, of wat self God is.

Die laaste element van die verhaal is die feit dat die Emmausgangers, na die gemeenskaplikheid, die prediking, die gebed en die nagmaal, in beweging kom. Ook dít kan vergelyk word met die laaste beweging in ons eredienste: die uitspreek van die seën en die uitstuur van die gelowiges. In die proses sien hulle vir God, ontdek hulle hulle Verlosser, en dié gebeure doen iets aan hulle: Hulle beweeg uit en gaan vertel. Hulle vra vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword

… nie?” Hulle gaan terug met die pad waarop hulle vroeër die dag vanaf Jerusalem gestap het; hulle vat die pad na die dissipels en nog ander mense en hulle getuig dat hulle God ontmoet het en dat Jesus regtig opgestaan het! Miskien was die wind effens uit hulle seile gehaal toe hulle daar aankom en vind dat Petrus ook die opgestane Jesus gesien het, maar nietemin borrel hulle oor. So eindig ons eredienste ook nie wanneer die seën uitgespreek is en die “Amen” gesing is nie. Nee, dan begín die erediens van die lewe. Dan gaan leef ons dit wat ons beleef het. Dan gaan ons uit, want ons het God gesien en ons kán nie daardie belewenis vir onsself hou nie.

Lukas 24 gee ons inderdaad goeie raad oor hoe ons God, spesifiek die gekruisigde en opgestane Here Jesus, in hierdie wêreld kan sien en ontmoet. Kom saam as gelowiges en nooi die vreemdelinge saam, lees en praat oor die Bybel, bid saam, breek saam brood en gaan dan die wêreld in met dít wat saam beleef is. Dit doen ons in ’n “Jerusalem” soos die erediens, maar wat van “Emmaus”? Hoe kan ons juis dít doen in ons huis, in ons werkplek, op al die plekke waar ons juis nié verwag om God te ontmoet nie, maar waar Hy wel teenwoordig is? Hoe kan ons die gemeenskaplikheid, die Woord, die gebed, die tafel en die uitgaan in ons Emmaus laat gebeur?

Die sleutel is in die slot

Dit is dan juis ook hoekom ons met hierdie eerste tafel by die slothoofstuk van Lukas begin. Mense het al ten opsigte van die Bybelverhale én ten opsigte van letterkundige werke opgemerk dat die sleutel dikwels in die slot is. Dit is ook baie waar van Lukas se hantering van tafelgemeenskap in sy Evangelie en Handelinge. As ons in hierdie boeke oor tafelgemeenskap praat sonder om dit deurentyd te doen in die (G)gees van die opgestane Vreemdeling wat self die Gasheer van die tafels is, beteken dit dat ons heeltemal misverstaan waaroor dit gaan. Dié boeke wil deurentyd veral oor een ding praat: Wie is God? Dit is altyd die eerste en belangrikste vraag … dan eers volg ander vrae logies daarop, soos: Wie is my naaste? Wie is ons? Wie is ek en wie moet ek/ons wees?

Emmaus sê dat die God van die Bybel onsigbaar is sonder die kruis. Die God van die Bybel ry op ’n donkie, nie op ’n wit perd nie. Die God van die Bybel openbaar Hom dikwels in jou Emmaus. As ons dít besef, kan ons op dié manier na die wêreld begin kyk en vir God op die (on)gewone plekke in ons lewe soek. Emmaus daag ons uit om die opgestane Here op elke plek en enige tyd te ontmoet. Emmaus daag ons uit om van vandag af op so ’n wyse by elke tafel aan te sit asof dit ’n ete is saam met die opgestane Christus, want dit ís! Die erediens van Jerusalem maak ons oë oop om God te sien, maar ons moenie die erediens van Emmaus onderskat nie. Wanneer jy weer moedeloos is en dit vir jou voel asof God ver is, kan jy, soos die man wat sy werk verloor het, bly glo dat God die hele pad met sy hand op jou skouer saam met jou stap. Ook, en juis wanneer ons die stofpad vat na ons eie Emmaus, dan stap Jesus die pad op ’n besondere wyse sáám met ons.

Dit is daarom dat ons by sewe tafels in Lukas en Handelinge wil aansit. Ons wil iets meer van die God in Jesus sien, sodat ons deur die genade van die Vreemdeling saam met Kleopas-hulle verwonderd sal kan uitroep: “Het ons hart nie warm geword nie?”

Liturgiese gedagtes
KUNS EN SIMBOLIEK

Oor die verhaal van Emmaus is daar deur die eeue ’n oorvloed skilderye gemaak. Afdrukke van ’n hele paar van hulle sou met groot vrug in die erediens gebruik kon word. Hier word net een uitgesonder, naamlik “Die Laaste Avondmaal by Emmaus” deur die Spaanse skilder Velázquez (1599-1660) wat op die voorblad van hierdie boek verskyn. Let op die volgende ten opsigte van hierdie skildery: Die persoon in die middel van die skildery is die diensmeisie wat in die kombuis besig is om die kos voor te berei.

Links bo is ’n spieël waarin ons Jesus en een van die dissipels kan sien. As ’n mens daaroor nadink dat daar agter die diensmeisie ’n spieël is waarin ’n mens Jesus aan die tafel by Emmaus kan sien, wek dit die indruk dat die kyker inderwaarheid ook teenwoordig is in daardie vertrek waar die opgestane Jesus is. Dít beteken dat die opgestane Here van Emmaus ook nou daar by hom/haar teenwoordig is.

Verder is die diensmeisie omring deur die gewone en alledaagse dinge van ’n kombuis, maar juis dáár op haar eie unieke manier ontmoet sy ook die opgestane Jesus. Daar in die kombuis tussen die skottelgoed, die Sunlight liquid, die knoffel … daar is háár Emmaus.

Die keuse van die diensmeisie as die sentrale fokus van die skildery kommunikeer seker ook iets oor die persoon van Jesus wat nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. Die Dienaar wat as gas by die tafel in Emmaus aansit, begin húlle bedien.

“HONGERDOEK”

Die sogenaamde hongerdoek of “hunger cloth” het eintlik sy oorsprong in die Katolieke tradisie, waar so ’n doek gewoonlik in die Lydenstyd gemaak en teen een van die mure in die liturgiese ruimte opgehang word. Die bedoeling is om iets van die nood van die wêreld op die een of ander wyse uit te beeld. Die doek kan ook gebruik word om aan erediensgangers die geleentheid te bied om iewers gedurende die erediens artikels wat hulle aan die huidige nood in die wêreld herinner (koerantberigte, foto’s, ens), op die doek vas te speld.

Hier is twee foto’s om ’n idee te gee van wat gedoen kan word. Die eerste is ’n foto van ’n hongerdoek wat bestaan uit hessian wat oor ’n houtkruis gedrapeer is. Dit is in 2008 in ’n erediens in die NG Kerk Pinelands gebruik. Op die doek is daar geld vasgemaak; daar is koerantartikels oor die impasse rondom die kerkherenigingsproses tussen die NG Kerk en die VG Kerk; uit ’n gemeentelid se posbus kom ’n papiertjie waarop met die hand geskryf is: “Dear Sir/ Madam. I am an experienced Malawian man looking for job as gardener, house keeper, painter. My cont. is 079 757 3153. Yours, Khumbo Desire”; daar is ’n artikel oor die ekologie en die impak van besoedeling op ons omgewing, asook ’n kunswerk. Die tweede foto is van ’n tradisionele hongerdoek deur Jacques Chery van Haiti. Dit is te kry by die webadres: http://www.peterpetersen. acrossthebible.eu/englische%20 Website%20AtB/E-Schoepfung/ E-Hungertuch.html), maar daar is ook volop ander voorbeelde op die internet. Die derde foto is van ’n “hongerdoek” in die gemeente St Canice, Kilkenny, Ierland.

GEDIGTE, GEBEDE EN LIRIEKE

Die teks van Emmaus gee self natuurlik vir ons ’n klassieke gebed vir gebruik in ’n viering. Indien hierdie reeks in die aand aangebied word sou die volgende responsoriese gebed mooi by die wegsending kon pas:

Voorganger: Wanneer ons nou uitmekaar gaan, bid ons saam met die mense van Emmaus en die kerk van alle eeue …

Gemeente: Bly by ons, Here, want dit is amper aand en die dag is al verby.

In Die groot gebedeboek van Piet Naudé (red) word ’n hele paar gebede aangebied wat geskoei is op die Emmaus-verhaal. By 16 November is daar byvoorbeeld dié een van EM Farr:

Het ons hart nie warm geword toe Hy … met ons gepraat … het nie? (Luk 24:32).

Here, ek bid vir alle eensame mense,

veral vir hulle wat moet huis toe gaan na ’n leë blyplek,

wat aarselend by die deur staan,

bang om in te gaan na die eensaamheid wat daar wag.

Mag almal wat met vrees in hulle hart by enige ingang staan

– soos die Emmausgangers van destyds –

besef dat hulle die lewende Here kan binnenooi.

En mag hulle dan deur die diepte van u genade ervaar

dat hulle in hulle alleenheid nooit meer eensaam is nie;

dat U as ’n lewende teenwoordigheid by hulle is,

Een wat hulle hart warm maak

al is daar geen mens om mee te praat nie.

In die wêreldliteratuur, ook in Afrikaans, is daar ’n rykdom gedigte oor godsdiens, maar spesifiek ook oor die nagmaal en die besondere plek van die tafel in die Christelike godsdiens. Sheila Cussons se merkwaardige gedigte bied uitmuntende voorbeelde hiervan en kan met groot vrug in die erediens gebruik word.

Die gedig van Sheila Cussons “Terugkeer van Emmaüs” uit ’n Engel deur my kop, gaan oor Emmaus, maar dek ook sommer die tafel vir die tafeltekste wat in die volgende hoofstukke bespreek word.

Net soos in die digkuns, is daar uiteraard wat musiek betref ook ’n oorvloed van bronne. Hier kan ’n mens dink aan vele klassieke werke soos Panis Angelicus of grepe uit ’n mis. ’n Lied soos “Op mijn levenslange reizen” van die Nederlandse skrywer Huub Oosterhuis, van die CD Nooit meer zonder reisgenoot (1995, Mirasound bv, Hilversum, NL) kommunikeer egter ook op besondere wyse iets van die boodskap van die Emmausverhaal.

Op mijn levenslange reizen – twijfel donker achtervolgt mij liefde blind holt voor mij uit – zing ik steeds op andere wijzen over wie ik niet kan spreken, zing ik: ‘ooit mijn hart te breken, ooit mijn hart voor jou te breken’. Opgereisd, pas halverwege, met een keel kapot gezongen met een hart voor wie gebroken kruip ik onder dorenstruiken, druk mijn ogen in de aarde, smeek dat nu het eind zal komen, smeek de dood, dat hij zal komen. Spoorloos trok voorbij de twijfel, waar ik lag. De liefde keerde, zag mij, bracht mij drank en spijze, deed mij opstaan uit de dood. Nog een leven zal ik reizen. Nooit meer zonder reisgenoot.

RONDOM DIE TAFEL

Dit sal natuurlik die ideaal wees om tydens ’n reeks oor die tafels in Lukas-Handelinge elke Sondag werklik die nagmaal te vier. Indien dit nie gedoen word nie, kan die tafel op verskeie maniere nietemin ’n besondere aksent ontvang. Hier is enkele gedagtes:

  • Indien julle in die gemeente die gewoonte het om niebederfbare produkte wat vir kosprojekte gebruik word na die erediens te bring, laat erediensgangers die produkte in ’n mandjie kom plaas wat op die nagmaalstafel staan.
  • In lyn met die vorige gedagte kan lidmate uitgedaag word om een ete in die week wat voorlê, prys te gee en die waarde van wat hulle sou geëet het saam te bring na die volgende erediens/byeenkoms in die vorm van produkte wat in die mandjie geplaas kan word.
God as gat

Hierbo is al genoem hoe die wyse waarop Jesus teenwoordig en afwesig is in die ná-opstandingstekste in die Evangelies (soos in die Emmausverhaal), verskil van die vóór-opstandingstekste. Ná sy opstanding verskyn en verdwyn Jesus telkens. In die Emmaus-teks herken hulle Jesus in die breking van die brood. Daardie selfde moment is egter ook die een waarop Jesus uit hulle gesigsveld verdwyn.

Die Nederlandse digter Gerrit Achterberg beskryf in een van sy gedigte getiteld “Ballade van de gasfitter” hoe hy in ’n hysbak ry en dan kom die gedagte by hom op:

God is het gat en stort zijn diepten op mij uit …

Die verdwyning van Jesus tydens die maaltyd in Emmaus wys vir ons dat God wel soms “’n gat” is, soos hierdie gedig dit stel, ’n vakuum, ’n verdwyning, ’n onsigbaarheid en ’n onvasvatbaarheid … ’n skynbare afwesigheid. Volgens die Emmaus-teks is dít egter juis ook waar geloof lê.

Geloof is nie soseer om vanuit Jesus se sigbare, “vasvatbare” liggaamlike teenwoordigheid te leef nie. Geloof is eerder om juis te kan leef mét daardie gat, daardie afwesige teenwoordigheid, ’n teenwoordigheid wat ’n groter en veel minder beperkte realiteit is. Geloof gedy juis in die gat van die opstanding. Geloof is om te leef vanuit die realiteit en bewustheid van iemand wat in die hysbak van die wêreld ry, en waarin die diepte van die leë graf van Jesus – soos dit realiseer in sy opgestane alomteenwoordigheid – voortdurend op ’n mens uitgestort word. Vir ’n Christen is die diepte van die gat wat oor ons uitgestort word, die diepte van die leë graf, van die opstanding – maar dit is ook nie sonder die diepte van die gate in die hande en voete van Jesus nie. God is ’n gat en stort sy diepte op ons uit!

Ook as e-boek beskikbaar  

 

Tafel 2

God is by dié saam met wie Hy eet

Lukas 7:36-50

In die vorige gedeelte oor Emmaus is gesê dat hoe ’n mens eet en saam met wie jy eet, baie verklap oor wie jy is. Vandag se tema is: God is by dié saam met wie Hy eet. Gevolglik vra ons vandag aan hierdie teks eerstens: Saam met wie eet God? En, tweedens: Wat sê die antwoord op die eerste vraag vir ons oor wie God is? Hierop is die antwoord natuurlik dat dit God is vir wie ons in sy Seun Jesus Christus leer ken.

Hierdie teks is nie die eerste waar ons Jesus in Lukas se Evangelie aan tafel aantref nie. Reeds in Lukas 5:27-31 kry ons Jesus aan tafel. In dié gedeelte hou Levi die tollenaar ’n groot feesmaal by sy huis en baie tollenaars, ander mense, en ook Jesus, is daar. Op hierdie ete reageer die Fariseërs deur te vra: “Waarom eet en drink Hy saam met tollenaars en sondaars?” In die lig van hierdie optrede van Jesus sê die Fariseërs en wetgeleerdes, volgens Lukas 7:34, dan oor Jesus, “Kyk daar, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.”

By Levi aan tafel word Jesus aangetref waar Hy saam met tollenaars en sondaars sit en eet en drink – dus saam met die slegte mense, die sondaars. Dit sê reeds vir ons iets van wie Jesus is, naamlik iemand wat bereid is om sover te gaan dat hy saam met “sulke mense” eet. In vandag se gedeelte in Lukas 7:36-50 sien ons Jesus saam met die Fariseërs eet. Hulle is goeie, gelowige, wetsgehoorsame mense. Om dit in plat Afrikaans te stel: In hoofstuk 5 eet Jesus ’n “pub lunch”, maar vandag eet Hy in “die pastorie”. Wanneer ’n mens begin lees, hou jy amper duim vas dat Jesus sy maniere sal ken; dat hy sal weet hoe om Hom te gedra by hierdie sogenaamd rein en godsdienstige mense.

Reinheid en geografie

In daardie tyd het streng reinheidswette in Israel gegeld, wat ook op die geografie van die landskap betrekking gehad het. Sekere plekke was naamlik reiner as ander, selfs binne een stad, soos Jerusalem. Die grade van heiligheid wat in die tempel in Jerusalem gegeld het, is alombekend. Die tempel is gesien as die middelpunt van heiligheid in die stad, en in die tempel was daar die Allerheiligste. Tussen die twee ruimtes, die Allerheiligste en die Heiligste, was daar ’n soort gordyn of voorhangsel, wat die twee geskei het. Van daar af is daar in grade van heiligheid met konsentriese sirkels al verder wegbeweeg van die tempel af. Hoe verder ’n mens vanaf hierdie episentrum van heiligheid wegbeweeg het, hoe minder heilig was die ruimte. Wat belangrik is vir ons verstaan van tafelgemeenskap in Lukas-Handelinge is die feit dat daar ook mense gewoon het in hierdie meer of minder heilige dele – na gelang van hulle eie staat van reinheid.

Lukas het hierdie grondplan van Jerusalem en Israel goed verstaan, en in sy Evangelie bou hy dit op ’n doelbewuste wyse uit. Mense wat naby aan die tempel gewoon het, is beskou as meer rein as dié wat verder weg hulle tuiste gehad het. Alhoewel hierdie verhaal nie in Jerusalem afspeel nie maar waarskynlik in Galilea, het dié reinheidswette ook daar gegeld. Die priesters, Fariseërs en wetgeleerdes was heel naby aan die tempel gevestig, en dus baie rein mense. Hulle het dan ook alles in hulle vermoë gedoen om rein te bly en al die reinheidskodes na te kom. Die onrein mense, soos prostitute, het weer in die stadsmure ver verwyder van die tempel af gewoon. En hierdie twee groepe sou nie sommer sosiaal meng nie, aangesien dit die reiner persone se reinheid in gedrang sou bring. Behalwe vir die geografie was daar dus ook heelwat ander lewenspraktyke wat implikasies vir mense se reinheid gehad het. Daar was verskeie dinge wat ’n persoon moes doen of veral nié moes doen nie om reinheid te verseker. Een baie belangrike praktyk het te make gehad met eet en drink. Wat ’n mens eet en saam met wie jy eet, en veral ook wat jy nie eet nie en met wie jy tot elke prys vermy om te eet, was belangrike oorwegings vir persone wat reinheid nagestreef het.

Hierdie uitbeelding van die teenstelling tussen rein en onrein, word deurgaans in Lukas se Evangelie aangetref. Een voorbeeld wat ’n mens veral opval, is die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Lukas 18. Daar word vertel hoe die twee na die tempel gegaan het om te bid, die Fariseër was by die tempel en het God gedank dat hy nie soos die ander, slegte mense is nie. Hierteenoor het die tollenaar “daar ver” bly staan en op sy bors geslaan en om genade gesmeek.

Aan tafel by Simon

Hierdie onderskeid tussen rein en onrein is belangrik om ons teks in Lukas 7:36-50 te verstaan. Want, soos wat van Hom verwag kan word, gaan Jesus die gewone situasie op sy kop draai. En ja, hulle is skaars aan tafel of daar kom ’n vrou in, van wie die teks sê dat sy ’n sondares was. Indien ’n mens egter wil inlees wat kwansuis die aard van haar sonde was, moet jy maar versigtig wees, aangesien dit meer oor jou eie vooroordele oor sonde en oor vroue gaan verklap as oor die vrou in die teks. Wat die opmerking dat sy “’n sondares” was beteken, weet ons nie regtig nie. Om ’n beter prentjie te vorm van hoe hierdie ete by Simon se tafel sou verloop het, kan ’n mens jou vir Jesus, Simon en die ander gaste voorstel waar hulle aanlê aan die eettafel. Hulle het nie, soos ons sou doen, regop op stoele gesit nie. Om by Jesus se voete uit te kom, kruip hierdie vrou dus nie onder die tafel rond op soek na sy voete nie, maar is eintlik veel nader aan Jesus se eie hoogte (soos Fred Craddock dit in sy kommentaar op Lukas verduidelik).

Stel jou voor: Dit is Vrydagaand, jy bied ’n ete aan vir ’n klompie gaste wat om jou tafel aansit (aanlê). By jou pragtig gedekte tafel sit vername mense uit julle dorp, jou spoggerige bure, en natuurlik ook die dominee. En dan skielik is daar “só” ’n vrou tussen julle. Sy sal onmiddellik ongemak en verleentheid in die situasie indra. Almal sal baie ongemaklik wees en wens dat sy eerder nie daar opgedaag het nie. Dit is dan ook presies wat in hierdie perikoop gebeur: Wanneer hierdie vrou opdaag, bou daar spanning op.

Jesus doen die ondenkbare in hierdie spannende situasie, en dit is … NIKS! Hy laat haar haar gang gaan. Sy staan agter hom en huil en haar trane is so oorvloedig dat dit op sy voete drup. Dan droog sy sy voete met haar hare af en … soen hulle boonop! Dan salf sy hulle met reukolie. Die gaste is verstom. Jesus was tog veronderstel om seker te maak dat sy as ’n mens wat bekend was vir haar sondigheid en dus haar onreinheid, nie naby aan Hom kom – en veral nie fisiek aan Hom raak nie! Dit is wat sy gasheer sou gedoen het. Veral moes die vrou nie by Jesus, ’n mán, aan tafel kom nie, want vroue is gewoon nie in sulke geselskap toegelaat nie. Deur bloot in Jesus se teenwoordigheid te kom en boonop aan Hom te vat, het sy vir seker Jesus se eie reinheid in gedrang gebring.

Kyk ’n mens na die gasvryheidsgebruike van daardie tyd, het dié vrou stap vir stap die aanvaarde gasvryheidsetiket nagekom. Maar Simon, die gasheer, het dit nié gedoen nie. Dit was in daardie tyd gebruiklik om te sorg dat mense wat by jou kom eet, se voete gewas word; dat hulle ’n soen van verwelkoming kry, en ook gesalf word. En Simon, die voorbeeld van rituele reinheid, doen niks hiervan nie. Die “sondige” vrou wel. En meer nog, Jesus laat haar toe om dit te doen. Hy laat ’n vrou haar gang gaan in – van alle plekke – ’n Fariseër se huis. Hierdie onrein vrou vat aan Jesus, sy soen hom en vee met haar hare oor sy vel. En Jesus keer haar nie. Inteendeel, deur haar dit toe te laat verbreek Hy self ook die geldende reinheidskodes.

Dit is ook wat Hy orals in die Lukas-Evangelie doen: Hy deurbreek die geldende teenstelling tussen rein en onrein. Daar is vroeër ook gewys op die voorhangsel wat die Allerheiligste van die Heiligste in die tempel geskei het. In hoofstuk 23 bereik dié verbreking van die rein-onrein-teenstelling ’n hoogtepunt wanneer Jesus aan die kruis sterf en daardie voorhangsel middeldeur skeur.

Dit wat ’n onderskeid maak tussen mense het dus radikaal verander van wat voor en ná sy koms en sy kruisiging gegeld het. Sedert Jesus se koms is die onderskeid tussen rein en onrein nie meer beklemtoon nie. Nou berus die onderskeid, soos wat Jesus se gelykenis dit ook hier bewys, op die beginsels van God se genade. Jesus wys deur die gebeure rondom Simon se tafel dat die “slegte” mense wat in die mure van die stad, ver van die Allerheiligste af, geleef het, soms inderwaarheid die naaste aan die Allerheiligste leef. Hulle weet hulle het God nodig; hulle besef dat hulle van sy vergifnis afhanklik is, dikwels meer as dié wat daarop roem dat hulle die reg het om in die tempel te kom. En hoe groter iemand se besef van sy/haar afhanklikheid van God se vergifnis en genade is, hoe “reiner” is so ’n persoon voor God. Of, soos dit in die bergrede (Matt 5) gestel word: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.”

Die gasvryheidsetiket wat die sondige vrou nagekom het toe sy Jesus se voete gewas, afgedroog, gesoen en gesalf het, is ’n bewys van haar vergifnis. Omdat sy baie vergewe is, het sy baie liefde bewys. Die gelykenis wat Jesus vertel (Luk 7:41-43) bevestig dit: Hoe meer vir mense vergewe is, hoe meer hulle kwytgeskeld word, hoe meer liefde bewys hulle. God het dié vrou vergewe en aan haar liefde bewys, en nou bewys sy op haar beurt oorvloedige liefde. Die Fariseër is die teenoorgestelde. Hy het min sonde, of so dink hy in elk geval, en daarom is min vir hom vergewe. Gevolglik bewys hy ook min liefde – soos ons sien in die feit dat hy nie die gasvryheidsetiket teenoor Jesus nakom nie.

Die kern van die blye boodskap van die evangelie van Jesus Christus is egter dat God mense red wat weet dat hulle hulleself nie kan red nie; dat hulle voor God “onrein” is – maar daardie besef van onreinheid is voor God juis ’n teken van reinheid. En dié mense breek hulle lewe soos ’n albasteflessie oop en stort dit op Jesus se voete uit. En vir mense soos hierdie vrou weerklink Jesus se woorde tot in ons dag: “Jou sonde is vergewe.”

Saam met wie eet God?

Dus – saam met wie eet God? Ons teks sê Hy eet saam met ’n sondige vrou. Vir die mense soos die Fariseërs van Jesus se tyd was so iets ondenkbaar. En dit is by uitstek ’n teken van hoe wyd die Here se genade loop. Daar is egter nog meer in hierdie teks en ons moet dit nie te gou uit die gedagte verloor nie. Jesus eet ook saam met ’n Fariseër. Ja, met sy optrede daar aan tafel daag Jesus wel vir Simon uit, maar tegelykertyd is Jesus óók in Simon se huis en eet Hy aan dié Fariseër se tafel.

Ek het ’n vriend wat ’n predikant op die platteland is en wat my onlangs op my plek gesit het. In ons gesprek het ek alle stadspredikante verteenwoordig (en natuurlik is hierdie kontras tussen platteland en stad, en daarmee saam konserwatief en liberaal, ’n heeltemal vals teenstelling; die punt wat my plattelandse kollega wou maak, het egter wel meriete). Ja, sê hy toe vir my, van ons mense wat effens meer konserwatief in die kerk dink en meer tradisioneel optree, word altyd verwag om te luister na die meer liberale predikante en teoloë. Maar, vra hy, word daar ooit werklik en eerlik na ons ook geluister? Nee, antwoord hy homself toe, dit is gewoon nie ’n opsie nie. Ons word mos maar by voorbaat as verkramp en agter die klip beskou, as te konserwatief om eers na geluister te word. Met dié uitspraak het hy my nogal laat dink.

In Lukas en Handelinge wys Lukas se tafels deurgaans vir ons dat Jesus ’n besondere hart het vir sondaars soos hierdie vrou, vir tollenaars, vir armes en kreupeles, vir al die mense op die rand van die samelewing. Maar wat ons dikwels nié raaklees nie, is dat Hy ook ’n hart vir Fariseërs het. Die blote feit dat Jesus saam met hulle geëet het, dat Hy met hulle in gesprek getree het, is ’n bewys dat Hy ook vir hulle omgee. God is met dié saam met wie Hy eet. Jesus eet saam met onreines én reines; saam met die “sondaars” én “heiliges”; Hy eet in die geselskap van ’n sondige vrou én ’n vrome Fariseër. God het ’n hart vir die sogenaamd konserwatiewes én vir die liberales.

’n Klompie jare gelede het daar by die Belgiese kusdorp Zeebrugge ’n seeramp afgespeel. ’n Engelse vrou wat ’n hele tyd lank saam met ’n kind in ’n lugblaas vasgekeer was, het later vertel hoe die kind herhaaldelik gesê het: “Ek gaan dood, ek gaan sterf, maar gelukkig het ek nie gejok nie.” Die kind het klaarblyklik gedink dat, indien ’n mens nie gejok het nie, jy na die paradys sal gaan. Dit is hartseer, want dit is nie wat die evangelie en Lukas 7 vir ons leer nie.

Wat ons moet weet, is dat alléén God ons red. Self kan ons niks vir ons redding doen nie. God bring ons eerder by die wete dat ons wél gejok het, verskriklik gejok het, sommer elke dag. Maar ten spyte van ons gejok, ten spyte van die feit dat ons die hele tyd dinge doen wat ons nie moet nie, en nie doen wat ons wel moet doen nie, ten spyte daarvan … ja, ten spyte daarvan … Dit is die evangelie. Dit is wat ons moet weet om gered te word. Óns kan nie, maar God kan. Ons moet nooit uit die verhaal van Jesus wat by Simon die Fariseër gaan eet het, aflei dat God teen kerkmense gekant is nie. Nee, God soek nie uit nie. Die verhaal wil vir ons sê: Beide sondaars én goeie kerkmense word slegs deur God se genade gered.

Gaan in vrede. Waarheen?

Ná alles wat in dié gedeelte gebeur het – die voetesalwing, die gelykenis, en die verkondiging van vergifnis – sê Jesus vir die vrou: “Gaan in vrede”. Dit is die heel laaste woorde in vers 50. In die lig van hierdie opdrag wat die vrou kry, naamlik om in vrede te gaan, vra Fred Craddock tereg: “Waarheen moet hierdie arme vrou nou gaan?” Waar sal sy ná haar ontmoeting met Jesus welkom wees? Sy word egter hier aangesê om in vrede te gaan, en die leser van Lukas 7 is ook hier teen die einde baie bly daaroor dat sy nou in vrede kan gaan. ’n Mens is eintlik so effens verlig dat sy nou gered is en dat jy as leser jou nou nie verder oor haar siel hoef te bekommer nie. Die hemel juig, want ’n sondares het tot bekering gekom en ons is bly en kan nou rustig aangaan met ons lewe. Dalk sommer so op die koop toe ook ietsie in die sendingbussie gooi.

Craddock se vraag bly egter tergend hang: “Waarheen moet sy gaan?” Sy het hier kragdadig tot bekering gekom. Na haar ou vriende kan sy nie gaan nie, want sy gaan nie meer daar inpas nie en leef nou ’n nuwe lewe. En die kerkmense gaan definitief ook nie vir haar kans sien nie. Sy het liefde bewys aan Jesus omdat sy vergeef is. Is daar êrens in die stad mense wat aan haar liefde gaan bewys omdat hulle ook soos sy vergeef is? Ja, dit is tipies van Lukas. Craddock sluit af deur te sê: “Lesers, ons het ’n vergeefde kerk nodig wat liefde kan bewys en waarbinne vergeefde sondaars ’n plek kan kry.” Ons het ’n kerk nodig, gelowige mense nodig, wat sê: “Jy is welkom hier by ons. Kom sit by ons tafel”. Martin Versfeld sê tereg: “To take a man into your house – or your pot – is to open up your heart to him.”

God is by dié saam met wie Hy eet. Volgens Lukas 7 beteken dit dat God se genade genoeg is vir beide onrein sondaarvroue én rein Fariseërs. En om dit te weet, is ’n groot troos. Die vraag bly egter of daar in ons kerke werklik plek is vir hierdie mense. Of daar wel plek is, sal baie afhang van hoe ons eet, en dit is die tema van ons volgens tafel.

Liturgiese gedagtes

Die volgende wet, skuldbelydenis, genadeverkondiging en danksegging kan as die begin van die erediens gebruik word:

WET

Lees Lukas 10:25-29 en gee dan ’n kort samevatting van die verhaal van die barmhartige Samaritaan.

AANVANGSWOORD AS SKULDBELYDENIS

(Sien Vir die erediens – ’n handleiding)

Voorganger: Voor God en saam met die gemeente van God bely

ek my gebrokenheid: dat ek op verskillende maniere my eie lewe verwond en ook die lewe van ander en die lewe van die wêreld.

Gemeente: Mag God jou vergewe, mag Christus jou vernuwe en mag die Gees jou help om te groei in liefde.

Voorganger: Amen.

Dan in omgekeerde volgorde:

Gemeente: Voor God en saam met die gemeente van God bely ek my gebrokenheid: dat ek op verskillende maniere my eie lewe verwond en ook die lewe van ander en die lewe van die wêreld.

Voorganger: Mag God julle vergewe, mag Christus jou vernuwe en mag die Gees jou help om te groei in liefde.

Gemeente: Amen.

SEËNGROET AS GENADEVERKONDIGING

Voorganger: Die Here is met julle

Gemeente: … en ook met jou.

Voorganger: Die Woord van God gee volkome vergifnis van alle sonde in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Gemeente: … en ook vir jou.

Almal saam: Amen.

DANKLIED

Adam Small se gedig “Doemanie” kan hier voorgelees word om iets van die karakter van die Fariseërs oor te dra.

SEËN

“Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede” (Luk 7:50).

Heidelbergse Kategismus, Vraag 81: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?

Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes ’n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en dié wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en dié wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink ’n veroordeling oor hulleself.

UITSENDING

Vir die uitsending kan Kolossense 3:12-15 gebruik word:

“Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.”

Tafel 3

Ons is hoe ons eet

Lukas 14:1-14

Boodskap met die bevestiging van kerkraadslede

In ’n gemeente begin diakens se diens by die nagmaal (met ander woorde by die tafel) waar die gemeenskap met Christus en die medegelowiges gevier word. Daarvandaan word die liefde en barmhartigheid van God uitgedra na elke terrein van die gemeentelike lewe en na die samelewing.

Uit die geskiedenis

Ons is hoe ons eet. Kom ons begin met ’n stukkie kerkgeskiedenis om hierdie stelling te verken. Dit is ’n ongelukkige stuk geskiedenis wat deesdae gereeld oorvertel en in die media bespreek word en gevolglik ken baie mense dit goed (vgl ook Deel C), daarom word die hoofpunte net kortliks hier weergegee.

By die NG Kerk se sinodesitting in 1857 was die vergadering ná jare se debattering en ongelukkigheid, steeds 50%-50% verdeel oor ’n kontroversiële saak. En die vraag op die tafel? Of dié wat uit die “heidene” – die inboorlinge van Suid-Afrika, met ander woorde bruin en swart mense – tot die Christendom bekeer en gedoop is, in dieselfde gebou as die gebore Christene – wit mense – die nagmaal moet gebruik. Tot in daardie stadium was die amptelike beleid dat daar geen onderskeid tussen die twee groepe is nie en dat die nagmaalsviering dus wel gesamentlik moet plaasvind. Verdeeldheid oor die saak het egter toe al diep geloop en in die lig daarvan, asook weens die gewigtigheid van die saak, het die moderator van dié sinode, ds Andrew Murray snr, toe ’n voorstel gebring ten einde die vrede te bewaar. Sy voorstel het in die oorspronklike Nederlands met hierdie woorde begin: “Ten gevolgen van de zwakheid van sommigen …” Ter wille van sommige mense se “swakheid” stel hy voor dat die nagmaal voortaan in afsonderlike geboue aan wit en bruin of swart mense bedien word. En die swakheid van die sommige waarna hy verwys het, was dié van ’n aantal wit dominees en ouderlinge wat nie kans gesien het vir gesamentlike vierings nie.

’n Mens moet in ag neem dat daar in daardie stadium wel net een gereformeerde kerk in Suid-Afrika was, afgesien van die land se verskeidenheid inwoners. Die voorstel om die nagmaal apart te vier het reeds in 1829 ook op die sinode se agenda beland, maar op daardie tydstip het ’n staatsamptenaar, bekend as die “Kommissaris Politiek”, nog op die sinode sitting gehad en hy het dit met sy vetoreg buite orde gereël. Onder sy invloed is hierdie saak in 1824 van die sinodale agenda verwyder. Maar dié punt het hardnekkig bly terugkeer na die agenda en in 1857 is dit toe aanvaar. Die gevolg was dat die NG Sendingkerk in 1881 gestig is. Later is ook ’n aparte kerk vir swart mense tot stand gebring, en nog later ook een vir Indiërs.

Die rede waarom hierdie stukkie kerkgeskiedenis hier opgehaal word, is om aan te toon dat ’n mens ook in die kerk kan gaan kyk hoe ’n gemeente by die nagmaalsviering eet en drink, en dat jy daaruit heelwat kan aflei oor wie hulle is en wat hulle glo. Ons is hoe ons eet. Jesus het hierdie waarheid ingesien, en in Lukas 14:1-14 lewer Hy kommentaar op mense se eetgewoontes. En deur middel van dié kommentaar lewer Jesus ook kommentaar op die mense self. Hy vertel vir hulle ’n gelykenis oor nederigheid en gasvryheid, en sê daarmee iets van God self. Maar kom ons kyk na die teks.

Hier kom moeilikheid

Lukas 14 begin in vers 1 met ’n vertelling oor ’n sabbatdag en ’n insident wat by die huis van ’n vooraanstaande Fariseër gebeur het. Nou, indien ’n mens die Evangelies met aandag lees, besef jy die inleiding se spesifieke verwysing na ’n sabbat en ’n vooraanstaande Fariseër dui op probleme. Dit is so goed soos die inleiding tot ’n moordmisterie wat dikwels ’n beskrywing soos die volgende sal bevat: “Dit was ’n donker, winderige aand kort voor middernag in een van Londen se berugte agterstrate …” Die skrywer is besig om doelbewus ’n sterk spanningslyn op te bou. Jesus was immers al telkens in hierdie Evangelie in die moeilikheid oor sy bedrywighede op die rusdag. In Lukas 6 eet sy dissipels koringare op ’n sabbat, in dieselfde hoofstuk genees Hy ’n man met ’n misvormde hand, en in hoofstuk 13 ’n gebreklike vrou – telkens op die sabbat.

Hier in hoofstuk 14 is Jesus nou aan tafel by die vername Fariseër, en dit weer op ’n sabbat. Die leser hou asem op vir wat moontlik kan gebeur. En dan is dit ook so. Wat Jesus by dié ete waarneem, en wat ook ’n weerspieëling was van die waardes van die samelewing van sy tyd, grief Hom só dat Hy begin kommentaar lewer. En die eerste kommentaar is ingebed in die genesing van ’n man wat aan “water” gely het. Dié spesifieke siekte was in daardie tyd simbolies van die een of ander vorm van hebsug: eersug, vraatsug, hebsug, gemaksug. Volgens een kommentaar was “om aan water te ly” ’n siekte wat behels het dat, ongeag hoeveel iemand drink en vloeistof inneem, sy of haar dors nooit geles word nie. Vandaar die siekte se simboliese betekenis van hebsug – jou dors na die een of ander vorm van besit word net nooit versadig nie.

Dié man se siekte is dus ’n sinspeling op die Fariseërs wat altyd meer eer en aansien in die wêreld wou hê; op dienaars van God wat lekker gemaklik in hulle eervolle posisies funksioneer, maar nie vir God eerste stel nie. Lukas se keuse van ’n siekte soos “water” is dus doelbewuste kritiek op mense wat oormatig ingestel is op hulleself en eiegewig, mense wat altyd net meer en meer wil hê. Met dié spesifieke genesing sê Jesus dus eintlik: Julle spul Fariseërs wat so alles wil hê, vandag genees Ek julle van julle hebsug. Of ten minste gaan Ek julle vandag by hierdie tafel en voor al hierdie mense diagnoseer, hou My maar dop. Onthou, die skrywer van hierdie Evangelie was waarskynlik ’n dokter. (Kan jy jou voorstel hoe onleesbaar die eerste manuskrip van Lukas-Handelinge moet gewees het? Ons almal weet tog hoe die meeste dokters se handskrif lyk!)

Nederigheid en gasvryheid

Met hierdie genesing dek Lukas die tafel anders as wat die Fariseër syne gedek het. Lukas dek die tafel met hierdie genesing sodat Jesus nou oor twee deugde kan praat, te wete nederigheid en gasvryheid. Dié nederigheid en gasvryheid is egter veel radikaler as wat ons hierdie sake in ons dag verstaan. Kom ons kyk eers na die eerste gelykenis oor beskeidenheid. En natuurlik, die blote feit dat Jesus hier gelykenisse gebruik, beteken dat Hy nie nou oor tafelmaniere soos dié van mev Emsie Schoeman gesels nie, maar oor veel dieper sake. Die tafel en etiket is slegs ’n metafoor vir dieperliggende sake, alhoewel die letterlike wyse van saameet en saamdrink, of nie, ook geensins onbelangrike sake in die Bybel is nie.

In die eerste gelykenis sê Jesus vir die gaste: “Moenie meeding om die voorste plekke nie, gaan sit liewer agter.” Wees dus nederig. Wees die minste, ander sal dit respekteer. Moenie eer-vrate wees nie! Julle almal het, net soos iemand wat “aan water ly”, ’n onlesbare dors … na eerbetoon. Dit maak nie saak hoeveel keer julle op die voorste sitplekke gaan sit nie, julle sal altyd nóg meer eer en aansien in hierdie lewe soek. Ons kry dié gedagte ook in Spreuke 25:6 waar daar staan: “Moet jou nie vernaam aanstel by die koning en op die plek vir hoë mense gaan staan nie. Dit is beter dat hy vir jou sê: ‘Kom op hiernatoe!’ as dat hy jou laat plek maak vir die vername mense.” Maar onthou, Jesus sê dit hier vir die gaste van ’n vooraanstaande Fariseër, en dus is Hy eintlik besig om hulle te beledig.

Nádat Jesus eers die Fariseër deur middel van die “gelykenis” van die genesing van die watersugtige man, en daarna die man se gaste met die gelykenis oor beskeidenheid sleggesê het, draai Hy nou weer na sy gasheer en vat hom opnuut in die gesig: Jesus sê vir hom hy moenie die uitgelese en vermoënde mense uitnooi omdat hy weet dat hulle hóm weer gaan terugnooi nie. Hy moet eerder mense nooi wat hom op geen manier vir die uitnodiging kan vergoed nie. En wie presies is dit wat hy dan moet nooi? Die armes, die kreupeles, verlamdes en blindes! In Lukas 7 het ons gesien hoe Jesus met ’n sondares in sy midde eet. Vroeër, in Lukas 5, eet Jesus saam met tollenaars by Levi se huis. Daar eet Jesus met die mense wat ’n dokter nodig het, soos Hy dit self aan tafel in Lukas 5 stel. Hier in Lukas 14 vermeld Hy spesifiek die armes, die kreupeles, die verlamdes en die blindes. Dit is ’n verwysing na die magtelose mense, dié wat uitgesluit is uit die samelewing en wat min of geen eer en aansien geniet nie.

Jesus se kommentaar is baie doelbewus ingestel op die samelewing waarin Hy beweeg het en mense se ingesteldheid op eer, en ’n groot deel daarvan het afgehang van watter mense jou vir ete uitnooi en wie jou eie ete-uitnodigings aanvaar of dit afwys. Uitnodigings na maaltye en die aanvaarding van jóú uitnodigings was dus merkers van ’n mens se posisie en aansien in die samelewing. Mense het kliphard gewerk aan hulle eie gastelyste en hoe om op die invloedrykes se lyste te verskyn. Nou kom Jesus met die belaglike voorstel dat sy Fariseërgasheer ’n klomp arm mense sonder enige sosiale aansien moet uitnooi! Vir dié vooraanstaande Fariseër was so iets heeltemal ondenkbaar. As ’n gasheer sulke eerlose mense aan sy tafel moes gewaar, was sý eer daarmee heen. Mense het hulle lewe lank hard gewerk om ’n sekere status in die lewe te bereik deur sekere mense hulle vriende te mag noem en om deur hulle aanvaar en erken te word. En nou stel dié Jesus voor dat ’n mens armes, kreupeles, blindes en verlamdes na jou tafel moet nooi. Vir dié wat dit werklik sou doen, sou die prys bitter hoog gewees het.

Hier het ons dus eerstens kommentaar op die gaste se tafelmaniere omdat hulle die beste sitplekke vir hulleself uitsoek, en daarna volg kommentaar op die gasheer se tafelmaniere op grond van wie hy na sy tafel nooi. By albei groepe was daar verskuilde agendas wat te make gehad het met die eer en aansien wat hulle by ander mense wou kry. Jesus sê egter: Moenie so ingestel wees op die voorste plekke nie; gaan sit eerder agter. Hy sê ook die gasheer moenie mense nooi van wie hy kan verwag dat hulle hóm weer sal nooi nie. Nee, sê Jesus, jy kan jou eerder gelukkig ag as hulle jou nié op hulle beurt kan terugnooi nie omdat hulle nie oor die nodige vermoëns beskik nie. Dan nooi jy eintlik vir God as jou Gas. God nooi immers mense na sy tafel, en wie kan vir God terugnooi?

Ouderlinge en diakens

Die tema Ons is hoe ons eet is van besondere belang vir die taak van kerkraadslede, beide ouderlinge en diakens.

Die eerste gelykenis is Lukas 14 is vir die ouderlinge bedoel. Ouderlinge in die gemeente het immers die opdrag om om te sien na die leer en lering van die gemeente. Op ’n sekere manier gestel, en in die lig van Lukas 14, sou ons kan sê dat ouderlinge moet toesien dat ’n gemeente op die regte manier eet. Ouderlinge moet hulle dus voortdurend afvra: Hoe lyk die tafel van die gemeente waar ons dien? Wie sit waar aan by hierdie gemeente se tafel? Vir wie word die beste sitplekke gereserveer? Wie moet tevrede wees met afskeepplekkies? En wie kry glad nie eens ’n sitplek nie? Die teologiese vraag wat die ouderlinge hulle dus voortdurend moet afvra, is gewoon dít: Wie is die (G)gasheer aan die tafel(s) in ons gemeente? Ons? Of God? Solank as wat hulle toesig hou oor die gemeente se tafel en sorg dra dat God in Jesus die ware Gasheer by die tafel is, dan help hulle amp ’n gemeente om coram Deo te eet. Om “voor die aangesig van God” te eet is om te eet waar dié met die minste eer die beste plekke het; waar dié met die minste besittings die grootste en volste borde het; waar die buitestanders ingenooi word na die tafel, en waar die gasheer en gasvrou in diens staan van die gaste, ongeag wie hulle is. Dit is die ouderlinge se taak om by die tafel toe te sien dat hiérdie manier van eet in die gemeente waar hulle dien, toegepas word.

Die tweede gelykenis in Lukas 14 het ’n les vir die diakens: Die meeste gemeentes het heelwat projekte wat te make het met barmhartigheid of ontwikkeling. Daar is dikwels in gemeentes ook voedingsprojekte waardeur mense van kos voorsien word, soos ’n sopkombuis of kospakkies wat ingesamel en versprei word. Vra Jesus se tweede gelykenis – oor gasvryheid – van ’n gemeente om vir mense kos te neem of te voorsien? Nee. Alhoewel die Bybel in sy geheel dít van ons verwag, is dit nie wat hierdie tweede gelykenis sê nie. Dit is ongelukkig ingewikkelder as dit. Die tweede gelykenis vra nie dat ons aan armes kos voorsien nie, maar dat ons hulle na ons etes nooi en by ons aan tafel laat sit. In die eredienshandleiding van die NG Kerk (Vir die erediens) lui die formulier vir die bevestiging van diakens onder meer:

Die diaken se diens begin by die nagmaal (met ander woorde by die tafel) waar die gemeenskap met Christus en die medegelowiges gevier word. Daarvandaan word die liefde en barmhartigheid van God uitgedra na elke terrein van die gemeentelike lewe en na die samelewing.

In die lig van Lukas 14 beteken dit dat die diakens: daardie mense wat in ons dag tel onder die “armes, kreupeles, blindes en verlamdes” en nie tans by ons tafels aansit nie, moet gaan haal, en dat die diakens die tafel vir hulle sal dek en hulle sal bedien by daardie tafel waar hulle saam met die ander gelowiges eet.

Ons is hoe ons eet

As ons baie eerlik moet wees, dan soek ons almal maar soms ’n bietjie eer en sien ons nie so erg kans om saam met al daardie mense wat Jesus wil hê ons moet nooi, saam aan tafel te sit nie. Die versoeking is gevolglik groot om te vra of hierdie voorstelle van Jesus nie net ’n onpraktiese droom is nie. Is dit nie maar net gelykenisse wat op iets geesteliks dui en nie alte letterlik opgeneem moet word nie? Kan dit werk? Is dit prakties haalbaar vir gemeentes en gelowiges dat God in Jesus altyd self die Gasheer by ons tafels is en dat ons werklik so sal eet dat niemand uitgesluit word nie?

Droom daaroor

Ons sou baie verskonings kan uitdink waarom ons nie oor grense heen saam met ander mense wil eet en drink aan dieselfde tafel nie. Hoe dit ook al sy, inklusiewe tafelgemeenskap is ’n droom wat ons moet droom. En indien ons dit nog nie droom nie, dan moet ons léér om hierdie droom te droom. Indien ons dit prakties waar sou maak op alle terreine van ons lewe sou dit koninkrykswerk in die ware sin van die woord wees. Ons sal ook nie die eerstes wees om so te droom en daarna te strewe om dié droom prakties te laat realiseer nie … in dr Martin Luther King (jnr) se bekende toespraak in 1963, bekend as I have a dream, gee hy ’n beskrywing van die droom wat hy vir die Amerika van die 1960’s gehad het en sê daar onder meer:

Let us not wallow in the valley of despair, I say to you today, my friends. I have a dream that one day on the red hills of Georgia, the sons of former slaves and the sons of former slave owners will be able to sit down together at the table of brotherhood.

Met Lukas 14 nooi Jesus gelowiges uit om te droom, om te droom oor wat moontlik is in ons eie lewe, ons land, ons kerk en ons gemeenskap. Dit is ’n droom wat die leiers in gemeentes aan die een kant lewend moet hou en aan die ander kant is dit ’n droom wat die leiers moet help waarmaak.

Hoe eet jy?

Ons het tot dusver al telkens opgemerk dat daar geen beter indikasie is van wie jy as mens is of wie julle as ’n groep is, as om te kyk wat jy/ julle eet, en hoe en saam met wie julle dit eet nie. So kom ons vra onsself bietjie af: Hoe eet ons? Daar is natuurlik geen eenvormige wyse waarop almal dit doen nie, maar kom ons lig so ’n paar opsies uit. Ek dink ’n hele paar mense sal hulle die een of ander tyd met een van die volgende voorbeelde kan vereenselwig.

Voorbeeld 1

Jy eet voor die televisie, jou bord kos is op jou skoot en jou oë op die skerm; jy het geen kontak met mense rondom jou nie. Eet is vir jou ’n funksie ná ’n besige dag. Jy is net te moeg om nog met ander mense te praat. Jou ete voor die televisie is vir jou ’n vorm van ontspanning en daarná gaan jy slaap. In die oggend wanneer jy opstaan, is dit weer eens net ’n sluk hier en ’n hap daar, so in die hardloop terwyl jy tussendeur jou werksak vir die dag pak en jou baadjie aantrek of jou handsak gryp. Ons is oortuig dat daar in ons gejaagde lewe net nie tyd is om verkwis te word met ’n uitgerekte etery nie. Die lewe is net te besig. Buitendien is daar beter dinge om met jou kosbare tyd te doen, soos om ’n ekstra uur se werk by die kantoor te doen eerder as om met ander mense soos jou gesin saam te sit en eet.

Ons is hoe ons eet: Is baie van ons nie maar ten diepste selfgesentreerde werkoliste wat eintlik maar net op ons eie ambisies ingestel is en min tyd vir ander, selfs vir ons eie gesinslede, het nie? Dit is soos Bob Marley tereg sing in een van sy bekende Reggae-liedjies:

It’s a disgrace

to see the human race in such a rat race.

Voorbeeld 2

Julle hou ’n braaivleis. Die mans staan eenkant en praat hulle eie sake by die vuur, die vroue doen hulle eie ding in die kombuis of die sitkamer. Elke geslag ken sy of haar plek. Kyk hoe die Suid-Afrikaners braai en jy weet skokkend baie van die rolle en verwagtings van die verskillende geslagte in ons samelewing.

Ons is hoe ons eet: Ons het ver gevorder rondom geslagsrolle en ons glo mans en vrouens is gelyk … regtig?

Voorbeeld 3

Ek nooi graag mense oor ’n naweek vir ete en ek wil regtig hê hulle moet dinge by my huis geniet. Hulle moet egter nie die fout maak om te dink ek gaan hulle wéér nooi voordat hulle darem ook eers vir my oorgenooi het vir ete nie. Die gevolg is dat ek altyd mense nooi wat oor die vermoëns beskik om my ook weer terug te nooi. ’n Ete vir ’n ete. Ons almal weet tog dit is hoe dinge nou maar eenmaal werk. En wie ek nooi, is uiteraard mense uit my sosiale klas, mense wat by my pas, mense wat intelligente gesprekke kan voer. En tafelmaniere

  • dit is belangrik, want goeie maniere laat almal op hulle gemak Daarom nooi ek mense van wie ek verwag dat hulle mý weer sal nooi; mense deur wie ek graag genooi wil word.

Ons is hoe ons eet: Al praat ons mooipraatjies oor die waarde van ’n multikulturele samelewing, transformasie en integrasie, is ons ten diepste mense wat meestal by ons eie tipe hou en daarom is ons tafels nie besonder oop vir mense wat “anders” as ons is nie. Ons sal nog gasvry wees teenoor ordentlike mense van ons eie soort, maar alles het darem perke …

Voorbeeld 4

Het jy al gedink hoe die viering van die nagmaal ook ánders as gewoonlik kan wees? In plaas van ’n klein blokkie brood en ’n kelkie wyn wat jy as ’n heilige en gewigtige saak tussen jou en die Here eet en drink, kan julle gemeente mos ’n keer een brood neem en dit vir mekaar breek, een beker met almal deel, en in die persoon langs jou se oë kyk.

Ons is hoe ons eet: Daar is persone onder ons wat dadelik gaan sê: “Ag nee, moenie met daardie twak by my kom nie. Los my uit. Godsdiens is ’n ding tussen my en die Here, ek’s nie lus vir ander mense wat in my private ruimte inkom nie. Dit maak my net ongemaklik. Ja, ja ons is almal een in die kerk, maar ek dink die Here het bes moontlik iets geesteliks daarmee bedoel. Die nagmaal is mos ’n persoonlike saak tussen net my en die Here.” Is jy seker? Wys ons nagmaalsviering nie maar net vir ons dat ons ten diepste ’n klomp individualiste is nie?

Liturgiese gedagtes
RANGORDE VAN BELANGRIKE SITPLEKKE

Volgens Malina en Rohrbaugh (2003) se kommentaar op die Sinoptiese Evangelies het die tradisionele tafel en rangorde van die belangrikheid van sitplekke aan tafel soos volg daar uitgesien: Eerstens het almal op matte aangelê aan drie van die sykante van die tafel en die een kant is oopgelaat vir dié wat die kos bedien het. Van die ander drie sykante van die tafel was die middelste gedeelte (in medio) die belangrikste kant met die eerbaarste sitplekke. Die belangrikste posisie was aan die linkerkant van die hoof van die tafel (1) en dan verder in rangorde was die sitplekke daarnaas (2 en 3). Die sykant genaamd in summo was die tweede belangrikste sykant vir gaste, en die sykant genaamd in imo die kant met die onbelangrikste sitplekke.

in medio

 

3                                             2                            1

 

in imo                                     TAFEL                in summo

 

GEDIG

 

Lina Spies se gedig “Maaltyd” in die bundel Dagreis (1976, Kaapstad:

Human & Rousseau) sou voorgelees kon word in ’n erediens waar Lukas 14:11-14 die fokusteks is.

’n Paar opmerkings oor moderne etiket by ’n tafel sou die gedagtes kon prikkel en ’n gesprek stimuleer. Kyk byvoorbeeld na een van Emsie Schoeman se etiket-boeke of na ’n webwerf soos: http://www. uwm.edu/~ceil/doc/audnotes/DinnerEtiquette.doc

BEVESTIGING VAN NUWE KERKRAADSLEDE

(uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle, 2001, Lux Verbi.BM)

Lees Handelinge 6:1-4 (diakens) en Handelinge 20:28-35 (ouderlinge) en vra die volgende vrae:

  • Is jy oortuig dat God self jou vir hierdie diens geroep het?
  • Aanvaar jy die Ou en die Nuwe Testament as die volkome Woord van God?
  • Belowe jy om jou taak getrou te verrig?
  • Beloof jy om tot eer van God te lewe?
UITSTUURFORMULIER

Ons glo dat jy met die hand uitgesoek is om ’n besondere plek in die Koning se ryk in te neem.

Ons stel geen spesiale eise aan jou nie – dit is reeds spesiaal om ’n Christen te wees.

Daar word nie nou van jou verwag om anders te leef nie – dit word al sedert jou bekering van jou verwag.

Daar word wel van jou verwag om betrokke te raak by sake in jou omgewing, sosiale kwessies, ekologiese vraagstukke en mense se ekonomiese omstandighede – soos immers van elke Christen verwag word.

Jy word bevestig en geroep tot iets baie eenvoudigs en nie juis skouspelagtigs nie:

Jy moet gaan kennis maak met die onbekendes. Jy moet die vreemdelinge na die feesmaal bring.

Jy moet die siekes en behoeftiges gaan help en aan God opdra. Jy moet gaan vrede maak waar rusie is.

Jy moet verharde harte met liefde gaan versorg.

Dit alles kan jy doen, want die gemeente stuur jou:

In die Naam van die Vader, wat wag op die verlore seun se terugkoms, in die Naam van Jesus, wat sondaars verlos, en deur die Heilige Gees, wat jou persoonlik sal lei en krag gee.

Besoek ’n voedingsprojek

Dit sou ’n goeie tyd wees om, indien hierdie afdeling in die boek as ’n erediensreeks gebruik word, in kombinasie met hierdie tafel in Lukas, besoek te bring aan ’n plaaslike voedingskema en om verkieslik ook saam te gaan eet. Hierdie foto’s is afkomstig uit die Maitlandse Gemeenskapskerk in Kaapstad waar daar elke Sondagaand ’n aanddiens met ’n ete is. Sien hier onder ’n resep vir groentesop afkomstig uit hierdie gemeente.

AMANDA WILEMAN VAN DIE MAITLANDSE

GEMEENSKAPSKERK SE RESEP VIR GROENTESOP

Volgens Amanda Wileman is hierdie resep bedoel om met redelik min bestanddele vir baie mense ’n warm ete te gee.

Bestanddele

7,5 kg aartappels 5 kg wortels

5 kg uie

5 kg rape

5 sakkies sopbene

5 pakke droë sopmengsel sout en peper

6 pakkies spek (indien beskikbaar)

Metode

  • Sny al die groente
  • Voeg water, sopmengsel, sout en peper asook sopbene en spek
  • Kook tot al die bestanddele sag is.
  • Bedien met liefde.

Tafel 4

God is hoe Hy eet

Lukas 14:15-24

’n Benarde situasie … beredder?

Kan jy jou die situasie voorstel? ’n Baie spoggerige ete by ’n vooraan­ staande man se huis. Almal wil ’n aangename tyd hê en almal wil ook graag deur die vername gaste raakgesien word. En ja, almal wil ook sommer dié Jesus van wie almal praat, te siene kry en hoor watter wyshede Hy miskien by hierdie maaltyd kwytraak. Mense nooi mos graag ’n interessante persoon saam met hulle ander gaste vir ete, iemand soos ’n akteur of ander bekende persoonlikheid wat lekker kan gesels en jou gaste ’n bietjie kan vermaak. By dié geleentheid sou die bekende Jesus van Nasaret hierdie rol goed kon vervul. Die mense behoort ook beïndruk te gewees het met die Fariseër, omdat hy vir Jesus as gas aan sy tafel het. Hier in Lukas 14 sit almal nou aan by die vooraanstaande Fariseër se tafel. Hulle borde is vol van die beste kos en hulle glase vol van die duurste wyn, omring deur uitgelese gaste en op die koop toe kan hulle sommer ook hierdie Jesus van naby sien en hoor praat.

Ten spyte van al die goeie dinge op en om die tafel – die geselskap, die kos, die wyn – begin hierdie ete egter stap vir stap skeef loop. Hierdie buitengewone Gas begin om almal, veral ook sy gas­ heer, in die verleentheid te stel, soos wat ons by die vorige tafel ook gesien het. Jesus sê vir die Fariseërs hulle is hoogmoedig en stel hulle in ’n swak lig met sy kennis van die skrifte en die genesing van die man wat aan water gely het. Daarna beledig hy die gaste wat die beste plekke vir hulleself uitsoek en dan, die ergste, spreek Jesus die gasheer self aan (Luk 14:12­14) en sê: Jy moes nie die spul wat hier sit, genooi het nie; die armes behoort eerder jou gaste te gewees het. Was jy al ooit by ’n ete waar een van die gaste ’n totaal onvanpaste grap vertel het? ’n Klassieke voorbeeld in ons dag is dié van menige seremoniemeester by menige bruilof. Die bruid en haar ma beplan maande lank aan die perfekte onthaal, die kerse en die blomme, die troukoek en die ruikers, die spyskaart en die wynlys, maar dan is daar een veranderlike wat alte dikwels buite hulle beheer is: die seremoniemeester. Maar, nou ja, dié is volgens tradisie dikwels een van die bruidegom se beste vriende, en ’n mens kan hom tog nie voorsê wat om te sê nie! Soms kom daar dan heel onvanpaste grappies of opmerkings na vore, en die gaste gee maar hoflikheidshalwe sulke verbouereerde laggies. Maar meestal word almal net stil nadat die seremoniemeester een van sy onvanpaste wyshede kwytgeraak het. Almal is skaam namens die seremoniemeester, wat sélf dikwels salig onbewus bly van die feit dat hy of sy besig is om onvergeeflike sosiale blapse te begaan. Gewoonlik probeer iemand in die geselskap dan die situasie red deur op ’n manier die onderwerp te verander om die aandag af te lei van die persoon by die mikrofoon se flater.

In Lukas 14:15 tref ons só ’n situasie aan. Jesus is besig om die gebruiklike etiket aan tafel liederlik te verontagsaam en die ander gaste skuif ongemaklik op hulle stoele rond. Die man wat in vers 15 aan die woord kom, probeer om die netelige situasie wat met Jesus se woorde aan die vooraanstaande Fariseër se tafel ontstaan het, te beredder. Ewe diplomaties sê hy: “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.” Hy wil duidelik by hierdie deftige tafel die aandag aflei van Jesus se “swak tafelmaniere”, van die wyse waarop Hy beide gasheer en gaste beledig het, om sodoende die swaar atmosfeer wat ’n mens so pas nog met ’n mes kon sny, te verlig. Ná die man se opmerking slaak almal ’n sug van verligting. Sjoe, amper het dié deftige maal waarvoor daar soveel moeite gedoen is, geëindig in ’n sosiale fiasko!

God se tafel lyk só

Maar hulle het vir Jesus onderskat. Hy vat die man se opmerking soos aas. Hy gebruik dit as aanknopingspunt om sy gelykenis oor die groot maaltyd (Luk 14:16­24) te vertel. Jesus gaan Hom nie so maklik van stryk laat bring deur hierdie man se goed bedoelde vrome opmerkings oor die maaltyd in die koninkryk nie, want Hy het ’n punt wat Hy wil maak … ’n dringende boodskap om te bring. Deur dié gelykenis gee Jesus vir hulle (en ons) ’n kykie in God se hart. Hy illustreer hoe God se etenstafel lyk.

Die tema van hierdie vierde tafel is: God is hoe Hy eet. In Jesus se beskrywing van die groot maaltyd kry ’n mens dan ’n antwoord op die vraag: Hóé eet God?

Ook as e-boek beskikbaar  

Die eerste antwoord op dié vraag is: As God eet nooi Hy mense om te kom deelneem. “Daar was ’n man,” sê Jesus en sinspeel op God wat die Man is, “wat ’n groot maaltyd gegee en baie mense genooi het” (Luk 14:16). Daar was onder andere ook ryk mense onder die genooide gaste – Jesus sê immers dat hulle osse besit het en grond kon koop. Die mense het egter almal verskonings gehad waarom hulle nie kon kom nie. In daardie tyd sou ’n mens kon wegkom met die tipe verduidelikings wat in Lukas 14 aangebied word. Selfs vandag nog sou ’n wittebrood ’n goeie verskoning wees om nie ’n ete by te woon nie. Daar word dikwels gesê dit was flou verskonings wat die mense hier in die gelykenis aanvoer, maar dit was heeltemal geldige en oor­ tuigende redes in daardie tyd.

Die punt wat Jesus wil maak, is dat God se uitnodiging juis prioriteit moet geniet bo jou beste verskonings. God nooi ons gedurig na sy tafel; Hy nooi ons daagliks om by Hom te kom aansit. En ons het dikwels verskonings … Ek kan nie nou nie ek’s al klaar laat vir werk; volgende maand sal ek kom, want dié maand moet my belastingop­ gawe ingedien word; daar is ongelukkig dié week ’n ernstige spertyd by die werk en ’n groot som geld is op die spel; nié hierdie naweek nie, daar’s groot rugby en boonop moet ek nog Sondag se preek klaar skryf. Só het ons almal verskonings om nie God se uitnodiging na sy tafel te aanvaar nie. Maar behoort sy uitnodiging dan nie voorkeur te geniet bo ons beste verskonings nie?

Toe die vermoënde mense nie “die man” se uitnodiging wou aanvaar nie weens verskeie goeie verskonings – so gaan Jesus se gelykenis voort – toe word die armes, kreupeles, blindes en die verlamdes genooi! Die mense wat Hy noem, het geeneen veel aansien gehad nie. Hulle was immers die onrein mense wat in Levitikus 21:18­20 gelys word: “Geen persoon wat ’n liggaamlike tekortkoming het, mag offer nie: geen blinde of kreupele of iemand met ’n misvormde gesig of liggaamsdeel, of met ’n gebreekte voet of hand, of met ’n boggel of ’n onderontwikkelde liggaam, of met ’n pêrel op die oog, of met skurfte of veluitslag, of ’n beskadigde geslagsdeel nie.” Maar in die gelykenis wat Jesus vertel, praat Hy van ’n God wat werklik álle mense sonder onderskeid na sy etenstafel uitnooi. Hy nooi die ryk mense én Hy nooi die arm mense én dié met gebreke. In hierdie gelykenis word ’n tema wat al telkens in Lukas se “tafel­tekste” na vore gekom het, verder gevoer. Jesus deurbreek die teenstelling tussen rein en onrein wat daar in sy tyd in Israel gegeld het. Hy sluit die voorheen uitgeworpenes in.

God nooi egter nie net sosiaal uitgeworpenes na sy tafel nie. Wan­ neer hulle al almal uit die strate en die gangetjies by die feesmaal kom aansluit het, is daar nog plek. En dít is ’n belangrike kenmerk van God se tafel: Daar is altyd nóg plek om te kom aansit. Indien ons aan Lukas 14 vra: “Hoe eet God?” is die antwoord: Hy eet aan ’n tafel waarheen Hy álmal uitnooi en waar daar altyd plek is vir nog mense. Toe die mense van die strate en gangetjies klaar by die tafel aan­ gesit het en daar steeds plek oor was, toe word ook die mense in die paaie en lanings uitgenooi. Die “paaie en lanings” verwys na ’n area net buite ’n stedelike gebied waar mense gewoon het wat oor eeue heen uit die sentrale deel van die stad verwyder is sodat kontak met hulle vermy kon word. In daardie omgewing sou prostitute woon of leerlooiers en mense wat met lyke gewerk het en daarom as onrein beskou is. Hulle was mense wat doelbewus deur mure en strate afgeskei is van die ander mense. Daardie strate en gangetjies en paaie en lanings was gebiede waar welaf mense nie hulle voete sou sit nie. Die mense wat in die “strate en gangetjies en paaie en lanings” gewoon het, sou op hulle beurt ook nie sommer in die sentraler dele van die stad gekom het, waar die vooraanstaande mense se blyplek was nie. En tog … word die paaie­en­lanings­mense volgens Jesus se gelykenis genooi om by Gód se tafel in die koninkryk te kom aansit. En hiermee word dan vir ons nog ’n bietjie lig gewerp op hoe God eet. En hoe God eet, vertel ons meer van wie God is. God se tafel wys vir ons iets van God se hart.

En as daardie man wat in vers 15 die netelige situasie aan die vooraanstaande Fariseër se tafel wou red deur aan Jesus ’n vraag oor die koninkryk te vra, so om hom rondkyk, dan sien hy waarskynlik nie homself, of enigeen van die ander gaste by God se tafel in die koninkryk aansit nie. Want wie húlle gedink het “in” sou wees, is toe al die tyd “uit”; wie hy gedink in die voorste gestoeltes sou sit, sit nou agter.

Dit word nou al hoe duideliker wat ons tema vir hierdie tafel – God is hoe Hy eet – eintlik beteken: God is soos ons Hom leer ken na aanleiding van hoe sy etenstafel in die koninkryk lyk.

Hy is ’n God wat alle mense uitnooi na sy tafel.

Hy is ’n God wat ons verras met wie Hy almal by sy tafel laat aansit. Ons tref daar mense aan van wie die samelewing nie gedink het dat hulle daar sou wees nie.

Hy is ’n God by wie se tafel daar altyd nóg plek is.

Ja, in Jesus se gelykenis tipeer Hy God as inklusief en verdraagsaam. Aan die ander kant wys hierdie gelykenis ook dat dit waar is – tot op ’n punt. In ons eie dag is baie gelowiges versigtig om as Christene aanstoot te gee en daarom sal hulle daardie laaste vers (Luk 14:24) van hierdie perikoop nie te erg benadruk nie. Wel, God is inklusief en Jesus is baie verdraagsaam, dit is waar – maar daar is volgens dié vers ook mense wat nie hulle mond aan die kos in die koninkryk van God gaan sit nie. Daar is wél mense wat nie gaan saameet by die feesmaal in God se koninkryk nie. Dit word in soveel woorde gesê. Dié hoofstuk sou baie meer “aanvaarbaar” kon wees indien die gelykenis by vers 23 geëindig het. Daar staan egter dat geeneen van daardie eerste genooides wat sulke goeie verskonings gehad het, by God se tafel in sy koninkryk gaan aansit nie. Daar is dus beslis ’n dringendheid en ’n erns aan die gelykenis wat Jesus by daardie Fariseër se maaltyd vertel.

Twee uitnodigings

Ons moet sy verhaal verstaan teen die agtergrond van die kultuur van daardie tyd: Die mense het destyds twee ete­uitnodigings uitgestuur. Die eerste is lank voor die geleentheid al uitgestuur, en dan was daar weer een kort voor die ete sou plaasvind. Met die eerste uitnodiging is die gaste net ingelig omtrent die feit dat hulle genooi is na ’n maal­ tyd. En dan pas voor die aanvang van die ete, wanneer al die kos reeds gereed was, is ’n slaaf uitgestuur om vir al die voorheen genooide gaste te gaan sê: “Die kos is nou gereed, die tafel is gedek, die gasheer wag vir julle.” Hier in Lukas 14 kry ons ook die twee uitnodigings. Die mense in hierdie verhaal is ook lank voor die tyd genooi, maar met die tweede uitnodiging het hulle verskonings. Dit is soos God se verbond met Israel. Ons kan sy verbond met Israel sien as die “eerste uitnodiging” na die ete in die koninkryk. Die tweede uitnodiging, die een waarvoor daar so baie verskonings was, verwys na die dood en opstanding van Jesus Christus. Dit is die nuwe verbond wat met Jesus se bloed beseël is. Dié twee uitnodigings het dus onderskeidelik gekom met die sluit van die ou verbond, en weer met die nuwe verbond.

En by hierdie nuwe verbond, die een wat met die bloed van Jesus Christus beseël is, is daar nog plek oop. God wil almal daarby insluit. Hy nooi rykes én armes; liggaamlik perfek geskape mense én kreupeles; mense wat kan sien én dié wat blind is; mense wat kan loop én verlamdes. Die uitnodiging is oop en die tafel is groot, want daar is altyd nóg plek. Tog sou ’n mens ’n fout begaan as jy jouself sou wysmaak: Ag, alles is maar toelaatbaar, God is mos liefdevol en genadig en daarom sal daar altyd iewers vorentoe nog tyd wees sodat niemand tog die ete in die koninkryk misloop nie.

Maar, nee: Hoewel God se liefde en genade altyd voorloop, is God se genadige uitnodiging na sy tafel ook ’n skerp snydende oproep. Daardie uitnodiging het die potensiaal om groepe mense te skei soos lig en duisternis by die skepping geskei is. God se uitnodiging skei geloof en ongeloof. Dié wat in Jesus Christus glo, gaan in God se koninkryk by sy tafel aansit. En dié wat daar gaan sit, is hulle wat God gekies en geroep en geheilig het.

Maar hierdie gelykenis wys óók vir ons met ongeëwenaarde trefkrag dat die mense wat aan God se koninkrykstafel gaan aansit, nie noodwendig die soort mense is wat ek en jy sou kies om aan God se tafel te sit nie. By God is die laastes eerste en die eerstes laaste … dit is hoe God eet.

Jesus se kruis en opstanding is ’n tweede uitnodiging, ’n uitnodiging aan elkeen van ons. Dit is ’n uitnodiging na die tafel in die middel van die kosmos. In Openbaring 4 sien ons ’n tafel in die middel van die heelal en ’n skare wat daarby aansit. In Jesaja 25 hoor ons dat ’n feesmaal gereed gemaak is op die berg van die Here. En in Openbaring 19 word die feesmaal met die Lam gevier. God nooi jou uit om om by sy tafel te kom aansit en deel te word van sy gemeenskap. God sê: Kom, kom sit aan. Ek nooi jou, dit is verniet, jy skuld My niks nie. Daar is nog plek vir jou ook by my tafel.

God is hoe Hy eet. En hoe eet God? Hy is ’n vreemde God wat saam met uitgeworpe mense eet; Hy is ’n God met ’n ruim hart – so ruim soos sy tafel waaraan daar altyd nog plek is. En Hy nooi ook vir ons, Hy nooi: Kom, sit aan by my tafel, moenie verskonings uitdink nie, daar is niks op aarde so belangrik as dat ons God se ete­uitnodiging aanvaar nie. God sê deur Lukas 14 vir jou: Ek het vir jou persoonlik ’n plek gedek by my tafel; Ek het jou gekies om saam met My te kom aansit en fees te vier. Jy hoef van jou kant af niks te doen nie. Jy moenie eens ordentlik probeer wees en ’n bottel wyn of blomme saambring nie. Moet niks saambring nie; kom met leë hande; kom sit net aan, daar is ’n plek vir jou.

En die ordentlike mense, dié wat deur Jesus se “swak” tafelmaniere en etiket in die verleentheid gestel word; dié wat God se tafel tot elke prys wil beskerm en die sitplekke reserveer vir dié wat dit verdien en die slegte, onverdienstelike lot probeer weghou van God se tafel … hulle gaan honger en dors wees in die koninkryk.

Liturgiese gedagtes

WET AS DANKBAARHEID (na aanleiding van Eks 20)

Ek is die Here jou God wat jou na Kanaän, die land van melk en heuning gelei het.

Jy moet net vir My aanbid as jou God. Die een God – Vader, Seun en Heilige Gees – moet al jou eer en diens ontvang.

Jy moet my liefhê, en Ek sal my liefde betoon aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en liefde bewys teenoor die hele skepping.

Gebruik my Naam met eerbied; aan My kom al die lof toe.

Geniet die Sondag as ’n geskenk om te rus na ’n besige week, om die opstanding te vier, en om tyd met jou geliefdes deur te bring.

Jy moet eerbied hê vir jou ouers, vir elke vorm van lewe, vir die huwelik, vir dit wat aan ander behoort en vir die waarheid.

Ek is die Here jou God wat jou uit genade gered het. Volg hierdie riglyne uit dankbaarheid; Ek sal jou seën.

WET AS DANKBAARHEID (na aanleiding van Luk 10)

Voorganger: Die Here vra van ons om uit dankbaarheid sy gebooie te gehoorsaam.

Gemeente: Wat is die grootste en eerste gebod?

Voorganger: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.

Gemeente: En wie is ons naaste?

Voorganger: Voorganger gee ’n kort opsomming van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan en eindig met die vraag: “Wie van hierdie drie is volgens julle die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”

Gemeente: Die man wat aan hom medelye bewys het.

Voorganger: Gaan maak julle ook so.

LIED (Lied 253:1-2 in die Liedboek van die kerk as epiklese-gebed)

U het die brood gebreek eens by die meer –

breek nou die lewensbrood vir my ook, Heer.

Wil steeds u waarheid meer aan my ontvou

tot ek ook in u Woord my Heer aanskou.

U is die lewensbrood, Heiland, vir my.

U is die waarheid, Heer, U maak my vry.

U beeld straal uit die Skrif so helder voort –

U soek ek, Heer, Uself, o lewend’ Woord.

Maitland-Gemeenskapskerk se Kersete vir hawelose mense

Elke jaar in Desember hou die lidmate van die Maitlandse Gemeenskapskerk ’n ete vir die hawelose mense van Maitland. Die foto’s hier langsaan is by een van hierdie geleenthede geneem en die spyskaart soos wat me Amanda Wileman dit neergeskryf het, wys duidelik dat absoluut geen moeite ontsien is nie.

Breyani in Brooklyn

In 2007 het ’n gemeente in Brooklyn, Kaapstad, ’n middageteprojek vir die plaaslike hawelose mense begin. Aangesien die gemeente self nie oor besonder baie fondse beskik vir hierdie doeleindes nie, is ver­ skeie organisasies gevra om te help. Een so ’n poging tot hulpverlening het gekom van ’n skoolkoshuis wat die kos wat aan die einde van ’n week oorgebly het, vir die projek geskenk het. Die eerste keer dat hierdie kos egter by die gemeente aangekom het, het iemand by die koshuis (seker in hulle haas of onkunde, maar heel moontlik nie aspris nie) alles wat oor was, net eenvoudig alles saam in een groot houer gekrap, waarskynlik met dien verstande dat dit net opgekook sal word in ’n groot (voedsame) konkoksie. Toe Cathy en Maggie die houer in die kerk se kombuis oopmaak, was hulle redelik ontsteld oor wat hulle daarin aangetref. Sonder om verder te dink het hulle dit in die asblik uitgekrap (dit het werklik morsig gelyk!). Op my versigtige vraag: “Wat gaan dan nou aan?” het hulle kortaf geantwoord: “Ons werk hier met mense, nie met honde nie.”

Hulle is saam na Cathy se huis toe en het later teruggekeer met ’n geurige breyani­dis waarmee geen moeite of onkoste ontsien is nie. En op daardie eerste oggend het die hawelose mense van Brooklyn soos konings gesmul aan Cathy en Maggie se breyani. Hulle het ook ’n hoflike boodskap deurgestuur na die koshuis. Sedertdien kry hulle die oorskietkos netjies en apart verpak, sodat ’n mens aartappels van vleis en vleis van pampoen kan onderskei. En die disse wat hulle daaruit optower, is hemels. Die vorige week se ou brood word broodpoeding, ou aartappels verander in gebraaide aartappels en ’n skottel pampoen verskyn as geurige pampoenkoekies. Wanneer ’n mens sien wat hulle doen en hoe hulle dit doen, kan ’n mens nie anders as om met ’n glimlag aan Jesus se gelykenis van die maaltyd in die koninkryk te dink nie. Volgens Cathy, Maggie en Lukas 14 gee God nie vir hawelose mense ou brood nie, inteendeel, net die beste is goed genoeg!

CATHY EN MAGGIE VAN YSTERPLAAT

SE RESEP VIR BREYANI

Bestanddele

1 kg maalvleis

1 ui

2 koppies lensies

2 koppies rys

’n bietjie olie

20 ml knoffel en gemmer fyn gekap 2 brandrissies

1 stuk kaneel kerrieblare lourierblare

15 ml borrie

3 teelepels kerriepoeier

1 teelepel marsala sout na smaak

Metode

  • Kook rys en lensies apart tot gaar, maar nie te sag
  • Smoor die uie, knoffelmengsel, rissies, kaneel en blare tot die uie sag
  • Gooi die kerriepoeier, marsala en sout in en kook ’n paar minute deur die mengsel.
  • Voeg vleis by en kook tot die vleis sag en gaar
  • Meng rys, lensies en vleismengsel in bak en plaas in oond op lae hitte vir ’n paar minute.

Tafel 5

Ons is wat ons eet

Lukas 22:7-23

Survivor” op televisie

Het jy al die TV­program Survivor gekyk? Dit gaan mos basies oor ’n groep mense wat saam op ’n eiland is, allerlei opwindende avonture beleef en uitputtende speletjies speel – met die doel om te sien wie kan oorleef (die “survive” van die Engelse titel). Indien dit al was wat gebeur het en wat bepaal wie wen, sou die speletjie erg voorspelbaar wees: Die sterkste persoon of die een met die meeste natuurlike aanleg om in die natuur te oorleef, sou waarskynlik wen. Maar hier is die kinkel in die kabel: die sogenaamde “tribal council” waar hulle elke week almal saam moet byeenkom om een van die spanlede uit te stem. ’n Mens moet dus elke keer stem teen ’n persoon saam met wie jy op die eiland gewoon en probeer oorleef het. En dan vergeet niemand natuurlik dat die “survivor” wat tot in die heel laaste ronde deurdring, een miljoen dollar wen nie! Die gevolg … ’n onderduimse, voortslepende gekonkel. Hoewel dinge op die oppervlak kalm en edel mag voorkom, vorm daar gedurig onheilige onderliggende alliansies wat volledig ingestel is op eiegewin.

Survivor” in Lukas

Lees ’n mens die hele hoofstuk 22 van Lukas baie aandagtig, sien jy dit is ’n vorm van Survivor wat daar afspeel. Ja, dit is die bekende verhaal wat oploop na Jesus se dood en vorm deel van die sogenaamde Passie­narratief in Lukas. Gewoonlik lees ’n mens die teks met voor­ opgestelde idees oor die blye tyding van die evangelie, oor die heilige atmosfeer van ’n nagmaalsviering, die agtergrond van die pasgamaal, oor goeie en getroue dissipels, oor solidariteit en kameraadskap van medegelowiges. Maar lees ’n mens weer noukeurig, sien jy dat die scenario wat in Lukas 22 geskets word nie ver is van Survivor se gekonkel nie.

Vers 1­6 vertel hoe Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, met die priesterhoofde en offisiere van die tempelwag ooreenkom om Jesus te verraai vir geld. Die gedeelte wat ná vers 7­23 volg, vertel dan weer van onenigheid onder die dissipels. En waaroor handel dié meningsverskil? Oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word! Dan volg die deel waar Jesus voorspel dat Petrus Hom sal verloën. En wanneer Jesus, volgens Lukas 22:39 en die verse wat daarop volg, biddend in Getsemane worstel – só erg dat sy sweet soos bloed­ druppels op die grond val … dan lê die dissipels en slaap.

Dus, vanuit sy binnekring word Jesus bedreig. Uit sy eie groep vertrouelinge wat tot in Jerusalem die pad saam met Hom geloop het, kom een wat pens en pootjies deel van die plan is om Hom uit te lewer; die ander laat Hom ook in die steek. Wanneer Jesus dieper instap in hierdie beproewing, stap Hy dus eintlik maar alleen. Daar kan dus ekstra klem op die eerste lettergreep van die woord nagmaal geplaas word, want tydens hierdie maal is dit inderdaad nag!

Maar Jesus word ook van buite bedreig. Die priesterhoofde en die owerhede soek ook sy bloed. En wanneer hierdie verhaal van lyding ’n dieptepunt bereik, dan red sy Vader Hom nie. Van buite én in sy binnekring is dit hier in Jerusalem inderdaad vir Jesus van Nasaret nág! Dit is die atmosfeer waarbinne hierdie ete afspeel: Dit is nag.

Lukas maak ’n punt daarvan om te sê dat hierdie viering in Lukas 22 deel van ’n pasgamaal was. Daar is byvoorbeeld sprake van twee bekers wat gedrink word. In die tradisionele pasga is daar ook meerdere bekers, meestal vier. Ons lees oor die pasga in Eksodus 12: van die haas waarmee geëet moes word, van die bitter kruie, die lam, ensovoorts. In Eksodus het ons te doen met mense wat saameet en wat solidêr is met mekaar. Húlle gevaar dreig van buite – die Egiptenaars van wie hulle moet vlug. Hulle staan egter saam, vlug saam, en God is by hulle. Maar in teenstelling met die situasie by die Eksodus­pasga dreig daar by Jesus se laaste pasga gevaar wat van buite én van binne dreig. Hier is die tafel die simbool van ’n gebroke en stukkende wêreld. Dit is nie net die strukture daar buite wat mense bedreig nie, nee, ook van binne kom bedreigings. Ons weet ook dat dit soms jou beste vriende is wat jou inloop, jou man of vrou wat jou verraai, kinders wat droogmaak, jou beste vriend wat jou verneuk en laat bankrot speel. En aan Jesus se tafel daardie aand in die bovertrek was dit voorwaar ook ’n Survivor­situasie … en die Een wat daardie aand in die “tribal council” uitgestem is, was niemand anders nie as die Seun van die mens.

Maar dit is die punt. Dit is waarom Lukas dit met ons deel. Jesus stel nie die nagmaal in in ’n vreedsame atmosfeer met rustige viool­ musiek en laggende vriende nie. Nee, dit is juis in die swartste nag denkbaar dat Jesus sê: Vir My is dit vir eers die einde, maar vir julle, ten spyte van julle onderduimsheid en gekonkel, is dit die begin. Ja, die man wat my verraai, eet nou saam met ons, maar dít is juis die wêreld waarheen Ek gekom het. Mense wat gesond is, het immers nie ’n dokter nodig nie. Mense wat geestelik versadig is, het nie die brood en wyn van die nagmaal nodig nie. Jesus kom dus ons gebroke wêreld binne, die wêreld soos wat ons hom goed ken, met al sy gebroke mense.

Nagmaal as troos en as uitdaging

En so is dit steeds dat Jesus die swartste nag van ons wêreld, van jou en my wêreld, binnekom, die nagmaal instel en sê: Dit is presies waar­ voor Ek gekom het – vir ’n gebroke wêreld, gebroke lande, gebroke gemeentes, gebroke families, gebroke mense. Juis vir gebrokenes word my liggaam gebreek.

Dit is die troos van Lukas 22: dat Jesus in ons swartste nag ’n nag­ maal instel wat sê nee, alles is nie verby nie; daar is meer. Die troos is dat Jesus van Nasaret ons swartste nag binnekom en saam met ons déúr daardie nag loop. Hy loop selfs deur die dood voor ons uit sodat ons ook agter Hom aan deur die dood sal loop. Dit is die troos­deel van Lukas 22. Saam met hierdie troos is daar egter ook ’n uitdaging in die teks.

’n Mens sien die uitdaging in die woorde van vers 19: “Gebruik dit tot my gedagtenis.” Met ander woorde: Onthou My as julle hier eet en drink. Jesus sê: Eet en onthou. En wanneer jy eet, onthou dat jy is wat jy eet. Of eerder en meer korrek: Jy word wat jy eet. Soos ons in die nagmaal eet en drink, word ons al meer wat ons reeds in Jesus Christus ís.

Onthou, sê Jesus. Onthou elke keer wanneer julle so saameet dat Ek self die Lam van hierdie paasmaal is. Ek is die Lam wie se bloed aan die kosyne van jou lewe gesmeer is, sodat die verdoemenis van die ewige dood jou nie sal besoek nie. Soos die Engels dit stel, “You shall be passed over.” En onthou tweedens ook dat Ek gaan om vir julle die bruilofsmaaltyd van die Lam in die koninkryk van God te gaan voorberei. Julle moet dus in twee rigtings onthou wanneer julle eet en drink:

Onthou agteruit, onthou die kruis.

Onthou vorentoe, onthou die maaltyd in die koninkryk wat kom.

En onthou: Wat jy onthou, is wat jy ís en wat jy ook ál meer sal word. Jy is/word wat jy eet.

Beelde sê dikwels veel meer as wat baie woorde kan doen. So is dit ook met die Tsjeggiese kunstenaar Oskar Kokoschka (1886­1980) se potloodskets met die titel “Solidêre Christus” (kyk na die afdruk van dié skets hier onder by “Liturgiese gedagtes”). Op die oog af lyk dit soos ’n klassieke uitbeelding van die kruistoneel, maar dit bied verskeie interpretasiemoontlikhede, wat almal rondom die konsep van solidariteit wentel.

Kokoschka se skets kom uit sy sogenaamde Londen­periode en is tussen 1945 en 1946 geskep, dus teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Sy passie was om ongeveer 5 000 plakkate tydens die Kersfees van 1945 op alle publieke plekke in Londen aan te bring. Die oorspronklike weergawe daarvan het ’n Engelse opskrif: In memory of the children of Europe who have to die of cold and hunger this Xmas. In ’n sin druk dit dus Kokoschka se persoonlike Kersfeeswens as ’n kreet uit – teen die honger en die koue, teen die oorlog en die ontmensliking van daardie tydvak.

Kokoschka se tekening lyk op die oog af eenvoudig, en selfs asof dit te vinnig en moontlik onnadenkend geskets is, maar wie dieper kyk, sien die talle betekenislae wat daaruit afgelei kan word. In dié komposisie herken ’n mens dadelik die klassieke trekke: die INRI (“Jesus van Nasaret, koning van die Jode”) bokant die Gekruisigde se kop; die doringkroon en die spykers in die handpalm. Die mense rondom die kruis herinner aan die skare rondom die kruis op Golgota.

En tog is daar merkwaardige afwykings van die klassieke uitbeeldings van die gekruisigde Christus. Hy hang byvoorbeeld slegs met die een hand aan die kruis. Met die ander beweeg Hy weg van die kruis af. Vir iemand wat kerklike kuns goed ken, is die Anastasis of Opstanding­ikoon van die Oosterse kerk dadelik sigbaar. In dié ikoon is Jesus Christus besig om konkreet die dood te oorwin. Hy trek letterlik gestorwe gelowiges uit die graf uit op na die ewige lewe. Hy leef dus, al is Hy gekruisig, en Hy reik uit na die skare rondom Hom. Hier vloei God se uitreiking na die mens in die Kersfeesgebeure, Goeie Vrydag se kruis en Paassondag se opstanding ineen.

Maar daar is ’n nog dieper moontlike interpretasie; veral ook in die lig van Lukas 22 is dit hier belangrik. Die mense wat rondom die kruis staan, is naamlik nié Maria of die apostels of die soldate nie, maar die honger kinders van Europa. En, as ’n mens goed oplet, sien jy dat die saamgedromde, verhongerde kinders die uitgestrekte hand van Christus eet. Een van die figure het reeds Christus se hand in sy mond. Hier het ons dus ’n radikale uitbeelding van Christus se solidariteit met lydende mense, in hierdie geval die honger kinders van Europa. Hy gee Homself, offer Homself aan hulle. Vanaf die kruis bied Hy Hom aan as brood, as lewende voedsel, vir die kinders. Hier­ die skets is dus ook ’n interpretasie van die nagmaal.

Op sy heel diepste punt is dit dus ’n uitbeelding van Christus se solidariteit met dié wat swaar kry – in hierdie geval koue en honger kindertjies. Dit herinner ons dat ons solidêr met Christus is en word soos wat ons die brood en wyn van die nagmaal gebruik, en daarmee vereenselwig ons ons ook, soos Hy, met mense in nood. Deur ons deelname in Christus, wat iets is wat God se Gees met ons doen, wórd ons al meer wat ons ís, naamlik die liggaam van Jesus Christus op aarde. Hiervan is die nagmaal die kragtigste teken en seël. Ons is wat ons eet. Of eerder ons word wat ons eet. En dit wat ons word … is die liggaam van Jesus op aarde, die gekruisigde, opgestane liggaam wat gegee is en steeds voortdurend gegee word vir ’n wêreld vol nood.

Dit gebeur juis in ’n wêreld wat lyk soos die tafel in Lukas 22. Dit is ’n dreigende wêreld vol sameswerings en ’n onderduimse gekonkel. En vir só ’n wêreld word Jesus gegee, word die nagmaal ingestel, sodat ons ook ál meer kan word wat ons ín hierdie wêreld is.

Soos ons die nagmaal gebruik en doen wat Jesus ons gevra het om te doen – naamlik om Hom te onthou – word ons ook al meer gebreek. Ons word soos die gebreekte brood, want net gebreekte brood kan werklik uitgedeel word aan dié wat dit benodig. Soos wat ons aan die nagmaalstafel eet en onthou, word ons al meer die liggaam van Christus in hierdie wêreld. Dat die gemeente die liggaam van Christus is, is met ander woorde nie net ’n mooi beeld nie, maar ’n radikale realiteit. Kokoschka verstaan vir Lukas. Wat sê Lukas? Die eters sal geëet word. Wie gebreekte brood en uitgestorte wyn in die nagmaal oor sy of haar lippe neem, word al meer Jesus die Gekruisigde deelagtig. Wie gebreekte brood eet, word al meer gebreekte brood wat deur mense in nood “geëet” sal word.

Lukas 22 sê die nagmaal is ’n ongelooflike troos. In ’n wêreld waar die reëls van Survivor geld, kom Jesus en troos ons met sy kos. Lukas 22 sê egter ook: Pas op! Namate jy eet, word jy al meer wat jy is, naamlik die liggaam van Jesus … die kerk.

Liturgiese gedagtes

In die voorafgaande bespreking van Lukas 22 het ons reeds ’n geruime tyd by die skets langsaan van Kokoschka stilgestaan. Lees gerus ook Paul Post se bespreking van hierdie skets in die artikel “De Solidaire Christus van Oskar Kokoschka” in die boek Ritueel bestek (sien “Geraadpleegde bronne” vir besonderhede).

IL de Villiers se gedig “Tafel” uit sy bundel Vervreemdeling is ’n baie gepaste gedig om deel van die liturgie te maak.

Beplanning vir ’n meer sintuiglike nagmaalsviering

Die kans is goed dat indien Lukas 22:7­23 die fokusteks van die Sondag is, daar ook nagmaal gevier gaan word. In Lukas 22:19 breek Jesus die brood en sê vir sy dissipels: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee is. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Jesus sê met ander woorde: Onthou My wanneer julle in die toekoms die nagmaal vier. Wanneer ons dink aan onthou, lê ons gewoonlik die klem op mense se breinkapasiteit. Ons nagmaalsformulier sê ook nie verniet op ’n kritieke oomblik in die viering dat ons daaraan moet dink nie. Maar al ons sintuie kan ons help om te onthou, en sekere sintuie, soos ons reukorgaan, is eintlik beter vir onthou as van die ander. Dink maar net aan Opperman se gedig: “My nooi is in ’n nartjie; my ouma in kaneel …” Wat hier onder voorgestel word, is na aanleiding van gedagtes van Joy Engelsman wat as ’n artikel in die tydskrif Reformed worship verskyn het. Dit kan gemeenteleiers help om ’n nagmaalsdiens só in te rig dat al die gemeentelede se sintuie, en hulle eie, so ingespan word dat almal die gebeure so goed moontlik sal onthou. Volg die twee maklike stappe wat me Engelsman voorstel en kyk watter verskil maak dit. Let wel, hierdie voorstelle word nie aangebied as ’n erediensfoefie nie, maar wil juis Jesus se opdrag van onthou nog beter en getrouer gehoorsaam.

Stap 1

Elke gemeentelid gaan sit in die kerkgebou op ’n plek waar hy of sy nie gewoonlik sit nie. Indien jy die predikant of orrelis is of deel is van die begeleidingspan, sorg net dat jy nie op die preekstoel of by die orrel of klawer­ of klankbord sit nie, maar iewers tussen die gemeentelede.

  • Wat sien die gemeente in julle kerkgebou wanneer hulle op ’n Sondag aanbid?
  • Ruik ’n bietjie die lug, wat ruik hulle? Verbeel jou wat hulle hoor?
  • Wat sou hulle voel?
  • Hoe sou hulle hier beweeg?
Stap 2

Kies ’n enkele tema vir die nagmaalsviering. Span nou die “Vyf sintuie”­oefening in om jou gemeente te help om dit te onthou.

Ons neem as voorbeeld die tema van plaasvervangende versoening, die idee dat Jesus in my plek aan die kruis gesterf het.

  • Sien: Het julle ’n houtkruis iewers? Kan mense dalk hulle name op ’n lang serp skryf en dan drapeer julle dit oor die kruis?
  • Klank: Lees tekste uit die Bybel en dalk ook uit ander bronne wat oor hierdie tema handel, terwyl die tekens van die nagmaal bedien word. Daar is dan ’n redelike lang tyd vir hierdie tipe voorlesings
  • Tas: Dalk kan mense ’n regte spyker in die hand neem? Of aan ’n stuk hout vat om die tekstuur daarvan te voel?
  • Sien: Maak ’n skyfievertoning van julle gemeente. Sluit alle ouderdomme in, uiteraard met hulle toestemming.
  • Klank: Laat verskillende stemme die name van lidmate hardop uitlees, vermeng met name van Bybelse karakters wat ook voorgangers in die geloof is.
  • Tas: Koppel die sakramente in die erediens. Skeduleer byvoorbeeld ’n doop vir dieselfde diens, of plaas die doopvont voor by die tafel en laat mense hulle hande in die water doop voordat hulle die brood en die wyn neem. Hoe sou ’n mens ’n belydenisaflegging kon inskakel?
  • Reuk: Kies goeie sap of wyn wat geurig ruik – dalk iets anders as die gewone reuk van soetwyn. Bak die nagmaalsbrood in die kerk se kombuis en sit dit so warm­warm in die kerkgebou Sny of breek dalk die brood in dié ruimte – sodat die reuk nog in die lug hang wanneer die lidmate binnekom. Sorg dat die liturgiese ruimte werklik opvallend na varsgebakte brood ruik.

NAGMAALSVIERING (geskoei op die pasgaliturgie en na aanleiding van Luk 22)

Uitnodiging deur die liturg:

Ons kom nou by die viering van die nagmaal, en almal word uitgenooi om dit saam te vier. Jesus het self gesê, “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” Die manier waarop ons dit vanoggend doen, is soortgelyk aan die wyse waarop Jode die pasga duisende jare lank gevier het en steeds ook vier, en daarom is … (’n kind se naam) hier om my te help.

Vraag: Hoekom dank en loof ons God by hierdie tafel?

Antwoord: Ons dank en prys God vir sy skepping van die wêreld en dat hy ons ook almal geskep het. Ons dank God ook vir sy verlossing van die wêreld deur die dood en opstanding van sy Seun, Jesus Christus. Verder dank ons God omdat daardie verlossing ook aan elkeen van ons behoort.

Vraag: Hoekom drink ons ook wyn by hierdie tafel?

Antwoord: In die nag voordat Jesus verraai en gekruisig is, so vertel Lukas ons, het Jesus tydens die pasgamaaltyd ’n beker geneem, die dankgebed uitgespreek, en vir sy dissipels gesê: “Neem, en gee dit vir mekaar aan. Ek sê ook nou vir julle dat Ek nie weer wyn sal drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.” Daar­ mee het Jesus ook bedoel dat ons, wanneer ons by die nagmaalstafel aansit, vorentoe sal kyk na die tafel in die hemel waar ons eendag saam met Hom gaan maaltyd hou.

Vraag: Hoekom eet ons ook brood by hierdie tafel?

Antwoord: Nadat Jesus die beker omgestuur het, het Hy ook die brood in sy hand geneem. Daarna het Hy die dankgebed gedoen, die brood gebreek en vir die dissipels gegee met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Jesus sê met ander woorde vir sy dissipels drie dinge: drink, eet, en onthou.

Vraag: Lukas skryf dat Jesus ook ’n tweede beker geneem het. Waarom?

Antwoord: Met die beker wat hulle ná die ete gedrink het, het Jesus weer dieselfde gedoen en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word”.

Vraag: Wat onthou ons dus by hierdie tafel?

Antwoord: Ons onthou vir Jesus. Jesus wat ook vanoggend hier saam met ons aansit. En as ons vir Jesus onthou, dan onthou ons hier by die tafel ook God se ongelooflike liefde vir ons elkeen. Ons onthou dat Jesus vir ons gekruisig is. Ons onthou dat Jesus opgestaan het, sodat ons ook sal opstaan uit die dood. En ons onthou ook dat God se Gees elke dag vir ons sorg.

Daarom liewe gemeente …

  • Brood: “… die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem, eet, en onthou dat Jesus se liggaam gebreek is tot ’n volkome versoening vir al ons sondes.
  • Wyn: “… die beker van danksegging is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem, drink, en onthou dat Jesus se kosbare bloed vergiet is tot ’n volkome versoening vir al ons sondes.”

LITANIE

Voorganger: Jesus, dink aan my, wanneer U in u ryk kom. Hoor ons gebede. Vir u kerk oor die wêreld heen …

Gemeente: … vra ons nuwe lewe.

Voorganger: Vir almal wat dien in u kerk …

Gemeente: … vra ons genade en wysheid.

Voorganger: Vir Christene in elke land …

Gemeente: … vra ons eenheid in u Naam.

Voorganger: Vir mense van ander gelowe …

Gemeente: … vra ons ook u seën.

Voorganger: Vir almal wat sukkel om te glo …

Gemeente: … vra ons u liefde.

Voorganger: Vir die leiers en regeerders van ons land …

Gemeente: … vra ons leiding.

Voorganger: Vir mense wat ly en treur …

Gemeente: … vra ons u troos en helende vrede.

Voorganger: En vir myself …

Gemeente: … vra ek dat U ook aan my sal dink.

Voorganger: Amen.

Gemeente: Amen.

Die onthou-simboliek van die pasgamaal
  • Die ongesuurde brood herinner aan die haas waarmee die Israeliete Egipte verlaat het.
  • Die bitter kruie herinner aan die bitter slawerny in Egipte.
  • Die vrugtepuree­pasta simboliseer die klei waarmee die Israeliete as dwangarbeiders in Egipte bouwerk moes doen.
  • Die pasgalam herinner aan God se genadige oorslaan van Israel met die dood van die eersgeborenes.
  • Die rooiwyn simboliseer die bloed van die paaslam wat aan die deurkosyne gesmeer is.
Name vir die nagmaal

Agape is ’n Griekse woord vir liefde, en dit verwys na ’n liefdesmaal wat in die eerste eeue gevier is. Oor die presiese verhouding tussen die agape­maal en die nagmaal is daar nie eenstemmigheid nie. Was dit een en dieselfde ete, of miskien twee heeltemal verskillende geleenthede? Of was dit twee soorte etevierings wat soms oorvleuel het? Daar is nie sekerheid hieroor nie. Hoe dit ook al sy, hierdie benaming en soort viering van liefde vertel ook vir ons iets van die rykheid van die sakrament van die nagmaal.

Die eucharistie is ’n verwysing na die Griekse woord vir dankbaarheid en hou verband met Jesus se dankgebed tot sy Vader terwyl Hy die sakrament ingestel het. Dit is ook ’n mooi naam wat ons wil herinner wat die sentrale houding is wat hierdie sakrament wil benadruk, naamlik dankbaarheid.

Die mis is ’n benaming wat in die historiese deel (Deel C) van hierdie boek verduidelik word. Daar word gesê dat die woord “mis” oorspronklik net verwys het na die uitstuur of seën na afloop van die erediens (Ite messa est – “die mis is afgehandel”). Met die verloop van tyd het dit egter ’n term geword wat verwys na die hele viering, wat ook die nagmaal ingesluit het.

Kommunie of “Holy Communion” is ’n naam wat probeer om die “gemeenskap” (koinonia) waarvan in 1 Korintiërs 10:16 gepraat word, uit te lig … “Die beker van danksegging … is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?”

Die term nagmaal het te doen met die Nederlands term “avondmaal” en verwys na die tydstip waarop Jesus hierdie viering ingestel het. Ek vermoed die naaste Engels is “the Lord’s supper” en soms word in Nederlands ook na hierdie sakrament verwys as “die maaltyd van die Heer”. Daar is iets besonder moois in die Engelse naam, aangesien dit iets bevat van wie die Gasheer van die ete is.

Tafel 6

God is met dié saam met wie ons eet

Handelinge 10:1 – 11:18

Soort soek soort

Wie van julle het al saam met Jode geëet? En met ’n Moslem? Of dalk saam met Hindoes? Of wie het al saam met ’n hawelose persoon geëet? Of saam met ’n groep mense van ’n bepaalde professie waarvan jy nie self deel vorm nie? Was jy al saam met ’n hoogwaardigheidsbekleër, soos ’n burgemeester, aan tafel? Of saam met die president van ons land? Julle sien wat ek bedoel … ’n mens sou werklik kon sê ons is met wie ons eet. Dink gerus met wie saam jy gereeld eet (of nooit eet nie). Sê dit dalk vir jou meer van jouself as wat jy graag sou wou erken?

Ja, as die meeste mense regtig eerlik moet wees, dan moet hulle erken dat hulle die meeste van hulle tyd deurbring met mense soos hulleself. Dalk het mense soms ’n multikulturele ete oor die naweek, ’n ete waar wit, bruin en swart mense saamkuier – maar dan is die kans dikwels goed dat so ’n multikulturele groep ’n mono­inkomstegroep is. Die feit is eenvoudig dat mense oor en weer kuier saam met mense wat hulle taal praat, hulle velkleur het, hulle geloofsoortuigings deel, ongeveer dieselfde inkomste as hulle het, ensovoorts. Die gesegde lui mos: “Soort soek soort”, en daarom verkies mense om saam met hulle eie soort mense te eet. Dit is gewoon makliker, en dit is soos hulle dit mos nog altyd gedoen het.

Die feit dat soort soort soek beteken ook dat, as ’n mens meer van ’n sekere persoon of groep wil weet, jy bloot kan gaan kyk saam met wie dié persoon of groep mense meestal ’n tafel deel – en jy sal reeds baie kan uitvind van wie hulle is. ’n Ander gesegde lui weer: “Aan jou vriende word jy geken,” en op grond hiervan is Jesus destyds ’n vriend van tollenaars en sondaars genoem, en ook “’n vraat en ’n wynsuiper”. Dink ’n oomblik na oor die vriende saam met wie jy gereeld eet – dit is die vriende aan wie jy geken word … Ons spreektaal sê dit ook: “Hulle is ‘ons soort mense’.” En dit is eintlik net met goeie vriende en (soms ook) familie met wie die meeste mense goed oor die weg kom en met wie hulle dus ook saameet.

Soort kos en soort vriendskap

In ’n artikel oor die antropologie van kos getiteld “Deciphering a meal”, wys die Britse antropoloog Mary Douglas daarop dat die hegtheid van vriendskappe bykans direk afleibaar is van die soort kos wat tussen mense (vriende?) gedeel word. Dink gerus na oor watter mense jy vir watter soort ete of verversings by jou huis oornooi. Byvoorbeeld:

  • Drankies is vir vreemdelinge, kennisse, werkkollegas.
  • Etes is vir familie, naby vriende, geëerde gaste.
  • En tussen drankies en ’n groot gekookte ete is daar ’n hele rits drumpels van intimiteit wat in vriendskapsverhoudings oorgesteek kan word en wat ook gesimboliseer word deur die tipes kos wat bedien word, soos om slegs sop te bedien, of dalk ’n ligte koue ete, of miskien ’n informele braai (die voorbeelde sal uiter­ aard van samelewing tot samelewing verskil).

Volgens Douglas is die vloeibaarheid of hegtheid van die vriendskap direk vergelykbaar met die vloeibaarheid of digtheid van die kos. Sy bedoel letterlik die fisiese digtheid van die kos wat genuttig word – vanaf slegs drankies vir veraf kennisse, deur sop vir nader kennisse, tot by ’n gekookte ete wat uit vaste kosse soos vleis en aartappels bestaan, vir intieme vriende.

Dit is duidelik: Soort soek soort, en vriendskap en kos loop hand aan hand. En dit is vir mense moeilik om hierdie roetines en gewoontes – hier spesifiek saam met wie mense wel eet en saam met wie hulle nié eet nie – te verander. Wat is die redes waarom dit vir mense so moeilik is om los te breek uit hierdie gewoontes? Daar is ’n hele paar redes, maar veral twee is van belang. Aan die een kant is dit omdat mense baie dikwels vooroordele het teenoor mense wat anders is as hulle. Aan die ander kant is dit pure gewoonte, die idee dat ons nie sommer ’n ding op ’n ander manier sal kan doen as wat ons gewoond is om dit te doen nie. My pa het byvoorbeeld sy vaste sitplek by ons etenstafel gehad, en ek kan my kwalik voorstel dat hy op enige ander stoel aan die tafel kon gesit het! Ja, so tussen vooroordeel en gewoonte sukkel die meeste mense maar om die maniere waarop hulle dinge doen, te verander.

Vooroordeel

Kom ons gaan nou met hierdie gedagtes oor kos, gewoonte, vriendskap en vooroordeel terug na die tafels in Lukas se tyd. Hoe het sake daar uitgesien in die tyd toe Lukas die eerste stukkie kerkgeskiedenis geskryf het wat ons vandag ken as die boek Handelinge? Wel, die Jode het baie streng wette gehad rakende wat hulle mag eet, en saam met wie (vgl Skrifgedeeltes soos Lev 11 en Deut 14). Hierdie wette is vir ons redelik bekend, soos byvoorbeeld dat ’n Jood nie varkvleis mag geëet het of ’n maaltyd saam met ’n onbesnede heiden mag genuttig het nie.

Die meeste van die mense van wie ons in die vorige tekste in Lukas se Evangelie gelees het, was natuurlik Jode. Dit was mense soos Petrus wat die Jode se dieetreëls goed geken en ook nagekom het. Hulle was besny en het die kosjervoorskrifte gehoorsaam. En vroeg in Lukas se opvolgboek vir sy Evangelie, naamlik Handelinge, kom daar bekeerlinge by en begin die kerk van Jesus uitbrei. Van hierdie bekeerlinge was Jode, maar teen die tyd dat Lukas hier skryf, het die Jodedom reeds die kerk van Jesus fel begin veroordeel.

Volgens Willimon het die vroeë Christelike kerk gedink dat hulle as ’n onderafdeling van die Joodse geloof sou kon voortbestaan. Dit het egter nie vir hierdie eerste gelowiges so uitgewerk nie. Teen die tyd in die kerk se geskiedenis wat deur Lukas in die boek Handelinge beskryf word, word die gelowiges uit die sinagoges geskop en aan hulle eie lot oorgelewer. In plaas daarvan dat al die Jode Christene geword het, was die kerk vinnig besig om ’n nie­Joodse verskynsel te word. En dit is soos die meeste mense vandag ook die kerk beskou – as ’n instelling wat deur die nie­Jode oorheers word. Daar is sommige van ons wat miskien nou, juis vanuit ons perspektief waarbinne nie­Jode die kerk oorheers, sal wil vra: “Maar sal die Jode ook gered word deur God?” Wel, dit is glad nie ’n vraag wat die boek Handelinge vra nie. En die blote feit dat die vraag by sommiges opkom, is eerder ’n teken van vooroordeel en die perspektief van ’n meerderheidsgroep. Handelinge werk met die belofte en veronderstelling dat die Jode deel in God se beloftes soos ontvang deur Abraham en herbevestig deur die geskiedenis. Dat die Jode wel deur God gered word, word in die boek Handelinge veronderstel. Die vraag wat Handelinge vra, is: Kan die héidene gered word?

Handelinge 10 – 11 handel presies oor hierdie soort vooroordeel teenoor ander mense, mense soos die Jode; en oor ’n Christenmeerderheid wat wonder of God Jode ook sal red. Dit gaan oor vooroordeel wat tussen verskillende mense bestaan en die mure wat hulle as gevolg daarvan voortdurend tussen hulleself en ander oprig. Maar meer nog as die vooroordeel, gaan hierdie teks oor die afbreek van daardie vooroordeel, en oor hoe God self dit bewerkstellig.

Ja, vooroordeel is ’n siekte waaraan baie mense ly. ’n Vertelling van vader David Smith, ’n Amerikaanse priester, illustreer hierdie swaar saak op ’n ligte trant:

In ’n kroeg in New York sit twee mans aan die teenoorgestelde kante van die kroegtoonbank. Hulle beloer mekaar deurentyd terwyl hulle ’n paar biere drink. Die een man is ’n Joodse Amerikaner en die ander een ’n Chinese Amerikaner. Ná sy derde bier vat die Joodse ou die bietjie wat nog in sy glas oor is, stap oor na die Chinees toe en gooi dit op sy kop uit terwyl hy sê: “Dit is vir Pearl Harbour. My oupa is dood in Pearl Harbour!”

“Pearl Harbour?” roep die Chinees uit. “Ek is ’n Chinees, man! Dit was die Japannese wat Pearl Harbour aangeval het.”

Die Jood antwoord: “Ag wat, Chinees, Japannees, Viëtnamees, julle is almal dieselfde vir my.”

En net daar vat die Chinees sy glas bier en skiet die inhoud in die Jood se gesig uit, met die woorde: “En dit is vir die Titanic. ’n Oom van my is dood in daardie ramp!”

“Die Titanic?” gil die Jood. “Wat het ek uit te waai met die feit dat die Titanic gesink het? Dit was ’n ysberg.”

“Goldberg, Steinberg, Ysberg – almal is vir my dieselfde,” antwoord die Chinees.

Dit is sommer net ’n grappie, maar ons almal leef met ons voor­ oordele. Party hou nie van die Jode nie, ander nie van die Chinese nie, en nog ander nie van Afrikaners, Sotho’s of Engelse nie. Oral en in alle tye definieer mense hulleself dikwels in terme van wie hulle juis nié is nie. Die Nederlanders is redelik ernstig oor die feit dat hulle nié Belge is nie. In Skotland neem mense heelwat tyd om te verduidelik waarom hulle nié Iere of Engelse is nie. En vanaf die vroegste Bybelse tye het die Jode groot moeite gedoen om te ver­ duidelik dat hulle nié heidene is nie, maar wel Jode. Die Jode was God se uitverkore mense en daarom anders as ander mense. Die manier waarop hulle hierdie andersheid en hulle eie identiteit gedefinieer het, was deur hulle godsdienstige reëls en rituele. Die kern hiervan was die regulasies oor besnydenis, en oor wat ’n mens nie mag eet en saam met wie jy nié mag eet nie.

Bekering van vooroordeel

Handelinge 10 – 11 kom keer daardie eeue oue reëls en wette op hulle kop. Dié hoofstukke staan in dieselfde tradisie as die manier waarop Jesus hierdie reëls en wette in Lukas se Evangelie omgekeer het, soos wat deurgaans in die vorige besprekings aangetoon is. In die hele Handelinge­boek word die meeste plek dan ook afgestaan aan die vertelling oor Petrus en Kornelius – ’n duidelike aanduiding dat dit hier vir Lukas oor ’n uiters belangrike saak gaan: oor die bekering van vooroordeel. Dit gaan oor my ouma wat die plaaswerker se bord en beker onder die wasbak in die kombuis moet uithaal en saam met haar eie eetgerei in die kas pak! Om tot so ’n stap te kan oorgaan, is niks minder nie as bekering van vooroordeel nodig. Dit is nie iets wat my ouma uit haar eie kan doen nie, nee, dit vra ’n groter mag om dié soort vooroordele te beëindig.

So ook met Petrus in Handelinge. In ’n geestevervoering wys God vir hom ’n groot doek met al die viervoetige en kruipende diere en die wilde voëls daarin. Hy kry die opdrag om te slag en te eet. Petrus weier natuurlik, want as hy hierdie soort onrein diere sou slag en eet, sou dit beteken dat hy die Joodse godsdienstige reëls oortree – iets wat hy nog nooit gedoen het nie. God bevestig egter sy opdrag deur­ dat dit drie maal gebeur. Dan kom die drie mans van Kornelius af daar aan om Petrus te kom haal. Alles in die vertelling bou stelsel­ matig op totdat Petrus ’n ware bekeringsoomblik beleef en kan sê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar uit enige volk mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.” Petrus besef dat voor die Skeppergod ’n Jood soos hy self en ’n Romeinse nie­Jood soos Kornelius, absoluut gelyk is. Dit bevestig God deurdat daardie grensmerker wat deur eeue gegeld het – naamlik die onderskeid tussen rein en onrein kos – nou finaal opgehef word. En terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op mense gekom.

Wat hier beskryf word, is egte bekeringsgebeurtenis. Mense ver­ ander nie hulle opinie oor só ’n ingrypende saak oornag nie. Nee, God gee sy Gees om bekering, ook van vooroordeel, in mense te bewerk. Petrus se bekering van sy vooroordeel ten opsigte van heidene is ’n wonder wat die Heilige Gees laat gebeur.

Hierdie gebeure in Handelinge is nie die eerste maal dat ons by Lukas van ’n bekering by Petrus lees nie. In Lukas 5 sê Jesus vir Simon Petrus: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” Dadelik het Petrus vir Jesus begin volg. Dit was vir Petrus ’n bekeringsoomblik. In Lukas 24 gebeur dit weer wanneer Petrus die enigste dissipel is wat reageer op die vroue se tyding dat Jesus opgestaan het. Hy hard­ loop na die graf toe en word gevul met verwondering oor alles wat gebeur het. Later, in Lukas 24:34, hoor ons dan dat Jesus ná sy op­ standing aan Simon verskyn het. Die Evangelie volgens Johannes gee vir ons meer besonderhede oor wat daar tussen Jesus en Petrus gebeur het ná Jesus se opstanding uit die dood. Johannes 21 vertel van Jesus se drie vrae aan Petrus oor sy liefde vir Hom, en van Petrus se antwoord. Ook dít is niks anders nie as nog ’n bekering van Petrus

– hierdie keer ’n bekering tot hernude toewyding nadat hy Jesus pas tevore drie maal verloën het. Daar was dus eers, aan die begin van Lukas se Evangelie, ’n bekering by Petrus in die vorm van roeping; aan die einde van dié Evangelie ’n bekering tot inkeer en berou; en dan volg Handelinge 10 en 11 se beskrywing van Petrus se bekering van vooroordeel.

Deur die uitbeelding van die persoon en lewe van Petrus word dit vir ons duidelik dat bekering nie ’n maklike of eenmalige saak is nie, maar ’n lang en moeisame pad. Soms is bekering ’n Petrus wat ’n skuit uitsleep op die sand, uitklim en agter Jesus begin aanloop. Soms is bekering ’n Petrus wat met trane in sy oë bely: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” In Handelinge 10 – 11 is dit ’n man en uiteindelik ’n hele kerk wat, aanvanklik teen hulle wil, deur die Gees van Christus oor ’n grens gedruk word. ’n Mens sou dié bekering amper kon beskryf as ’n kwessie van gelowiges wat skoppend en skreeuend oor die grense van vooroordeel heen na nuwe plekke gedruk word. Met Petrus en die kerk wat gebring word “waar hulle nie wil wees nie”, hoor ons Johannes 21:18 in die agtergrond eggo. Hier word ’n man en uiteindelik ’n groep mense gedwing om te meng met dié met wie hulle eintlik nie wíl meng nie. Eintlik gaan dit ook oor veel meer as om net sosiaal te meng; dit gaan om éénwording met mense wat anders as jy self is, maar nietemin deel is van die een liggaam van Jesus Christus. Om die insig te kry dat ’n mens die genade en verlossing wat jy van God ontvang het – en waarvan jy altyd oortuig was dat dit net aan jou en aan mense soos jy behoort

– moet deel met mense van wie jy tot vanoggend toe nog gedink het dat hulle onrein is … dít is ingrypende bekering. Dit is ’n moeilike vorm van bekering, wat die Heilige Gees bewerk, en waarteen ons almal hewig vasskop.

 

Ook as e-boek beskikbaar  

Om deur bekering daardie soort grense oor te steek is egter nie net vir ons moeilik nie; dit is onmoontlik. En tog gebeur dit. Handelinge 2 vertel ook van die grens van taal wat oorgesteek word. En dáár is dit die Heilige Gees wat dit doen. Ja, enige grense van taal, kultuur, ras of godsdiens tussen mense word slegs oorgesteek indien die Heilige Gees hulle letterlik oor daardie grens boender. Om ’n grens oor te steek, vra bekering. En bekering vind net plaas wanneer die Heilige Gees deur mense begin waai en aan hulle ruk soos die suid­ oostewind Kapenaars gereeld rondpluk.

In Handelinge 2 word die taalgrens tussen Jode oorgesteek, en in Handelinge 10 en 11 gaan dit verder wanneer ook die grens tussen Jood en heiden oorbrug word. Met dié twee voorbeelde uit die kerk­ geskiedenis, waar die Heilige Gees mense tot bekering beweeg het, eindig dié beweging van die Gees egter nie. Dit is een ding om self tot bekering te kom, maar dit is ’n heeltemal ander storie om jou gemeente óók te oortuig en met hulle ’n pad te stap totdat hulle tot ’n soortgelyke bekering kom. Daardie wonderwerk gebeur in Han­ delinge 11:1­18 wanneer Petrus die Joodse gelowiges wat hom in Jerusalem oor alles verwyt het, ook oortuig. Ja, dit is een ding om self oortuig te raak, maar probeer dit ’n bietjie deel met die kerkraad, die ring of die sinode … Dan raak ’n mens se bewustheid van jou eie onvermoë dadelik sterker en styg jou afhanklikheid van die Heilige Gees oombliklik.

Dit is net die Heilige Gees, die Gees van Christus, wat dié oortuiging in mense bewerk. Dat dit die Gees van Jesus Christus is, beteken dat dit ook die Gees van die gekruisigde en opgestane Here is – ’n Here wat gekom het om te dien eerder as om gedien te word; ’n Here wat nie gehuiwer het om mense se voete te was nie. Die Gees van Christus wil ons juis ook tot dié gesindheid bekeer – ’n gesindheid van nederigheid en ’n prysgee van ons gevoel van meerderwaardigheid. Eers wanneer dít gebeur, het ons met bekering te make en eers dán word ’n radikale oorsteek van grense tussen verskillende mense en groepe moontlik.

Later in die geskiedenis is die grense nog verder oorgesteek en nog meer mure afgebreek. Hoe ondenkbaar was die idee van vroue in die amp nie net enkele jare gelede nie! Hoe totaal onaanvaarbaar was die idee van ’n swart president in Suid­Afrika nie enkele dekades gelede nie! Hoe ondenkbaar die idee van ’n swart president van die magtige VSA! Is al hierdie voorbeelde slegs toeval, of is dit alles tekens van die Heilige Gees van bekering wat in die geskiedenis aangehou waai het, en wat steeds onder mense waai? Dit ís ’n Heilige Gees wat steeds aanhou waai om die meerderwaardige houdings en vooroordele tussen mense (tussen ons!) aan skerwe te laat spat en te vervang met nuwe harte van nederigheid en diensbaarheid.

Watter ander vooroordele broei daar nog by mense (by óns)? Wat is die vooroordele waarvan mense (ons) volgende bekeer moet word? Die antwoord op die vraag na wat die volgende vooroordeel of skeidingsmuur is wat die Heilige Gees in jou en my lewe moet afbreek, is opgesluit in die tema waarmee ons begin het, alhoewel effens gewysig, naamlik: Jy is met wie jy eet en God is met wie jy eet. Gaan kyk gewoon saam met wie jy eet, en saam met wie jy nié eet of nie kans sien om te eet nie. Ons ontdekking van wie die mense of groepe is vir wie ons werklik nie kans sien nie, is bes moontlik presies die grens waaroor God se Heilige Gees ons volgende gaan dwing … al skop ons en skreeu ons ten hemele. Ja, dié Wind waai waar Hy wil, veral oor grense heen. Die Heilige Gees, God self, werk aktief deur ons eetgewoontes heen.

Seën deur die krake

Soms waai die wind so sterk dat ons in die kerk so half windverwaaid en deurmekaar voel soos ná ’n dag in die Kaapse suidoos. Dit voel asof dit waaraan ons jare gebou en gevorm het, begin wankel. Ons voel bedreig deur al die nuwighede, vanaf vroue in die amp tot met gay predikante, en dit begin voel asof ons kerke se vaste fondamente begin kraak. Dit voel asof ons vaste en onwrikbare oortuigings poreus begin word. Tog kan dit wees dat ons as kerk juis in dié tye wanneer dit voel asof ons krake kry, eers werklik tot seën word vir die wêreld rondom ons – soos daardie eerste Joodse gelowiges ’n seën geword het vir die heidene rondom hulle. Daar is ’n ou Indiaanse fabel wat hierdie punt mooi illustreer:

’n Waterdraer het twee groot kleipotte water met ’n juk oor sy skouers gedra. Elke dag moes hy water van die rivier af teen die bult op tot by sy werkgewer se huis dra. Die een pot was perfek en heel. Die ander pot het ’n paar krakies gehad. Wanneer die waterdraer by die huis gekom het, was die een pot dus vol maar die ander een het langs die pad die helfte van sy water verloor. Uiteindelik, na jare van arriveer met ’n half-leë pot en met ’n groot skuldgevoel daaroor, het die gekraakte pot vir die waterdraer gesê: “Ek is so jammer dat ek nie ook kon regkry wat die perfekte pot reggekry het nie. Al die tyd het ek net die helfte van die water gedra en moes jy nog harder werk om méér kere te gaan water haal.”

Maar die waterdraer het geantwoord: “Daar is absoluut niks waarvoor jy om verskoning hoef te vra nie. Kyk na die pragtige blomme wat al langs die pad van die rivier af tot by my werkgewer se huis groei! Hulle groei so mooi as gevolg van al die water wat jy deur die jare gelek het. Aan die perfekte pot se kant van die pad is daar niks blomme nie!”

Liturgiese gedagtes

Die simbool van die geblinddoekte vrou van geregtigheid vergestalt die ideaal van onbevooroordeeld wees. ’n Etiketlose bottel wyn wat in ’n sogenaamde “blindeproe” gebruik word, kommunikeer ook hierdie waarde.

Vir “kindertyd” in die erediens sou ’n mens kon aansluit by hierdie simbool deur vir die kinders ’n klein wit broodjie te wys en na aan­ leiding daarvan te verduidelik dat God nie ’n onderskeid tussen mense maak nie en dus geen witbroodjies het nie.

Uit Ronelda S Kamfer se bundel Noudat slapende honde sou ’n hele paar gedigte gebruik kon word om die pyn van vooroordeel, en hoe moeilik dit is om grense oor te steek, treffend uit te druk. Die motto­gedig “Waar ek staan” is besonder treffend. As dit opgespoor en in die erediens voorgelees of op die afkondigingspamflet afgedruk kan word, kan dit die boodskap dramaties help tuisbring.

Geloofsbelydenis

Artikel 2 van die Belydenis van Belhar sluit teologies goed aan by ons tema en sou tydens die tafeldiens of ’n moontlike nagmaalsviering gebruik kon word.

 

NAGMAALGEBED (uit die Didaché)

Here, ons God, ons loof U

as Skepper van hemel en aarde.

Ons dank U vir die koringare uit die grond wat gemaal is tot hierdie brood;

vir die druiwetrosse wat saamgepers is tot hierdie wyn.

Ons loof U,

want U is die Gewer van alle goeie gawes.

Ons loof U, want U is die lig,

en daar is geen duisternis in U nie.

Here Jesus, dankie dat U al ons luide en stille noodkrete hoor.

Dankie vir u ontferming.

Staan vandag asseblief stil by elkeen van ons.

En doen tog vir ons

wat ons uit ons harte van U vra.

Here, ons bid in die besonder

vir die hereniging van u kerk op aarde:

Soos wat hierdie gebreekte brood oor die berge gesaai was

maar saamgebring is en een brood geword het

– laat so ook u kerk uit die vier uithoeke van die aarde

saamgebring word in u koninkryk,

want aan U kom toe die heerlikheid en die krag

deur Jesus Christus tot in ewigheid.

Gesamentlike ete

Die dag wanneer Handelinge 10 – 11 as deel van ’n preekreeks of andersins behandel word onder die tema Ons is met wie ons eet, sou ’n goeie dag wees om regtig ook ’n ete te geniet waartydens grense oorgesteek word. Toe hierdie reeks in Pinelands en Maitland in Kaap­ stad aangebied is, het dié twee gemeentes se lidmate ook ná afloop van die betrokke erediens almal saamgeëet.

Tafel 7

Om mekaar te sien …

Handelinge 2:41-47

’n Verkondiging van ons toekomsverwagting?

Onthou jy nog hoe die nagmaal tradisioneel in baie kerke gevier is? Daar is ’n paar adjektiewe wat dadelik by ’n mens opkom wanneer jy terugdink. Sommige daarvan is sekerlik “ernstig”, “somber”, “gewyd”, “persoonlike belewing”. Die aspek wat hier uitgelig word, is die uiters persoonlike aard wat die viering van die nagmaal destyds gehad het en wat steeds in baie gemeentes die geval is. ’n Mens kyk nie links of regs nie; jy hou jou oë gerig op jou blokkie brood en jou kelkie wyn; jy luister na die woorde van die formulier en dink daarby aan jou eie lewe en jou saak met die Here. Die nagmaal, sou mense vir jou gesê het, is net ’n persoonlike saak tussen myself en die Here. Dié individuele benadering het gemaak dat elke gemeentelid afsonderlik so verwyder van die ander mense in die diens was soos daardie perfek gesnyde blokkie witbrood en kelkie wyn verwyder is van die oorspronklike hele brood en een beker.

Die nagmaalsformulier in die eredienshandleidings van die NG Kerk (die nuwe een en die vorige een) lig ses betekenisse van die nagmaal uit. Die vierde betekenis lui só: “Die nagmaal is … ’n verkondiging van ons toekomsverwagting.” ’n Verkondiging? Van ons toekomsverwagting? Daardie somber gesigte waaroor die fronse diep kepe maak en nie een persoon dit eens oorweeg om in die rigting van die persone langs hom of haar te kyk nie? Wat “verkondig” so ’n nagmaalsviering? Watter soort toekomsverwagting spreek uit die gesigsuitdrukking van die nagmaalsgangers?

Handelinge 2 praat van ’n maaltyd wat “gevier” is. Die teks verduidelik hoe dit gedoen is en noem direk daarna dat die Here elke dag mense wat gered is by die gemeente gevoeg het. Heel moontlik is hier ’n verband tussen hoe hierdie gelowiges saamgeëet het en die feit dat daar elke dag nog mense by die gemeente gevoeg is. Met ander woorde daar is bes moontlik ’n koppeling tussen die wyse van eet en die verkondiging van ’n toekomsverwagting.

Hoe het die gelowiges in Handelinge 2 dan geëet? Vers 46 en 47 sê dit was “met blydskap”, “in alle eenvoud” en daarmee saam het hulle “God geprys”. In haar boek Of widows and meals verduidelik Reta Finger dat die huise waar hierdie gelowiges vir ete saamgekom het, in ’n stad soos Jerusalem dig teen mekaar gebou was. Benewens die feit dat die huise letterlik teen mekaar was, was die mure en vensters van hierdie blyplekke ook heelwat minder klankdig as in ons dag. Verder was Jerusalem ook ’n geweldig digbevolkte stad met ’n menigte mense wat boonop afgesny was van hulle families op die platteland en wat gevolglik redelik desperate lewens gelei het. Die daaglikse gemeenskaplike maaltye waarvan Handelinge 2 vertel en wat so blymoedig, vol eenvoud en lof vir God was, is deur die bure en baie ander mense in die omgewing gehoor en soms ook gesien. Dit was vrolike maaltye sonder enige uitspattigheid, waar gelowiges dit wat hulle gehad het met mekaar gedeel het. Dit het ’n besondere aantrekkingskrag gehad vir die mense wat dié gesellige gemeenskaplike maaltye wat van huis tot huis gehou is, waargeneem het. Dit was een van die vernaamste wyses waarop die evangelie vinnig versprei het en waarom die teks direk nadat dit verduidelik het hoe die gelowiges geëet het, kan byvoeg: “Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” Dit laat ons ook effens beter verstaan waarom ons nagmaalsformulier die nagmaal ’n “verkondiging” noem. Martin Versfeld merk tereg in hierdie verband op: “It is far more essential for the heart to overflow than the dishes.”

Preek of eet?

Kan dit wees? Kan ons as gemeente se manier van saameet mense tot bekering laat kom en laat aansluit by die kerk? Is dit werklik moontlik? Is dié positiewe beïnvloeding dan nie die taak van roerende preke

– soos dié een wat Petrus vroeër in Handelinge 2 gelewer het nie? Die meeste mense dink wel so. Dikwels is mense geneig om die gewone en alledaagse sake oor die hoof te sien en eerder te fokus op die meer indrukwekkende dinge in die lewe, ook in die kerklike lewe. ’n Preek met PowerPoint­tegnologie word geag van groter belang te wees as eetgewoontes.

William Willimon skryf oor hierdie teks en merk op dat ons vandag in ’n tyd van “entoesiasme” leef. Die gemiddelde Christen verwag van sy/haar predikant om elke Sondagoggend tydens die erediens Petrus se preek op daardie eerste Pinksterdag te troef. Elke Sondag moet die prediker probeer voldoen aan die verwagting van die gemeente om in die erediens ’n heel indrukwekkende haas uit die hoed van die prediking te toor! Die predikant voel dit is sy of haar verantwoordelikheid om die gemeente entoesiasties te hou deur in elke Sondag se preek daardie eerste ongelooflike Pinksterervaring te kloon. Maar die vraag waarmee Handelinge 2:41­47 die gemeente konfronteer, is eerder: “Wat gebeur na julle predikant se indrukwekkende diens?” Dit is ’n vraag wat mense dikwels minder interessant vind as die op­ windende dele van die Pinksterervaring; gevolglik bestee hulle ook minder aandag daaraan.

Die meeste mense ken iets van die tradisie van groot “opwekkingsdienste” (op die perseel waar Ackermans gesloop is, en alles teen halfprys uitverkoop word, sou IL de Villiers byvoeg) wat in ’n groot tent of stadion of konferensie­sentrum gehou word, of wat op die televisie uitgesaai word, met ’n prediker uit Amerika. Dit is inderdaad indrukwekkende gebeurtenisse daardie, soos wat dit ook was op daar­ die eerste Pinksterdag.

Maar Handelinge 2:41­47 wil weet: Wat gebeur met julle wat dit bygewoon het wanneer die prediker weer terug is in Texas? Hoe lyk kerkwees dán? Dit is die vraag wat ons teks probeer beantwoord. En die antwoord op dié vraag, suggereer ons teks, kan net so belangrik wees in die verkondiging van die evangelie as daardie opwekkingsdiens en prediking self! Dit is dus nie sommer net vir eet nie, maar vra ’n spesifieke manier van eet, wat ingebed is in ander sake wat in hierdie teks genoem word.

Preek én eet (en bid en deel en leer)

Handelinge 2:41­47 vertel inderdaad dat saameet een uitvloeisel kan wees van ’n roerende preek, maar daar is ook meer as net gesamentlike maaltye. Volgens die teks is daar vier dinge wat gebeur nadat die Gees van Christus uitgestort en die preek gelewer is. Dié vier sake word almal in vers 42 genoem. Twee van die dinge gaan oor ’n mens se verhouding met God, die (meer) vertikale aspek van die geloof, en dit word aan die begin en die einde van die vers genoem, sodat dit die kern omvou. In die kern van die vers word twee sake genoem wat oor ons verhouding met mekaar gaan, die (meer) horisontale aspek van ons geloof. Lukas bied dit vir ons in dié mooi literêre vorm aan, en in hierdie struktuur word daar ’n diep waarheid oor geloof en kerkwees verkondig. Die vier dinge wat in Handelinge 2:42 genoem word, is:

die leer van die apostels oor God – vertikaal onderlinge verbondenheid – horisontaal gemeenskaplike maaltyd – horisontaal gebede – vertikaal.

Daar behoort dus ná die indrukwekkende preek en roerende erediens ook ander minder indrukwekkende dinge op ’n dag­tot­dag­basis te gebeur. En tussen hierdie alledaagse gemeentelike aktiwiteite is daar sommiges wat die meer vertikale kant van die geloofslewe aksentueer en ander wat weer die klem op die meer horisontale kant plaas. In die gedeelte wat op vers 42 volg, verduidelik Lukas dan in meer besonderhede wat die vier aktiwiteite wat hy genoem het (lering, onderlinge verbondenheid, gemeenskaplike maaltye en gebede), behels.

Eerstens is daar die lering. Ons ken in ons dag verskillende vorme van lering oor God: Bybelstudiegroepe en individuele Bybelstudieprogramme, eredienste, kleingroepe, kursusse en boeke. Lering is die eerste meer vertikale aktiwiteit wat genoem word. Die tweede vertikale aktiwiteit en die laaste een van die vier van vers 42, is gebed. Die teks sê hulle het vir die lering van die apostels en die gebede steeds getrou by die tempel bymekaargekom en dit ook in hulle huise gedoen. Gelowiges se gebedslewe is, net soos lering, baie belangrik om hulle persoonlike verhouding met God te verdiep. Beide hierdie aspekte van lering en gebed het natuurlik ook alles te make met die mense rondom jou en die horisontale kant van ’n gelowige se lewe. Lukas wil egter eerstens binne sy aanbieding beklemtoon dat lering en gebed belangrike praktyke is waardeur gelowiges hulle verhouding met God kan verdiep.

Naas die twee vertikale aspekte wat vers 42 noem, is daar ook twee meer horisontale aspekte wat Lukas in meer besonderhede verduidelik. Kerkwees gaan daaroor om vir God te sien in gebeure soos die prediking, om God beter te leer ken deur lering en gebed, maar om ook vanuit daardie ontmoeting mekaar voortaan op ’n radikaal nuwe wyse te sien – op so ’n manier dat ons ons onderlinge verbondenheid sal versterk en ook saam sal eet. Die “onderlinge verbondenheid” of koinonia soos die Grieks dit noem, verwys waarskynlik na die manier waarop die gelowiges hulle besittings gedeel het, soos vanaf vers 44 verduidelik word: hulle eiendom, geld en ander materiële sake. Hier het dus ’n merkwaardige vorm van gemeenskap van goedere gegeld. En dan was daar ook die etes wat hulle van huis tot huis genuttig het. Behalwe hulle besittings het hierdie nuwe groep gelowiges ook hulle voedsel gedeel en almal het saam aan tafel geëet.

Kerkwees gaan dus oor die verdieping van individuele gelowiges se verhouding met God. Maar tweedens, en ook baie belangrik, gaan dit oor die bou en verdieping van gelowiges se onderlinge verhoudings.

Nuwe familiebande

Die reeds vermelde boek van Reta Finger, Of widows and meals, handel oor slegs twee tekste in Handelinge, waarvan een Handelinge 2:41­47 is. Sy wys daarop dat die lewe in die gemiddelde Mediterreense stad in die tyd van Lukas bitter swaar was. Die mense was uiters arm en net die heel rykste mense, van wie daar maar min was, was grond­ besitters. Mense se ekonomiese oorlewing het meestal afgehang van hulle verbintenisse. Met “verbintenisse” bedoel Finger die wyse waar­ op ’n persoon aan ’n groep soos familie, ’n godsdiensgroep of klub behoort het. Sonder so ’n ondersteuningsgroep sou ’n persoon ’n baie skraal kans op oorlewing – materieel en geestelik – gehad het. En dit is hierdie situasie wat Lukas goed ken en verstaan wanneer hy in Handelinge 2 die werk van die Heilige Gees onder die vroeë gelowiges beskryf. Hierdie nuwe volgelinge van Jesus Christus wat die Heilige Gees ontvang en ook gereageer het op Petrus se boodskap, was deur hulle geloof in Jesus nou deel van ’n nuwe familie. En om in hulle dag as ’n nuwe familie, as ’n nuwe groep, te kon oorleef was nuwe en heg gesmede onderlinge bande nodig. Iewers noem Oepke Noordmans dat dit nie die bloed in iemand se are is wat ’n geloofsfamilie vorm nie, maar die bloed aan die kruis. Dit is presies hierdie verandering wat ons in Handelinge 2 sien. Die aard van die bande tussen die nuwe gelowiges wat op Petrus se toespraak op die Pinksterdag gereageer, sy woorde aangeneem en tot bekering gekom het, het daardie dag verander. Familiewees deur middel van bloedbande is vervang met familiewees deur middel van geloofsbande; die bloed in hulle are is vervang met die bloed aan die kruis. En hierdie skuif het ’n groot invloed gehad op hoe hulle voortaan ekonomies sou oorleef.

Toe Lukas die boek Handelinge geskryf het, het hy geen idee gehad van ideologieë soos die kommunisme of kapitalisme nie. Om enigeen van hierdie ideologieë, wat uit ons tyd kom, in Handelinge 2 te wil inlees, sal anachronisties wees. Lukas het wel ’n bepaalde idee oor kerkwees gehad wat heelwat meer radikaal was as die deursnee­idee van kerkwees in ons dag. Waaroor Lukas dit wel hier het, is die aard van die onderlinge verbondenheid wat daar tussen gelowiges bestaan. Volgens hom is dit die soort verbondenheid waarin nuwe, hegte bande gesmee word sodat alles gedeel word en sodat mense wat nie familie is nie, mense wat mekaar voorheen nie eens geken het of wou ken nie, nou dieselfde tafel deel. Die eenheid tussen gelowiges as die kerk is dus nie ’n idee nie, maar ’n werklikheid wat deur hegte bande implikasies vir jou beursie en jou eetgewoontes inhou. In hulle tyd was hierdie idee nie so vreemd nie. Ons hoor in die Lukas­Evangelie dat die dissipels ’n beurs gedeel en dat hulle deurentyd by ’n verskeidenheid van mense oor alle grense heen geëet het (vgl al die voorafgaande tafels in Lukas). Hierdie onderlinge verbondenheid wat ook ’n radikale mededeelsaamheid ingesluit het, sowel as die gepaardgaande gesamentlike etes van die nuwe Jesus­beweging, was ook nie in hulle dag so uniek nie. Daar was onder meer die Essener­gemeenskap wat teen die tyd dat Lukas sy Evangelie skryf, reeds ’n paar eeue lank op ’n baie soortgelyke wyse hulle besittings gedeel en alle etes saam genuttig het. Lukas het definitief die Esseners goed geken. Die feit dat hy nie oor hulle skryf soos oor die Fariseërs en die Sadduseërs nie, beteken volgens Finger maar net dat hy nie teen hulle leefwyse gekant was, soos teenoor dié van die ander twee groepe nie.

Alles in ag genome gaan hierdie beskrywing van die vroeë gelowiges van die eerste Pinkster oor ’n manier van kerkwees. En die fokus van hierdie beskrywing val op die verbondenheid wat deur die Heilige Gees tussen hierdie gelowiges gesmee is. Dit was ’n baie radikale soort kerk­ wees, wat nie in die eerste plek wou propageer dat daar vir die armes gesorg moet word nie. Die gedagte is eerder dat ons moet insien dat Lukas vir ons verduidelik dat kerkwees, en dus ook Christenwees, nie bloot ’n persoonlike saak tussen my en die Here is nie, maar ook ’n horisontale saak tussen my en die ander mense in die kerk.

Toe ek ’n seuntjie was, was kerk­toe­gaan dikwels vir my maar erg vervelend. Daarom het ek baie rondgekyk na al die interessante en dikwels ook bra oninteressante mense in die kerkgebou, veral in die banke agter my. My ouers het my natuurlik gereeld berispe dat ek nie so moet omkyk en na die ander erediensgangers moet staar nie; dit is slegte maniere! Maar Lukas wil in Handelinge 2 ouers wat hulle kinders hieroor berispe uitdaag: “Kyk rond, sien die mense rondom jou raak, staan sommer op uit jou bank en loop na hulle toe, en nog beter, moenie net kyk na hulle nie, gaan eet sommer by hulle en vra hulle dan uit wat hulle dieper behoeftes is en waar daar tekorte is!”

Handelinge 2 vertel dat dieselfde Gees wat, toe Petrus gepreek het, ons oë vir God in Jesus Christus oopgemaak het, ook ons oë vir mekaar wil open. En dit is belangrik in ons dag. Die meeste mense, ook kerkmense, van ons dag is volslae individualiste. Ons doen ons eie ding en wil nie te veel deur ander mense gepla word nie. Ook in ons geloofslewe soek ons eintlik net “take aways” van die kerk. Ons wil by die kerk net gaan haal wat ons nodig het en ons daarna so gou moontlik weer uit die voete maak voordat daar dalk iets meer van ons verwag word. Hierdie teks wys egter vir ons dat die Christelike geloof by uitstek nié ’n “take away”­geloof is nie, maar juis ’n “eat in”­een. Ons dink ons kan ons eie ding doen en dat ons nie werklik ander gelowiges nodig het nie. Maar met so ’n soort gedagtegang en op­ trede maak ons na twee kante toe ’n fout:

Eerstens kom daar tye in ’n mens se lewe wanneer jy ander mense nie juis nodig het nie, dit is waar. Vir ons almal kom daar egter óók ’n dag wanneer ons oorlewing daarvan afhang of daar ander mense rondom ons is wat omgee.

Ons kan dieselfde argument omdraai: ’n Mens se omgee vir die mense rondom jou is, anders as wat ons dikwels dink, van lewensbelang vir hulle. Dit is hoekom ons moet deel en moet saameet en so die bande tussen ons al hegter moet smee. So bou die Gees ons op as God se gemeente.

Die Heilige Gees beweeg ons om mekaar in die kerk raak te sien. Jy wonder miskien al lankal of jy dié of daardie persoon vir tee of vir ete sal nooi. Handelinge 2 sê: “Doen dit!” Dit is hoe gelowiges mekaar beter leer ken. Dit is hoe die bande tussen gelowiges hegter gesmee word. En dan gaan dit nie oor ’n eksklusiewe soort groepsvorming waarin soort soek soort en mense in gemeentes mekaar net warm broei nie. Die bespreking van die vorige ses tafels behoort in elk geval so ’n misverstand uit die weg te geruim het. Wat Handelinge 2 wel vir ons sê, is dat die verbondenheid van gelowiges van uiterste belang is vir die opbou van die kerk van Jesus. Die wyse waarop gelowiges saam is, het implikasies vir die verkondiging van die evangelie.

Dit was immers toe daardie eerste gemeente in Jerusalem die gemeenskaplike maaltyd met blydskap, in eenvoud en terwyl hulle God prys, geniet het dat die Here elke dag mense wat gered is, by die gemeente gevoeg het.

Liturgiese gedagtes

Die vier aspekte van Lukas 2:42 sal in ’n illustrasie mooi op die asse van die kruis kon inpas, waar die vertikale kruishout deurkruis word deur die horisontale een wat die mense rondom ons betrek:

Lering

Deel †  Eet

Gebed

 

Geloofsbelydenis

Lied 260:1, 3, 7 en 11 (Liedboek van die kerk), en let veral op die woorde van vers 7 hier onder:

 

Ek glo God se kerk is heilig, Christelik en algemeen;

in geloof en hoop en liefde aan Hom toegewy soos één.

Hy is Hoof en ons die lede wat Hy roep, versterk, bewaar.

Hartlik deel, met dank en vreugde, ons sy gawes met mekaar.

 

DELE UIT DIE NAGMAALSFORMULIER (uit: Vir die erediens – ’n handleiding)

Die nagmaal is die viering van die gemeenskap met die lewende Here en met mekaar. Nie alleen word ons in die nagmaal met Jesus se dood verbind nie, maar ook met sy lewe en daarom is die opgestane Christus deur die Heilige Gees self by ons teenwoordig. Hierin lê die diepste geheim en die grootste vreugde van die nagmaal. Dit sluit ook in die gemeenskap met mekaar as lidmate van die een liggaam van Christus, aangesien dieselfde Gees wat ons oë vir Christus oopmaak, ook ons oë vir mekaar oopmaak en ons in liefde aan mekaar bind.

Soos die apostel Paulus sê: “Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die brood” (1 Kor 10:17). Dit bring mee dat ons in vergewensgesindheid, nederigheid, goedgesindheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid met mekaar moet omgaan (Kol 3:12). Wie die brood en die wyn van die nagmaal eet en drink, word ook geroep om die voete van die ander te was (Joh 13:12­15). Wie eenmaal saam met die Here geëet en gedrink het, kan nie meer in onvrede met mekaar leef nie (Ef 2:14­15).

AS VOORSKOU VAN DIE TOEKOMS

Die nagmaal is ’n verkondiging van die dood van die Here totdat Hy kom en daarom ’n verkondiging van ons toekomsverwagting. Wanneer ons die brood en wyn in ons hande neem en daarna kyk, kyk ons ook vooruit na die wederkoms van die Here, word ons deur die tekens van gebrokenheid daaraan herinner dat God uiteindelik alles weer heel sal maak. Deur die nagmaal strek ons ons uit na die dag wanneer Christus in heerlikheid sal verskyn en alles tot volheid sal bring, die dag wanneer hy die hemel en die aarde nuut sal maak sodat geregtigheid daarin kan woon – en “God alles … vir alles” kan wees (1 Kor 15:28). In die nagmaal verlang ons as bruid van Christus na die bruilofsmaaltyd van die Lam. Wanneer ons die brood en wyn op ons lippe neem, kan ons daarom nie anders nie as om tegelykertyd te bid: “Maranata! Kom, Here!” (1 Kor 16:22).

Samevattend kan ons dus sê dat die nagmaal ’n uitnodiging is om ons aandeel aan die volle verlossing in Christus feestelik te vier en opnuut daarvan verseker te word; dat dit die geleentheid is om deur die tafelgemeenskap ons gemeenskap met die lewende Here en met mekaar te verdiep en so versterk te word in ons geloof, in ons getuienis, en in ons toekomsverwagting.

By die gebruik van die nagmaalstekens dank ons Hom met ons hele wese en daarom wy ons ons lewe by hernuwing in dankbaarheid aan Hom.

Laat ons dan ernstig daarna strewe om met ons hele lewe dank­ baarheid aan die Here te bewys deur in ware liefde teenoor Hom en ons medemens te leef.

Mag die almagtige barmhartige God en Vader van ons Here Jesus Christus deur sy Gees ons daartoe help.

Ook as e-boek beskikbaar