Hoofstuk 3
Voorbeelde van liturgieë vir vierings as getuienis van die opstanding
Christelike liturgieë en rituele by die dood funksioneer as deel van ’n groter geheel. As die dood as die voltooiing van ’n reis gesien word en liturgiese rituele die einde van die reis op aarde merk, is daar ander liturgiese rituele wat ook tydens hierdie reis gevier is of ten minste in verband staan met die liturgiese vierings met betrekking tot die dood. Ons werk hier doelbewus met ’n scenario wat veronderstel dat iemand moontlik lank geleef het en by ’n gemeente ingeskakel was. Natuurlik is daar legio uitsonderings op hierdie scenario, maar dit sal hier onmoontlik wees om aan elke denkbare uitsondering aandag te gee. Elke liturg kan uiteraard ook die voorstelle kontekstueel aanpas. Ons glo die algemene beskrywing wat ons hier bied, sal juis van nut wees in spesiale gevalle. Aan die einde van die hoofstuk word spesifiek elemente en roetemerkers vir besonderse gevalle soos selfdood aangebied.
Hierdie skets met drie konsentriese sirkels verbeeld iets van hoe ons die begrafnis en ander rituele rondom die dood as deel van ’n veel groter liturgiese geheel sien.
Die doop as sakrament is ’n simbool van die feit dat die gedoopte se lewensreis in die God van Abraham, Isak en Jakob gewortel is. Deur die water van die doop kry die persoon deel aan God se beloftes. Hierna word hy/sy op die lewensreis gereeld by die tafel (nagmaal) en deur die Woord (verskeie vorme van verkondiging soos prediking) versterk. By die groot oorgange in die lewe is liturgiese rituele soos ’n huweliksdiens en belydenis van geloof bykans soos relings om aan vas te hou (Wepener, 2014). Dit is hier waar rituele met betrekking tot die dood ook geplaas kan word, maar dan as die voltooiing van die reis op aarde wat God by die doop begin het. Waar die doop simbolies van die begin van ’n mens se reis met God is, is die begrafnis en ander liturgiese rituele met betrekking tot die dood simbole van die voltooiing van hierdie reis. Na ons mening kan ’n viering soos die begrafnis nie los van die doop, nagmaal of Woord(verkondiging) gesien word nie, maar vorm dit ’n integrale deel van die groter web van liturgiese rituele en is dit daarin veranker. ’n Begrafnisdiens en ander vierings by die dood behoort dit duidelik te maak dat daardie viering binne hierdie groter liturgiese geheel pas.
In wat hier volg, word eerstens enkele aspekte bespreek wat in gedagte gehou en oorweeg kan word. Daarna volg ons die vier bewegings van die liturgie met voorbeelde van elemente wat met elke beweging gebruik sou kon word.
Ons begin met enkele oorwegings:
Waar word die diens gehou?
Deur die diens in die kerkgebou te hou, word reeds iets gekommunikeer van die geloofsgemeenskap wat betrokke is. Dit is die ruimte waar die doopvont, preekstoel en nagmaaltafel staan, en wat die liturgiese web waarna hierbo verwys word, simboliseer. Dikwels word ’n diens ook in ’n aftreeoord gehou, wat om praktiese redes ’n baie sinvolle gebruik is. Dit sal goed wees as die liturg kan kyk in watter mate ander ruimtes wat gebruik word ook iets kan simboliseer van dit wat in die liturgiese ruimte van die kerkgebou ter sprake is.
Laastens kan hier opgemerk word dat alle rituele en liturgieë ook iets van mag kommunikeer; daarom moet die liturg daarteen waak dat sekere lidmate sekere ruimtes gegun word wat ander nie beskore is nie.
Wat gemaak met die kis?
In ons kultuur wat al as “dood-ontkennend” getipeer is, is mense sku vir die kis met die liggaam daarin. Terwyl hierdie werklikheid in gedagte gehou moet word, kan die teenwoordigheid van ’n kis in die kerk juis ’n kragtige simbool wees. Hier gaan dit nie om ’n dodeverering soos in die Middeleeue nie, maar veel eerder om ’n gesonde klem op die liggaam as geskape deur God, en die deurbreking van ’n dualistiese denke oor liggaam en gees. Die liggaam in die kis vertel die verhaal van die oorledene se reis saam met God en dat daardie reis deur die dood heen strek én in God se beloftes veranker is. Dit sal vreemd wees om ’n doop sonder ’n dopeling te hou; daarom behoort dit eintlik ook vreemd te wees om ’n begrafnis sonder ’n oorledene te hou.
In gemeentes waar dit geensins die gebruik is om die kis in die kerk in te bring nie, is dit dalk goed om die kis eers net tot in die voorportaal te bring. Maar andersins kan die kis ’n regmatige plek in die liturgiese ruimte kry – spesifiek naby aan die nagmaaltafel en juis die doopvont. Hein Vrijdag (1989:136) gee die voorbeeld van pous Paulus VI se kis wat sonder enige versiering op St Pietersplein in Rome neergesit is. Die gestrooptheid van die hout met die dooie liggaam daarin was ’n sterk simbool dat hy soos alle ander mense was. In die dood is die eerstes laaste en die laastes eerste in Christus.
Die voorspel en musiek
Die musikale voorspel moet die versamelde gemeente in God se teenwoordigheid inlei en nie die aandag op die musiek self plaas nie. Bekende melodieë wat vir die hele gemeente betekenisvol is, is ’n goeie idee saam met geliefde melodieë van die oorledene. Hierdie keuse kan deel uitmaak van die pastorale gesprek met die naasbestaandes (Vander Zee, 1992:75-76).
Dit is ook ’n goeie idee om ’n lys liedere vir begrafnisse in ’n gemeente op te stel. Die naasbestaandes kan dan saam met die liturg liedere uit die lys kies, maar ook hulle eie voorstelle maak. Dit kan help om teologies gebalanseerde liedere in die diens te verseker.
-
DIE BEGRAFNISDIENS
Daar is baie privaat ruimtes waar mense vir die naasbestaandes troos aanbied, maar met die begrafnisdiens word ’n publieke ruimte betree waar die groter Christelike gemeenskap hulle ondersteuning kan bied en hulle eie emosies kan offer. Al praat ons hier van begrafnisdienste, kan dit wat ons hier aanbied ook vir gedenkdienste gebruik word omdat die struktuur dieselfde kan wees. Ons sluit aan by die viervoudige struktuur van die erediens soos dit in die NG Kerk se Handleiding vir die erediens (Clasen et al, 2010:174-178) gebruik word. In ’n gedenkdiens kan die sang dalk meer aandag kry, anders as by ’n privaat begrafnisdiens wat net op die familie gerig is.
Toegepas op die begrafnisdiens, kan die viervoudige struktuur as volg daar uitsien:
AANLOOP OF TOETREDE
- Kom bymekaar rondom die doopvont (met simboliese handeling)
- Woorde van troos
- Groet/verwelkoming
- Aanvangswoord (votum)
- Seëngroet
- Liedere
- Pastorale gebede
WOORDDIENS
- Epiklesegebed
- Skriflesing
- Prediking
TAFELDIENS
- Begrafnisbrief
- Huldeblyke
- Bedankings
- Gebede van danksegging
- Tafelviering (opsioneel)
UITSENDING
(Hierdie deel vind deels in die kerk en deels in die begraafplaas of tuin van herinnering plaas.)
Begrafnisformulier
- Geloofsbelydenis
- Plasing van liggaam/as
- Lied
- Seën
Hierdie viervoudige kernstruktuur kan op verskeie maniere sinvol ingeklee word. Met die oog daarop gee ons nou voorbeelde vir al die elemente wat in die onderskeie vier bewegings gebruik kan word.
Aanloop of toetrede
Kom bymekaar rondom die doopvont (met simboliese handelinge) Die begrafnisdiens kan in die kerkgebou by die doopvont begin, mits die persoon wat begrawe word, gedoop is. Die voorganger kan sy of haar hand in die water steek en die water weer in die vont laat val. Dan sê die voorganger iets soos: “NN is baie jare gelede gedoop. Paulus sê vir ons dat hy/sy daardie dag reeds saam met Christus gesterf het om vir ewig saam met Hom te leef.” Hierna beweeg die voorganger na die plek in die liturgiese ruimte van waar hy of sy die diens verder sal lei.
Daar is heelwat tekste waarin die doop en dood verbind word en wat hier liturgies in ’n ritueel by die vont ontwikkel kan word, byvoorbeeld Romeine 6:4-9 en Kolossense 2:12.
Ewige God, (stilte)
U het vir Noag bewaar
deur die water van die groot vloed,
en vir Israel het U ’n weg gebaan deur die water van die Rooi See.
Vir Jesus het U opgewek
uit die water van die Jordaanrivier,
en vanoggend dank ons U, Here, dat die water van die doop van NN
ook vir hom/haar ’n bron van lewe is
omdat hy/sy in die Naam van die Vader, die Seun
en die lewendmakende Gees gedoop is.
Amen.
– Vertaal en aangepas uit In verwachting van leven
In gemeentes met ’n goed gevestigde liturgiese tradisie wat die kerkjaar volg, kan die Paaskers hier aangesteek word.
Aanvangswoord (votum)
Hier is enkele voorbeelde van votums wat ’n verskeidenheid aksente belig en wat reg aan die begin van die diens geplaas kan word:
VOTUMS UIT DIE PELGRIMSLIEDERE
“Ek kyk op na die berge, waarvandaan sal my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”
“Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God.”
“Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”
“Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd.”
“Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra.”
“Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het.”
Voorganger: Ek kyk op na die berge: Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
Gemeente: My hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Voorganger: Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.
Gemeente: Amen.
VERDERE MOONTLIKHEDE
Psalm 46:1; Psalm 103:13; Jesaja 66:13; Johannes 11:25-26; Openbaring 1:17-18; Openbaring 21:6.
Soos ’n blaar na die grond val; soos die Vaalrivier na die see loop; soos skape agter hulle herder aanloop – so rig ons ons harte op die Here.
“God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis,’ het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (2 Kor 4:6).
Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand … Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.
Sien Handleiding vir die erediens (bl 13-16), Soos ’n blom na die son draai (bl 33-41), asook die Bybeltekste in hierdie afdeling.
Seëngroet
Genade en vrede van God die goeie Herder wat ons, sy kudde, versorg; genade en vrede van God die Lam wat vir ons geslag is, en genade en vrede van God die Gees wat ons soos lammers teen sy bors vasdruk.
Genade en vrede van God wat sy beloftes gestand doen. Genade en vrede van Jesus Christus wat die dood oorwin het. En genade en vrede van die Heilige Gees, ons Voorspraak en Trooster.
Sien Handleiding vir die erediens (bl 16-18), Soos ’n blom na die son draai (bl 42-44), asook die vele tekste en gedigte wat in hierdie boek ingesluit is.
Liedere
Sien later in hierdie hoofstuk die talle moontlikhede.
Pastorale gebede
Die gebede tydens ’n begrafnisdiens is uiters belangrik. Dit sal goed wees as liturge gebede met ’n vaste vorm en vryer gebede gebruik (sien Wepener, 2012). ’n Goeie benadering is om gebede met ’n vaste vorm meer persoonlik in te klee vir ’n betrokke geleentheid. In die gereformeerde tradisie word daar nie vir die oorledene gebid nie. Tog kan Jesus se eie woorde: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” as ’n model dien vir ’n gebed waarin die oorledene aan God toevertrou word (Vander Zee, 1992:79).
Dit is sinvol om die oorgang na hierdie gebed met ’n oproep tot gebed te begin. Hier is enkele voorbeelde van hoe dit gedoen kan word:
Ons het hier saamgekom met ons hartseer, maar nie sonder hoop nie. Kom ons deel nou ons smart met God en vra vir sy troos.
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matt 11:28).
Jesus het gesê: “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken” (Joh 10:14).
“Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors” (Jes 40:11).
GEBEDE VIR GEBRUIK TYDENS ’N BEGRAFNISDIENS VAN ’N GELOWIGE
Vriende, ons is hier saam om die lewe van NN te vier, om God te dank vir die gawes wat hy/sy met ons gedeel het, en vir die voorreg dat ons hom/haar kon ken en liefhê. Ons is hier om te onthou, om stories te vertel, om te lag en te huil, en om te begin om van sy/haar liggaamlike teenwoordigheid by ons afskeid te neem. Maar, Here, bowenal is ons hier saam om u goeie nuus van die Christelike geloof te verkondig – dat hulle wat in Christus gedoop is, ook in sy dood gedoop is. En omdat Christus leef, kan ons verkondig dat NN leef. Vriende, julle kan weet dat die beloftes van die geloof vir ons almal geld – in lewe en in sterwe behoort ons aan God.
– Susan Andrews uit Call to worship; vry vertaal vir hierdie bronboek
Here God, ons staan vandag hier diep bedroef voor U en die hartseer sit vlak. Met die dood van ’n geliefde word ons op ons lewensreis tot stilstand geruk. Maar, Here, ons weet die dood is net ’n oorgang. Ons glo dat NN op hierdie oomblik in u arms is, soos Jesus vir die man aan die kruis gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Vir daardie versekering sê ons dankie.
Here, ons wil vandag in die besonder NN se familie aan U opdra (hier kan dit persoonlik gemaak word deur name te noem, maar let fyn op wie almal ingesluit moet word). U is die Een wat troos, Here God. Skenk dan nou ook in hierdie oomblik en in die dae wat voorlê u troos en bystand.
Ons vra dit alles in die Naam van Jesus ons Here wat die dood oorwin het. Amen.
Hemelse Vader, ons Skepper en Verlosser,
in wie se teenwoordigheid daar geen duisternis en dood is nie:
Ons aanbid U as die lewende God.
Here Jesus, die opstanding en die lewe, wat die dood vir ons elkeen beleef het
en wat lewe en ewige lewe gebring het:
Ons loof u Naam vir oorwinning oor die dood en die graf.
Heilige Gees, Outeur en Gewer van lewe,
Trooster vir dié wat treur:
Ons loof u Naam vir die lig en hoop van u teenwoordigheid in ons harte.
Voor U, heilige en drie-enige God, offer ons ons lof en aanbidding,
selfs in die aangesig van die dood en die graf: Lof en eer,
roem en majesteit, wysheid en krag,
behoort aan U, nou en vir ewig. Amen.
– Vry vertaal uit In life and in death
Ewige God,
ons hulp in tye van nood,
stuur u Heilige Gees om te troos en te versterk
sodat ons hoop op die ewige lewe kan hê
en op u goedheid en genade kan vertrou,
deur Jesus Christus ons Here.
Amen.
– Vry vertaal uit die Presbiteriaanse Kerk in die VSA (PCUSA) se Book of Common Worship
Lewende en ewige God
voor wie die generasies verrys en weer wegsink,
van generasie tot generasie het ons mense na U verlang en gevind
dat u getrouheid nimmereindigend is.
Ons ouers het hulle pelgrimstogte afgelê in die lig van u genade en leiding.
Wees nou vir ons, u kinders,
’n vuurkolom in die nag en ’n wolk in die dag. Amen.
– Vry vertaal uit In life and in death
Woorddiens
Epiklesegebed
Here, laat hierdie bitter oomblikke heilig word.
(Stilte)
Laat u wind waai.
(Stilte)
Help ons om te verstaan dat alle rus die lewe dien.
(Stilte)
Spreek, Here. Troos ons en sterk ons.
(Stilte)
Amen.
– Ten dele gegrond op NP van Wyk Louw se “Vier gebede by jaargetye in die Boland” uit Die halwe kring
Here Jesus,
U is die lewende Woord van God, na wie anders kan ons gaan?
Want U het die woorde wat ewige lewe gee.
Terwyl ons na u woorde luister,
mag u Gees die boodskap op ons harte skryf
en ons siele voed met die voedsame waarheid.
– Vry vertaal uit In life and in death
Skriflesing
’n Ruim hoeveelheid moontlikhede word later in hierdie hoofstuk aangebied.
Prediking
As daar reeds spesifieke huldeblyke is wat op die oorledene fokus, kan die prediking sterker op die teks konsentreer. Oor die algemeen kan preke korter gehou word, aangesien mense se konsentrasievermoë in hierdie situasie nie besonder sterk is nie.
Verder is daar dikwels ingewikkelde situasies soos selfdood of dwelmverslawing waaroor die prediker eerlik en openlik moet praat, maar sonder om die grense van vertroulikheid te oorskry. Prediking in die begrafnisdiens is ’n viering van die opstanding en dit is nie die prediker se taak om die oorledene se lot te bepaal nie, maar God s’n (Vander Zee, 1992:83).
Laastens is dit belangrik om die diens nie in ’n eksplisiete evangelisasieveldtog te omskep nie. So ’n benadering kan uiters onsensitief en onpastoraal oorkom. ’n Goeie begrafnisdiens is reeds op ’n ongeforseerde manier ’n verkondiging van die evangelie.
Tafeldiens
Begrafnisbrief
Die begrafnisbrief kan hier hanteer word.
Huldeblyke
Die huldeblyke kan ’n besonder troosryke deel van die diens uitmaak. Enkele sake moet egter in gedagte gehou word. Diegene wat die huldeblyke doen, moet genoeg tyd hê om voor te berei. In die lig van die emosies sal nie almal daartoe in staat wees nie, maar die meeste mense sal heel eerlik kan antwoord of hulle ’n huldeblyk sal kan doen of nie. So ’n huldeblyk behoort gebalanseerd te wees en moenie ’n hagiografie (lewensverhaal van ’n sogenaamde heilige persoon) wees wat net die oorledene se lof besing nie. Dit kan ook aan enkele swakhede raak, stories vertel en selfs ’n klein bietjie humor inbring (Vander Zee, 1992:80). Ook die huldeblyke tydens so ’n diens is ’n liturgiese element wat met omsigtigheid hanteer moet word, maar wat besonder betekenisvol binne die groter verloop van die liturgie kan wees.
Bedankings
Die bedankings kan nou gedoen word.
Gebede van danksegging
Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe
wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen.
Our Father, who art in heaven,
hallowed be thy Name,
thy kingdom come, thy will be done,
on earth as it is in heaven.
Give us this day our daily bread.
And forgive us our trespasses
as we forgive those who trespass against us.
And lead us not into temptation,
but deliver us from evil.
For thine is the kingdom, the power, and the glory,
for ever and ever.
Amen.
Voorganger: Kom ons bid tot Jesus Christus wat gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe.”
Here, U het Marta en Maria getroos in hulle smart; wees by ons waar ons nou oor NN treur, en droog U self die trane van ons oë af.
Gemeente: Here, hoor ons.
Voorganger: Here, U het by Lasarus, u vriend, se graf gehuil; troos ons in ons smart.
Gemeente: Here, hoor ons.
Voorganger: U het die dood oorwin; gee ons broer/suster die ewige lewe.
Gemeente: Here, hoor ons.
Voorganger: U het die paradys aan die berouvolle misdadiger belowe; neem NN na die vreugde van die hemel.
Gemeente: Here, hoor ons.
Voorganger: Ons broer/suster is in die doop gewas en met die Heilige Gees gesalf; gee vir hom/haar gemeenskap met die wolk van getuies.
Gemeente: Here, hoor ons.
Voorganger: Hy/sy is by u tafel hier op aarde gevoed; verwelkom hom/haar ook by die tafel in u hemelse koninkryk.
Gemeente: Here, hoor ons.
Voorganger: Troos ons in ons smart oor die dood van NN; laat ons geloof ons troos wees en die ewige lewe ons hoop.
Almal: Amen.
– Vry vertaal uit Book of Common Worship
Tafelviering
Daar is sekere liturgiese tradisies waarin die tafel ook met die viering van die dood ’n vaste plek het. In tradisies waar dit nie die geval is nie, kan dit betekenisvol wees om visueel aan die tafel met simbole van die sakrament van die nagmaal ’n prominente plek te gee. Só kan die verband tussen die vont, tafel en begrafnis oorgedra word.
Uitsending
Hierdie deel vind deels in die kerk en deels in die begraafplaas of in die tuin van herinnering plaas.
Begrafnisformulier
BEGRAFNISFORMULIER VAN DIE NG KERK
NN is deur die dood van ons weggeneem.
Die Here Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh 11:25). Deur sy opstanding het Jesus die dood oorwin en kan die gelowige uitroep: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:54). Daarom treur ons wel, maar nie soos die ander mense wat geen hoop het nie (1 Tess 4:13). Die dood van ’n geliefde is ’n groot verlies; dit bring hartseer en pyn. Tog gee die Here self sy troos en bemoediging. Hy verlig ons smart, Hy staan ons met sy liefde by en belowe om die pad verder saam met ons te stap.
Die dood roep ons almal om die lewe in ’n nuwe lig te sien. Jesus het immers vir ons aan die kruis gesterwe sodat ons nie meer vir onsself sal lewe nie, maar vir Hom wat vir ons gesterf het en vir ons opgewek is. Daarom sê ons saam met Paulus: “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here” (Rom 14:8).
Aan Hom kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid.
– uit Handleiding vir die erediens
BEGRAFNISFORMULIER VAN DIE UNITED METHODIST CHURCH
Dying, Christ destroyed our death. Rising, Christ restored our life. Christ will come again in glory. As in baptism NN put on Christ, so in Christ may NN be clothed in glory.
We are God’s children. What we shall be has not yet been revealed; but we know that when Christ appears, we shall be like Him, for we shall see Him as He is. Those who have this hope purify themselves as Christ is pure.
Jesus said: “I am the resurrection. Those who believe in Me, even though they die, yet shall they live, and whoever lives and believes in Me shall never die” (John 11:25). He also said: “I am the Alpha and Omega, the beginning and the end, the first and the last. I died,
and behold I am alive for evermore, and I hold the keys of hell and death. Because I live, you shall live also” (Rev 1:17-18; 22:13).
We have gathered here to praise God and to witness to our faith as we celebrate the life of NN. We come together in grief, acknowledging our human loss. May God grant us grace, that in pain we may find comfort, in sorrow hope, in death resurrection.
– uit Handleiding vir die erediens
Geloofsbelydenis
Indien ’n lykswa die liggaam vir die verassing gaan wegneem, is dit soms ’n sinvolle gebruik om die mense uit die kerkgebou na die kis in die lykswa buite die kerk te laat beweeg. As die kis in die liturgiese ruimte is, kan die draers dit uitneem en die gemeente kan volg. Die geloofsbelydenis kan dan by die lykswa gedoen word. Die seën kan ook daar uitgespreek word. Andersins kan dit in die kerk of langs die oop graf gedoen word. Benewens die voorbeelde hieronder bestaan daar ook mooi opsies vir geloofsbelydenisliedere in Liedboek van die kerk.
APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS
Ek glo in God, die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees en ’n ewige lewe.
GELOOFSBELYDENIS VAN NICÉA
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, van alle sienlike en onsienlike dinge;
en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; (God uit God) Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;
deur wie alle dinge ontstaan het;
wat ter wille van ons, die mens, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;
en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte; wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;
wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;
en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.
Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;
ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.
Amen.
GELOOFSBELYDENIS
Ons glo in die God van water
wat ’n verbond met mense en diere gesluit het ons glo in sy geliefde Seun
oor wie Hy Hom verheug ons glo in die Heilige Gees
wat soos ’n duif op Jesus neergedaal het uit ’n oopgeskeurde hemel
waar daar nog somtyds ’n reënboog sit
– uit Van voor die wieg tot na die graf
GELOOFSBELYDENIS
Ons glo in God, die almagtige Ouer, die God van Rebekka en Jakob,
en van elke Leviet en vreemdeling, van elke pelgrim en swerwer op aarde. Ons glo in Jesus Christus die eniggebore Seun, ons Here,
wie se liggaam soos ’n saadkorrel in die grond geplant en opgewek is as eersteling van dié wat gesterf het.
Dít is die Here saam met wie ons in ons doop begrawe is om saam met Hom te wees in die opstanding.
Ons glo in die Heilige Gees wat as eerste vrug vir ons gegee is,
die voorsmaak van wat vir ons in die toekoms wag.
God is ons Reisgenoot wat ons in die voorspoedtye van ons lewe herinner … dat ons kinders van swerwende Arameërs is;
en op aarde self ook vreemdelinge en bywoners,
tydelike besoekers op pad na die eendag waarheen ons hoop reik.
God is ons Reisgenoot wat ons in die moeilike tye van ons lewe herinner … dat ons al so dikwels deur die driwwe van die lewe gedra is;
en ten spyte van wat ons tans beleef,
omvou die Gees van Christus ons op hierdie oomblik soos ’n dooprok.
Amen.
– Cas Wepener
PASTORALE GELOOFSBELYDENIS
Ek glo die Here is my Herder (Ps 23:1); Hy het ons gemaak en ons is Syne, sy kudde, sy skape deur sy hand versorg (Ps 100:3; Ps 95:7).
Daarom kom ek niks kort nie en ek weet Hy lei my altyd op die regte paaie tot die eer van sy Naam.
Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want Hy is by my (Ps 23:1, 3). In sy hande is ek veilig (Ps 23:4).
Ek glo in Jesus Christus, die goeie Herder (Joh 10:11a), wat gekom het om te soek en te red wat verlore is (Luk 19:10). Want ons almal het gedwaal soos skape, ons elkeen het ons eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom (Jes 53:6).
Ek glo die goeie Herder het sy lewe ook vir my afgelê (Joh 10:11b). Soos die profete voorspel het, is Hy doodgemaak (Sag 13:7), maar God het Hom, wat die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring (Heb 13:20).
Ek glo Hy gee die ewige lewe vir elkeen wat na sy stem luister en Hom volg (Joh 10:27-28).
Ek glo die goeie Herder het vir Hom een kudde losgekoop uit elke stam en volk en nasie (Op 5:9).
Ek glo Jesus het ook vir my as herder aangestel om sy skape op te pas en sy lammers te laat wei (Joh 21:16). Wanneer Hy as Opperherder weer kom om die mense van mekaar te skei soos die wagter die skape van die bokke skei (Matt 25:32), sal Hy die heerlikheid as onverganklike kroon gee vir elkeen wat Hom getrou gedien het (1 Pet 5:4).
– uit Handleiding vir die erediens
Voorganger: Kom ons bely saam ons geloof in God:
Gemeente: Ons glo almal met die hart en bely met die mond
Voorganger: dat daar ’n enige en enkelvoudige geestelike Wese is Gemeente: wat ons God noem.
Voorganger: Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed, en
Gemeente: die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.
Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.
– Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 1
Plasing van liggaam/as
Hierdie aspek is ’n kernsimbool binne die groter geheel. Hier word die kring voltooi en die oorledene weer aan God se aarde toevertrou.
In u hande, o genadige Redder, vertrou ons nou u dienaar, NN.
Erken, bid ons nederig,
’n skaap uit u eie kudde,
’n sondaar wat U self begenadig het.
Ontvang hom/haar in die arms van u genade, in die rus van u ewige vrede,
en in die wonderlike gemeenskap van die wolk van getuies. Amen.
– Vry vertaal en aangepas uit Book of Common Worship
To the ground – “Earth to Earth;”
To the deep – “Water to Water;”
To the wind – “Ashes to Ashes;”
In burial –
Back to the Earth; In cremation –
Back to the Wind; In the sea –
Back to the Depths.
– JG Truvillion uit Call to Worship
Lied
Heilige God,
deur u kreatiewe mag het U vir ons lewe gegee,
en in u reddende liefde het U vir ons nuwe lewe in Christus gegee.
Ons vertrou NN toe aan u genade en sorg in die geloof van Jesus ons Here
wat gesterf en opgestaan het om ons te red,
en wat nou lewe en regeer saam met U en die Heilige Gees, een God,
nou en vir ewig.
– Vry vertaal en aangepas uit Book of Common Worship
Verskeie opsies word later in hierdie hoofstuk verskaf.
Seën
Mag die liefde van God en die vrede van ons Here Jesus Christus ons vertroos en sag die trane van ons oë afdroog, in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Amen.
Mag God in eindelose genade die hele kerk saambring,
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het, tot ’n vreugdevolle opstanding
in die volheid van God se ewige koninkryk. Amen.
– Vry vertaal uit Book of Common Worship
Die Here seën jou en beskerm jou.
Hy sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees.
Hy sal jou gebede verhoor en aan jou sy vrede gee.
Amen.
Mag die liefde van God jou omvou en sterk maak.
Mag die genade van ons Here Jesus jou inspireer.
Mag die troosryke teenwoordigheid van die Heilige Gees jou vul
en mag die drie-enige God sy kerk oopbreek
dat sy liefde deur ons kan neerreën.
Mag die pad verrys om jou te ontmoet, die wind altyd teen jou rug
en die son warm op jou gesig; en tot ons weer ontmoet:
mag die reën sag val op jou land
en mag God jou behoed in die palm van sy hand.
– ’n Ou Ierse seën
Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die troosryke teenwoordigheid van die Heilige Gees sal met elkeen wees.
Amen.
Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou te dra as jy sou val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is in jou om jou te lei deur sy Heilige Gees.
Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid. Amen.
2. VERSKILLENDE SOORTE STERFGEVALLE EN LITURGIESE RITUELE DAARVOOR
Stilgeboortes en miskrame
Holy God, when a child dies in the womb or lives only for a few hours,
is this your will?
When a life full of energy is cut down in its prime, is this your will?
When eyes we loved don’t recognize us, and the body turns too fragile to embrace, and the hope dies before life expires,
is this your will?
I ask, Lord, because I need to ask. And even if on this side of time, no answers are evident,
I want to know that you hear my prayer.
– John Bell uit Call to Worship
VIR MY
Vir my was sy werklik Vir ons was sy ’n kind
Met elke beweging in my buik
Kon ek my al klaar haar kinderlaggies indink
So vroeg
Sy was nog nie eens hier Té vroeg
Vandag sou ons eerder haar lewe wou vier
’n Leë bababedjie
’n Verlate babakamer
’n Naam wat nooit gebruik sal word
’n Onbeantwoorde hoop ’n Half-gebore droom
En my lyf wat dit alles nog vertoon …
Begin ons nou weer?
Probeer nog ’n keer?
Hoe leef ’n mens deur hierdie seer?
Stilte in ons huis Stilte in my buik Stil is sy gebore
– Santie Bothe-Smith
STEADY HEART
I can’t see
What’s in front of me Still I will trust You Still I will trust You
Though the sky is dark And the wind is wild You’ll never leave me You’ll never leave me
Though the night is long There is a coming dawn The light is breaking The light is breaking
Steady heart that keeps on going Steady love that keeps on holding Lead me on
Steady grace that keeps forgiving
Steady faith that keeps believing Lead me on
And as the dawn breaks And the clouds clear
In an open space Together we will run
– Steffany Gretzinger vanaf die album The Undoing
Selfdood
Liewe Heer, U het al u kinders lief
en het ’n besonderse plek in u hart vir elkeen wat U gemaak het. U verstaan ons verskriklike vrese,
ons diep depressies en ons uitsiglose oomblikke.
Ons is verpletter deur hierdie verskriklike gebeurtenis. Goeie Herder, lei ons na vrede, vergifnis en hoop.
Verlos ons van skuld en bitterheid, en genees ons gebroke harte.
Help ons om verby NN se pyn en ons eie pyn te sien tot by die heelheid van u koninkryk
waar ons almal in u teenwoordigheid bymekaar sal kom, en elke traan afgedroog sal word,
en alles wat verkeerd is, reggemaak sal word deur Jesus Christus ons Here.
Amen.
– Vry vertaal uit In life and in death
ALONE
The silence, so deafening So alone,
in the grace of many.
A mortuary of the dead entraps a body full of life Embalmed with fear
I screamed out loud Screams that never
reached another.
My tongue wrote scrolls of poetry Locked inside my head
A single word so hard to find
I found in silence there is no peace.
The surgeon of solitude has wired shut my jaw
In hopes to overload my brain with thoughts of pain uncovered In his attempt to make me strong Loneliness had won the battle.
The pen and the paper were my sword A way to defend my honour
A psychology of time and pain That no one could uncover.
I see a man of the cloth That has a vow to keep
We had never even passed a word And yet he heard my pain,
If I was to learn from this
An experience from which to grow I hope I took it to my grave
The answers for others to find. I’m so tired of carrying this pain The load has gotten heavy
It’s time for me to pass alone My existence is a shadow.
The epitaph upon my grave,
has more words than which I spoke “For beauteous thoughts unspoken and kept by man alone”.
So deafening, the silence
In the grace of millions, so alone.
– Skrywer onbekend (http://rockies.net/~spirit/sermons/fu-suicide.php)
Geweld en misdaad (moord)
Ewige God en Regter oor die hele aarde,
ons draai vandag na U in hierdie tyd van woede en hartseer. Troos ons oor wie se pad hierdie groot tragedie gekom het. Onderskraag ons wat treur oor hierdie onskuldige slagoffer wat so skielik en wreed van familie en vriende weggeruk is. O God, U het gesê: “Die wraak behoort aan My.”
Verlos ons van bitterheid, haat en die begeerte om te vergeld. Gee ons die genade om selfs vir die moordenaar te kan bid, en om, namate die genesing ook in ons lewe kom,
te kan vergewe soos U vergewe.
Ons vertrou op U, Here, om lig in ons duisternis te bring, en ons uit hierdie tyd van skok en angs te lei.
Help ons sodat ons met geloofsoë sal kyk
en sal sien dat niks ons van u liefde kan skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. Amen.
– Vry vertaal uit In life and in death
GEBED
Here … Here …
Hier waar ek nou is, is die golwe groot
Die waters diep en donker Oorweldigend
My woorde is min
My emosies oorvloedig My hart in tweestryd Vrees en hartseer Ongeloof en woede Verwesenheid en haat
Ek wil kwaad wees oor die onreg Ek wil haat oor die onmenslikheid Ek ís bang oor die onsekerheid
Tog draai ek steeds na U Ek lê aan u voete
Hoe sal ek ooit weer kan staan?
Hier by U is waar ek soek Na antwoorde
Na regverdigheid Na troos
Here … Here …
Tel my weer op my voete
Lei my weer op die regte pad Here, help …
– Santie Bothe-Smith
SOMETIME, WE’LL UNDERSTAND
Not now, but in the coming years, It may be in the better land,
We’ll read the meaning of our tears, And there, sometime, we’ll understand. We’ll catch the broken thread again, And finish what we here began;
Heav’n will the mysteries explain, And then, ah then, we’ll understand.
We’ll know why clouds instead of sun Were over many a cherished plan;
Why song has ceased when scarce begun; ’Tis there, sometime, we’ll understand.
Why what we long for most of all, Eludes so oft our eager hand;
Why hopes are crushed and castles fall, Up there, sometime, we’ll understand. God knows the way, He holds the key, He guides us with unerring hand; Sometime with tearless eyes we’ll see; Yes, there, up there, we’ll understand.
Refrain
Then trust in God through all the days; Fear not, for He doth hold thy hand; Though dark thy way, still sing and praise, Sometime, sometime we’ll understand.
– Maxwell N Cornelius, 1891
Lord, have mercy
on those who go about in mourning all the day long, who feel numb and crushed
and are filled with the pain of grief, whose strength has given up
and whose friends and neighbours are distant. You know all our sighing and longings:
be near to us and teach us to fix our hope on you alone; through Jesus Christ our Lord.
– https://www.churchofengland.org/prayer-worship/worship/texts/pastoral/funeral/prayers2.aspx#entrusting
Here, wees genadig
teenoor hulle wat bedroef en in rou deur die dag gaan,
hulle wat afgestomp en verpletter voel
en met die pyn van rou gevul is, wie se krag opgeraak het
en wie se naaste op ’n afstand bly.
U ken ons versugtings en verlange:
Wees naby ons en leer ons om ons hoop op U alleen te vestig
deur Jesus Christus ons Here.
– ’n vry vertaling van bostaande gebed
Skielike dood soos ’n voertuigongeluk
Here, ons is verward soos ons hier sit.
Die skok van NN se skielike dood sit vlak.
Troos ons, kom ons tegemoet met u liefde en vrede
en help ons om rus te vind in u liefde vir al u kinders, en in u beloftes.
Lei ons in hierdie saamwees met die versekering van u nabyheid en u liefde
deur Jesus Christus ons Here. Amen.
Kindersterfgevalle
Liewe God,
in die onsekerheid en verdriet van hierdie oomblikke
wil ons vashou
aan u Woord en u trou
dat ons nie uit u hande sal val nie. Ons bid vir NN,
vir sy/haar ouers en vir (…). Bewaar hulle en ons veilig by U in lewe en in sterwe
in tyd en in ewigheid soos U Jesus, u Seun,
deur die dood heen bewaar het.
Laat die doop van NN
vir ons ’n teken wees van die lewe wat geen einde het nie.
Amen.
– Vir gebruik by die begrafnis van ’n gedoopte kind; vry vertaal uit In verwachting van leven
Liewe Heer,
u geliefde Seun het kinders in sy arms geneem en hulle geseën.
Gee ons genade sodat ons NN aan u nimmereindigende sorg en liefde sal toevertrou,
en bring ons almal na u hemelse koninkryk deur Jesus Christus ons Here.
Amen.
– Vry vertaal uit Book of Common Worship
Liewe Heer,
U is die naaste aan ons wanneer ons U die heel nodigste het.
In hierdie uur van smart draai ons na U met vertroue in u ewige liefde.
Ons dank U vir die gawe van hierdie kind, vir sy/haar doop as deel van u kerk,
vir die vreugde wat hy/sy gebring het vir almal wat hom/haar geken het
en vir die kosbare herinneringe wat by ons sal bly,
asook vir die versekering dat hy/sy vir ewig sal leef en die troos en vrede
van u teenwoordigheid.
Amen.
– Vry vertaal uit Book of Common Worship
GEBED VAN ’N OUER
Here, ek dra swaar aan hierdie skuld.
Waar was ek toe NN my die nodigste gehad het? Dan wonder ek waar was U?
’n Gawe uit u hand,
weggepluk uit my hart, my lewe. Soveel oomblikke om te onthou,
soveel wat ek bang is ek vergeet.
’n Lewe wat nie geleef sal word nie. Drome en planne in die kiem gesmoor. Hoe kon ek iemand só kosbaar verloor?
Laat dit u genade wees wat my lei,
nie die skuld, die angs, die vrae, wat my bloots ry. Omvou my in u lig,
voor die donker my verswelg.
En beskerm my ander verhoudings, dié met my familie en vriende,
my ander kinders en my lewensmaat.
– Santie Bothe-Smith
3. LITURGIESE RITUELE WAT EERS
LATER UITGEVOER WORD
Asplasingsdiens
Liturgiese orde vir die plasing van as (“Committal Service”)
Verassingsdienste word deesdae al meer algemeen. Daarom kom die gebruik om die as van die oorledene in ’n sekere stadium ná die verassing iewers te plaas of te strooi ook meer voor. Daar is dikwels dan ook ’n behoefte om hierdie plasing van die as op ’n liturgiese manier in handelinge en woorde te begelei. Hier is ’n voorstel wat met ’n asplasing gebruik kan word.
OPENING
Ek wil ons saamwees vandag met dieselfde woorde begin waarmee ons NN se gedenkdiens begin het: “NN is gedoop in die dood en opstanding van Jesus Christus. Dit is ons troos.” Daarom kan ons vandag weer saam met Paulus sê: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Amen.
SKRIFLESINGS
Ek lees graag vir ons die volgende Skrifgedeeltes. (Die voorganger maak self ’n keuse van gepaste tekste, bv Ps 23; Joh 11:25-26; Rom 14:8.)
PLASING VAN AS IN KOLAMBARIUM
In vaste hoop op die opstanding tot die ewige lewe, deur ons Here Jesus Christus,
vertrou ons NN aan ons almagtige God toe en aan sy/haar laaste rusplek.
DIE ONS VADER-GEBED
Diegene wat wil, kan saam met my die gebed bid wat ons Here ons geleer het …
HERINNERINGE
Die geleentheid word gebied vir iemand wat iets wil deel.
SEËN
3.
4.
5. 4. BYBELGEDEELTES
Wat hier volg, is ’n verskeidenheid Bybeltekste wat tydens die Woordverkondiging by begrafnisse, roudienste of verassings gebruik kan word. Sommige hiervan het direk met die dood te doen en is voor die hand liggende “begrafnistekste”. Ander kom uit ’n verskeidenheid ander kontekste, maar kan wel ook tydens bogenoemde dienste gebruik word, mits dit eers aan grondige eksegese en verantwoordelike hermeneutiese prosesse onderwerp word en die toets slaag. ’n Mens mag nooit net op die klank van woorde staatmaak nie.
Daar word by sommige van hierdie tekste aangedui by watter tipe sterfgevalle dit bruikbaar kan wees soos moordsituasies, ’n onverwagte of tragiese dood of die dood van ’n kind. Waar daar geen voorstel gemaak word nie, kan die teks in ’n verskeidenheid situasies gebruik word.
Genesis 4:10: “Maar die Here sê: ‘Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My’” (moordsituasie).
Genesis 9:11: “Ek sal my verbond met julle hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer ’n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie” (natuurramp).
Genesis 15:15: “Jy sal in vrede sterf en op ’n hoë ouderdom begrawe word” (dood van ’n bejaarde).
Genesis 16:13-14: “Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: ‘U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.’ Daarom word die fontein genoem Lagai-Roï-fontein. Die fontein is tussen Kades en Bered” (’n vader sterf vroeg).
Genesis 22:14: “Toe noem Abraham die plek: ‘Die Here voorsien.’ Daar word nou nog gesê: ‘Op die berg van die Here word voorsien.’”
Genesis 24:67: “Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad. So is Isak vertroos ná sy ma se dood” (die dood van ’n moeder).
Genesis 48:21: “Toe sê Israel vir Josef: ‘Ek gaan binnekort sterf, maar God sal by julle wees. Hy sal julle terugbring in die land van julle voorvaders’”(die dood van ’n vader).
Numeri 23:10: “Wie kan die stof tel, wie vir Jakob, wie kan selfs een kwart van Israel se getal bereken? Mag ek ook eendag as opregte sterwe, mag my einde soos hierdie volk s’n wees.”
Numeri 35:33-34: “Julle mag die land waarin julle woon, nie onrein maak nie, want bloedvergieting verontreinig die land en daar kan alleen deur die dood van hom wat die bloed vergiet het, versoening gedoen word vir die land waarin die bloed vergiet is. Julle moenie die land waarin julle bly en waar Ek teenwoordig is, onrein maak nie, want Ek, die Here, is teenwoordig by die Israeliete” (moordsituasie).
Deuteronomium 12:7: “Daar in die teenwoordigheid van die Here julle God moet julle en julle families saam eet en bly wees oor alles wat julle reggekry het deurdat die Here julle God julle voorspoedig gemaak het.”
Deuteronomium 19:13: “Jy mag hom nie genade betoon nie. Jy moet uit Israel uitroei dié wat onskuldige bloed vergiet, dan sal dit met jou goed gaan” (moordsituasie).
Deuteronomium 30:19: “Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf.
Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.”
Deuteronomium 32:10-12: “Hy het sy volk in die woestyn gevind, in ’n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ’n ander god by Hom nie.”
1 Samuel 2:6-9: “Die Here maak dood en Hy maak lewend, Hy laat afdaal na die doderyk toe en Hy laat daaruit opkom. Die Here maak arm en Hy maak ryk, Hy verneder, ook gee Hy aansien. Hy laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit; Hy skenk hulle ’n ereplek. Aan die Here behoort die pilare van die aarde; Hy het die aarde daarop gegrondves. Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad, maar die goddeloses word stil gemaak in die duisternis van die graf.”
1 Samuel 16:7: “Maar Hy sê vir Samuel: ‘Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlik’” (selfdoodsituasie).
1 Samuel 20:3: “Dawid het toe vir Jonatan met ’n eed verseker: ‘Jou pa weet baie goed dat jy van my hou en hy het gedink: Jonatan mag dit nie weet nie sodat hy nie sleg voel nie. Maar so seker as die Here leef en so seker as jy leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood’” (onverwagte dood van ’n jong man).
1 Samuel 1:26: “Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan. Jy was baie na aan my hart. Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou” (dood van ’n vriend).
2 Samuel 2:26: “Toe skreeu Abner vir Joab: ‘Moet die swaard aanhou verteer? Besef jy nie dat die uiteinde net bitterheid is nie? Wanneer gaan jy eendag die manskappe beveel om nie meer hulle broers te agtervolg nie?’” (moordsituasie).
2 Samuel 12:22-23: “Sy antwoord was: ‘Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie’” (dood van ’n kind).
2 Samuel 18:33: “Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: ‘My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun’” (dood van ’n onverskillige seun).
2 Samuel 22:29: “U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my.”
1 Konings 2:2: “Noudat ek die pad van alle mense moet gaan, moet jy sterk wees en soos ’n man optree” (dood van ’n bejaarde vader).
1 Konings 17:14: “So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land” (troos vir ’n weduwee).
1 Konings 19:8: “Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.”
1 Konings 2:12: “Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: ‘My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!’ Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur” (dood van ’n vader).
2 Konings 24:4: “Jerusalem was vol van die bloed van onskuldige mense, en die Here wou dit nie vergewe nie” (moordsituasie).
2 Kronieke 16:9: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”
2 Kronieke 17:6: “Hy het sy eer daarin gestel om te leef soos die Here dit wil en het die vernietiging van die hoogtes en gewyde pale in Juda voortgesit.”
Job 1:21: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here” (onverwagte dood van ’n kind of kinders).
Job 2:10: “‘As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?’ Onder alles het Job met geen woord gesondig nie” (onverwagte of tragiese dood).
Job 5:26: “Jy sal op rype ouderdom die graf ingaan soos ’n gerf wat op sy tyd na die dorsvloer toe gebring word” (dood van ’n bejaarde).
Job 7:2: “Sy lewe is soos dié van ’n slaaf wat smag na koelte, soos dié van ’n dagloner wat verlang na betaaltyd.”
Job 7:9-10: “Soos ’n wolk weggaan en verdwyn, so gaan ’n mens dood en kom nie terug nie. Hy kom nooit terug na sy huis toe nie, en sy plek is vir altyd leeg.”
Job 19:25-27: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe” (dood van iemand wat swaar gely het).
Psalm 5:2-4: “Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.”
Psalm 16:6, 11: “’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is” (dood van iemand wat ’n vol lewe gehad het).
Psalm 20:6: “Ons sal juig oor u oorwinning en in die Naam van ons God die vaandels ontplooi.”
Psalm 21:4-5: “U skenk hom voorspoed en geluk, U plaas ’n goue kroon op sy kop. Lewe het hy van U gevra; U het hom dit gegee – ’n lang, lang lewe” (dood van iemand wat ’n lang, vol lewe gehad het).
Psalm 23:4: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”
Psalm 27:10: “Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem” (dood van ouers).
Psalm 31:6: “In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak” (dood van iemand wat gely het).
Psalm 32:10: “Die goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde.”
Psalm 34:9: “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.”
Psalm 37:5: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”
Psalm 39:3-4: “Ek was stom en sprakeloos, ek het geswyg, nie gepraat nie, maar my smart het al hoe groter geword. Daar was ’n brandpyn in my, my smart het ’n vuur in my geword. Toe móés ek praat” (onverwagte of tragiese dood).
Psalm 39:10: “Ek kla nie, ek maak my mond nie oop nie, want U het dit oor my gebring” (onverwagte of tragiese dood).
Psalm 40:13: “… want ramp op ramp het my oorval, my ongeregtighede het my ingehaal; ek weet nie meer waarheen nie. Hulle is meer as die hare op my kop; ek is moedeloos” (tragedie wat kort op ’n vorige beproewing volg).
Psalm 42:8-9: “… waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis.
U het golf na golf oor my laat slaan. Tog sal die Here weer op ’n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag ’n lied vir Hom sing, ’n gebed tot die God van my lewe” (tragedie wat kort op ’n vorige beproewing volg).
Psalm 46:2-6: “God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. God is daar; die stad sal nie wankel nie. God sal hom help nog voor die môre kom.”
Psalm 46:11-12: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting” (onverwagte of tragiese dood).
Psalm 49:17-18: “Moet jou nie daaroor kwel dat mense ryk word, dat hulle besittings baie word nie, want as hulle sterf, neem hulle niks saam nie; hulle besittings sal hulle nie volg nie” (dood van ’n arm persoon).
Psalm 56:9: “My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken.”
Psalm 62:2-4: “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan. U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys.”
Psalm 68:20: “Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp!”
Psalm 69:2: “Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom.”
Psalm 71:15, 20: “Sonder ophou sal ek van u verlossingswerk, van u reddingsdade bly praat, want hulle is meer as wat ek kan tel. U het talle benoude ervaringe oor my gebring, maar elke keer weer my lewe gered, my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood.”
Psalm 73:28: “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel.”
Psalm 86:17: “Maak my ’n voorbeeld van u goedheid, sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.”
Psalm 90:12: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.”
Psalm 91:16: “’n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly” (dood van ’n bejaarde persoon).
Psalm 103:1-18: “Van Dawid. Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk. Die Here laat geregtigheid en reg geskied aan almal wat verdruk word. Aan Moses het Hy sy wil bekend gemaak, aan Israel wat Hy van plan was om te doen. Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ’n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte, vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom.”
Psalm 116:15: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.”
Psalm 121:1-4, 8: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”
Psalm 125:1: “Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan.”
Psalm 130:5: “Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.”
Psalm 130:6-7: “Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.”
Psalm 139:16: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.”
Psalm 142:8: “Bevry my uit my gevangenskap, dat ek u Naam kan loof. Die regverdiges sal dankbaar om my kom staan wanneer U aan my goed doen.”
Psalm 147:3, 6: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde. Die Here laat die hulpeloses weer opstaan, maar die goddeloses verneder Hy tot in die grond.”
Spreuke 4:18: “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is.”
Spreuke 14:32: “Die goddelose kom tot ’n val deur sy boosheid; die regverdige het ’n toevlug, ook in sy dood.”
Spreuke 17:6: “Kleinkinders is vir oumense ’n trots; vaders is vir hulle seuns ’n sieraad” (dood van ’n kind, ouer of grootouer).
Prediker 3:2: “Daar is ’n tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterwe, ’n tyd om te plant, ’n tyd om plante uit te trek.”
Prediker 3:14: “Ek het tot die insig gekom dat wat God doen, blywend is: jy kan daar niks byvoeg nie en jy kan daar niks van wegneem nie. God doen dit sodat die mens vir Hom ontsag sal hê.”
Prediker 5:18-19: “God gee aan ’n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is ’n gawe van God. So ’n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee” (dood van ’n vrolike mens).
Prediker 6:4-6: “’n Doodgebore baba kom tot niks, dit sien nooit die lig nie en kry nie eens ’n naam nie. Dit sien nie die son nie en weet niks nie. Tog is dit beter daaraan toe as iemand wat nie die goeie van die lewe kan geniet nie, al leef hy twee maal duisend jaar. Altwee gaan na dieselfde plek toe” (dood van ’n fetus of pasgebore baba).
Prediker 11:7-8: “Die lig is aangenaam, dit is goed vir die oë om die son te sien. As ’n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees. Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is.”
Prediker 12:7: “… die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”
Jesaja 6:1: “In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul” (onverwagte of tragiese dood).
Jesaja 25:4: “… want U is ’n toevlug vir die armes, ’n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood, ’n skuilplek teen die stortbuie, ’n skaduwee teen die hitte.”
Jesaja 30:26: “Dié dag wanneer die Here die wonde van sy volk verbind en die seerplekke genees waar Hy hulle geslaan het, sal die maan so helder skyn as die son en die son sewe maal so helder as die lig van sewe dae saam” (onverwagte of tragiese dood).
Jesaja 33:2: “Wees ons genadig, Here, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood.”
Jesaja 40:6-8: “Iemand sê: ‘Roep!’ En ek vra: ‘Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ’n veldblom. Gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai.’ Dit ís so, die volk is soos gras.
Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig” (onverwagte of tragiese dood).
Jesaja 40:11: “Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.”
Jesaja 40:29-31: “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”
Jesaja 41:13: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.”
Jesaja 43:1: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.”
Jesaja 43:2-6: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af, Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af.”
Jesaja 49:14-16: “Sion sê: ‘Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet.’ Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my” (dood van ’n kind).
Jesaja 55:8-9: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes” (onverwagte of tragiese dood).
Jesaja 57:18-20: “Ek het gesien wat met hom gebeur, en Ek sal hom genees. Dié van hom wat treur, sal Ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee. Ek stel hulle in staat om My weer te loof. Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is, sê die Here. Ek sal hulle genees. Maar die goddeloses is soos die onstuimige see wat nie tot rus kan kom nie en waarvan die golwe aanhou om slyk en modder uit te stoot.”
Jesaja 58:11: “Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie.”
Jesaja 60:20: “Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, jou dae van smart is verby” (dood van iemand wat swaar gely het).
Jesaja 61:10: “Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ’n bruidegom met ’n priesterkroon op, soos ’n bruid met haar juwele aan.”
Jesaja 65:20: “Daar sal geen kind sterf wat maar ’n paar dae oud is nie en geen grysaard wat nie sy jare uitgeleef het nie. As iemand op honderdjarige leeftyd sterf, sal dit beskou word asof hy jonk gesterf het; as hy nie honderd word nie, sal hy beskou word as iemand wat vervloek is” (dood van ’n baba of jong kind).
Jesaja 66:13-14: “Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel. Julle sal veilig voel in Jerusalem. Julle sal dit beleef en julle sal bly wees; julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit. So sal die mag van die Here geopenbaar word aan sy dienaars” (dood van ’n kind).
Jeremia 8:21: “My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig” (onverwagte of tragiese dood).
Jeremia 31:25: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed.”
Klaagliedere 2:11: “My oë is gedaan van die huil, dit brand in my, my moed is gebreek, want my volk is plat geslaan; kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad” (dood van ’n kind of kinders, soos met die Westdene-busramp van 1985).
Klaagliedere 3:21-26: “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.”
Klaagliedere 3:32-33: “As Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.”
Klaagliedere 3:49-50: “My trane sal aanhou vloei, dit sal nie ophou nie, totdat die Here uit die hemel afkyk en dit raaksien” (onverwagte of tragiese dood).
Esegiël 13:19: “Julle het my Naam ontwy onder my volk vir ’n paar handevol gars en ’n paar stukkies brood. Julle het mense doodgemaak wat nie moes gesterwe het nie” (moordsituasie).
Esegiël 18:21: “Maar die goddelose wat hom van al sy sondes bekeer, al my voorskrifte nakom, reg laat geskied en reg doen, sal bly lewe, hy sal nie sterwe nie” (dood van iemand met ’n goddelose verlede voor sy/haar bekering).
Daniël 12:2: “Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting.”
Daniël 12:13: “Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd.”
Nahum 1:7: “Die Here is goed, Hy is ’n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.”
Matteus 7:9-11: “Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, of ’n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (dood van ’n liefdevolle vader).
Matteus 7:13-14: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”
Matteus 10:28: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan” (moordsituasie).
Matteus 10:29-31: “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies” (onverwagte of tragiese dood).
Matteus 23:37: “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!” (moord op ’n toegewyde gelowige, gesin of geestelike leier).
Markus 5:36: “Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: ‘Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!’” (dood van ’n dogter).
Markus 14:8-9: “Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar” (dood van ’n barmhartige vrou).
Lukas 19:6: “Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.”
Lukas 20:38: “Hy is nie ’n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”
Lukas 22:16: “Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.”
Johannes 1:12: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”
Johannes 1:16: “Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.”
Johannes 5:24: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”
Johannes 5:28-29: “Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ’n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”
Johannes 8:51: “Dít verseker Ek julle: As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
Johannes 8:56: “Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.”
Johannes 10:28: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
Johannes 11:25-26: “Toe sê Jesus vir haar: ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?’”
Johannes 14:1-3: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (onverwagte of tragiese dood).
Johannes 16:33: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
Handelinge 7:55-56: “Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. ‘Kyk,’ het hy gesê, ‘ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan’” (moordsituasie).
Handelinge 9:36: “In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help” (dood van ’n barmhartige vrou).
Handelinge 14:22: “Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. ‘Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,’ het hulle gesê.”
Handelinge 20:24: “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.”
Romeine 3:23-24: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”
Romeine 5:3-5: “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Romeine 8:1-2: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.”
Romeine 8:15: “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader.”
Romeine 8:18: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie” (dood van iemand wat swaar gely het).
Romeine 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (onverstaanbare doodsituasie).
Romeine 8:35-39: “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.’ Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
Romeine 10:20: “En Jesaja gaan selfs verder. Daar sê God: ‘Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie, Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie’” (dood van iemand wat God laat in sy/haar lewe leer ken het, veral nadat iemand met ’n evangelisasiehart so iemand na die Here gelei het).
Romeine 12:12: “Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.”
Romeine 14:8: “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”
1 Korintiërs 2:9: “Maar soos daar geskrywe staan: ‘Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,’ en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.”
1 Korintiërs 13:9-12: “Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees. Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind. Maar noudat ek ’n man is, is ek klaar met die dinge van ’n kind. Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken” (onverstaanbare doodsituasie).
1 Korintiërs 15:10: “Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.”
1 Korintiërs 15:19: “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.”
1 Korintiërs 15:20: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.”
1 Korintiërs 15:26: “Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.”
1 Korintiërs 15:53: “Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.”
1 Korintiërs 15:54-55: “En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: ‘Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?’”
1 Korintiërs 1:4-5: “In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, want net soos daar vir ons ’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ’n oorvloed van bemoediging deur Christus.”
2 Korintiërs 1:8-9: “Ons wil hê … dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.”
2 Korintiërs 2:14: “Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur.”
2 Korintiërs 3:10: “Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie.”
2 Korintiërs 5:1-5: “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur
mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek. Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie. Ons wat
nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.”
2 Korintiërs 12:9-10: “Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.”
Efesiërs 1:14: “Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.”
Efesiërs 2:6: “Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee.”
Efesiërs 2:13: “Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.”
Efesiërs 5:15: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges.”
Efesiërs 5:16: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd.”
Filippense 1:21: “Want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”
Filippense 1:23: “Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.”
Filippense 3:10-11: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”
Filippense 3:20: “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.”
Filippense 4:6-7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Filippense 4:11: “Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.”
Kolossense 1:3-14: “Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en ’n getroue dienaar van Christus in julle belang. Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is. Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.”
Kolossense 1:27: “God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.”
Kolossense 3:1-4: “Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die
regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.”
1 Tessalonisense 1:2-3: “Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.”
1 Tessalonisense 4:13-18: “Ons wil hê … dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde.”
1 Timoteus 1:15: “Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste” (dood van iemand met ’n goddelose verlede voor sy/haar bekering).
1 Timoteus 1:10: “Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.”
2 Timoteus 1:12: “Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.”
2 Timoteus 2:11-13: “Dit is ’n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie.”
2 Timoteus 4:7-8: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.”
2 Timoteus 4:18: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.”
Filemon 1:7: “Jou liefde het vir my groot vreugde en bemoediging gebring, omdat jy, broer, die harte van die gelowiges verkwik het.”
Hebreërs 3:14: “Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.”
Hebreërs 6:19: “Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.”
Hebreërs 10:36: “Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.”
Hebreërs 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
Hebreërs 11:8-10: “Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.”
Hebreërs 11:13: “Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.”
Hebreërs 13:7: “Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het” (dood van ’n toegewyde kerkraadslid of leraar).
Jakobus 4:13-15: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat
nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: ‘As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen’” (onverwagte of tragiese dood).
Jakobus 5:7: “Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het.”
1 Petrus 1:3-9: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.”
1 Petrus 1:24-25: “Die Skrif sê: ‘Die mens is soos gras, en al sy prag soos ’n veldblom; die gras verdor en die blom val af, maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.’ En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.”
1 Petrus 3:15: “In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”
1 Petrus 5:4: “En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.”
1 Petrus 5:6-7: “Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (onverwagte of tragiese dood).
1 Petrus 1:19: “En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.”
2 Petrus 3:13: “Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”
Openbaring 1:17-18: “Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.’”
Openbaring 2:10: “Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee” (moordsituasie).
Openbaring 6:9-11: “Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. Hulle het hard geroep: ‘Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?’ Aan elkeen van hulle is daar lang wit
klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ’n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is” (moordsituasie).
Openbaring 12:11-12: “Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so liefgehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie. Daarom, hemel en dié wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het” (moordsituasie).
Openbaring 14:13: “Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: ‘Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.’ ‘Ja,’ sê die Gees, ‘hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.’”
Openbaring 20:13: “Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het” (verdrinking).
Openbaring 21:4-5: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’ En daarna sê Hy: ‘Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.’”
5. MUSIEK
In hierdie afdeling het die Suid-Afrikaanse himnoloog ds Cassie Carstens ’n keur van liedere saamgestel. Die keuse is gemaak uit Liedboek van die kerk (waaruit ook psalms geneem is) en die VONKK-versameling. Enkele bekende Engelse liedere is ook ingesluit. Uiteraard bestaan daar veel meer moontlikhede as hierdie seleksie, maar hierdie moontlikhede word hier ingesluit omdat die keuse van liedere in sommige gemeentes dikwels uit ’n veel kleiner versameling kom as wat hier aangegee word; die bedoeling hier is dus juis om te wys dat die aanbod aansienlik groter is.
Geloof, vertroue en berusting
Psalm 23 (Totius) = Net soos ’n herder uittrek met sy skape
Psalm 46 = God is ons toevlug en ons skut
Psalm 57 = Wees my genadig, o my Heer
Psalm 91 (tweede melodie) = Wie God Almagtig bly vertrou
Psalm 108 = Ek voel weer veilig by U, Heer
Liedboek 498 = Hy wat glo, word nie beskaam nie
Liedboek 500 = Gods dade is volmaak en goed
Liedboek 503 = Jesus, Rots, my hoop vir ewig
Liedboek 509 = Op berge en in dale
Liedboek 512 = Nader, my God, by U
Liedboek 517 = Leer ons U vertrou, o Here
Liedboek 519 = Wees stil en weet: Ek is die Heer
Liedboek 571 = Here, hoeveel blye dae
Liedboek 573 = Ruwe strome breek in woede
Liedboek 575 = Wie op die Heer vertrou in lyding
Liedboek 577 = Die Heer, my herder, sorg vir my
Liedboek 578 = Jesus wat my liefhet, Heer
Liedboek 579 = Ons harte is verheug dat God
Liedboek 580 = Rus, my siel, jou God is Koning
Liedboek 581 = O Heer, my God, ek leef uit u ontferming
Liedboek 588 = O God van hoop, gee ons u vrede / Engels = Abide with me
Engels = O God, our help in ages past Engels = The Lord’s my shepherd Vonkk 31 = My siel vind rus
Vonkk 123 = Wees stil en weet
Vonkk 127 = By God is ek tevrede
Vonkk 186 = Die Here is my Herder
Vonkk 230 = By die Heer vind ek rus
Vonkk 231 = Laat julle kommer en sorge aan Hom oor
Sekerheid
Vonkk 16 = God van ons verlede
Vonkk 154 = Toe ek gedink het my voete gly
Vonkk 156 = As vreugde my deel is
Vonkk 160 = Dié wat My liefhet, word veilig bewaar
Vonkk 192 = Ek voel weer veilig
Vonkk 223 = O Here, bly by my
Vonkk 315 = Ek was eensaam en verlaat
Twyfel en vrae
Vonkk 44 = Ek roep in nood die Here aan
Vonkk 101 = Hoe lank nog, Heer
Vonkk 284 = Soms kom daar tye
Vonkk 308 = Ek’s vol vrae, onseker
Gebed om verlossing
Psalm 42 (Lina Spies) = Smagtend soos in dorre streke
Klaaglied
Psalm 86 = Here, luister tog, verhoor my
Psalm 130 (TT Cloete; tweede melodie) = Uit dieptes van die duister Liedboek 511 = Lei U ons, Lig
Vonkk 300 = Here, sien my trane
Nuwe hemel en aarde
Liedboek 425 = Kyk die Heer het opgestaan
Liedboek 593 = Om ons bly die skepping sug
Liedboek 594 = Na ons bestaan in tyd en ruimte
Liedboek 602 = Ek sien ’n nuwe hemel kom
Oordeel
Liedboek 585 = O Jesus, laat ons nooit vergeet
Liedboek 591 = Die boekrol in Gods regterhand
Liedboek 592 = Die boekrol, Lam van God
Ons Vader
Liedboek 266 = Ons Vader wat woon in die hemel
Vertroosting
Psalm 16 (Antjie Krog) = Heer, bewaar my dig by U
Psalm 31 = By U, o Here, soek ek skuilplek
Psalm 116 = God het ek lief, omdat Hy my verhoor
Wederkoms
Liedboek 587 = “Kyk, Hy kom!” Wag, laat ons luister
Liedboek 589 = Verheerlik aan Gods regterhand
Liedboek 590 = Het jy gehoor dat eenmaal
Liedboek 595 = Ons wag op U, o Seun van God
Liedboek 596 = Ons sien vooruit na daardie dag
Liedboek 599 = As Hy weer kom, as Hy weer kom
6. POËSIE
In die onderstaande lys is daar gedigte wat handel oor die dood, hetsy dit metafories of vergelykend van aard is. Die Afrikaanse term hiervoor is lykdigte. Die korpus sluit ’n verskeidenheid digters in. Die Afrikaanse letterkunde is ’n skat wat grootliks onontgin is vir liturgiese gebruik, ook met betrekking tot die viering van die dood.
GEDIGTITEL | BUNDEL EN JAAR | DIGTER |
1. “Aanraking van die dood” | Die halwe kring, 1937 | NP van Wyk Louw |
2. “By ’n sterwende kindjie” | Leitourgos, 1972 | IL de Villiers |
3. “Portret” | Die vrou en ander verse, 1945 | Elisabeth Eybers |
4. “Daar is geen dood” | Passieblomme, 1934 | Totius |
5. “vuur op die maan” | Oorblyfsels, 1997 | breyten breytenbach |
6. “Die skedel lag al huil
die gesig” |
Van vergetelheid en van glans,
1976 |
Wilma Stockenström |
7. “Lê en roer” | Allotroop, 1985 | TT Cloete |
8. “In Memoriam” | Allotroop, 1985 | TT Cloete |
8. “Solstitium” | Geslote baan, 1988 | Joan Hambidge |
9. “Korreltjie sand” | Rook en oker, 1963 | Ingrid Jonker |
10 “o, die pyn-gedagte” | Passieblomme, 1934 | Totius |
11. “Nog eenmaal” | Nuwe verse, 1954 | NP van Wyk Louw |
12. “Herinnering” | Die vrou en ander verse, 1945 | Elisabeth Eybers |
13. “Ek sal opstaan” | Versamelde gedigte, 1978 | WEG Louw |
14. “Die wêreld is ons
woning nie” |
Passieblomme, 1934 | Totius |
15. “Die eerste nag” | Die stil avontuur, 1975 | Elisabeth Eybers |
16. “Die begrafenis” | Phateon en ander gedigte, 1931 | Eitemal/WJ du Plooy
Erlank |
17. “Afskeid” | Om jou verlaas te groet:
nagelate verse, 1985 |
Koos du Plessis |
18. “Afgestorwene:
’n portret” |
Inkeer, 1948 | SJ Pretorius |
GEDIGTITEL | BUNDEL EN JAAR | DIGTER |
19. “Gesprek van die
dooie siele” |
Alleenspraak, 1935 | NP Van Wyk Louw |
20. “Nagedagtenis” | Gelykenisse en ander verse, 1975 | IL de Villiers |
21. “Dit is volbring” | Leviet en vreemdeling, 1978 | IL de Villiers |
22. “Naskrif: Pinkster, 1971” | Klein rondreis, 1981 | Annette Snyman |
23 “Die Roos” | Rose van herinnering, 1927 | AG Visser |
24. “Die geskenk” | Die stil avontuur, 1975 | Elisabeth Eybers |
25. “Stasie” | Dogter van Jefta, 1970 | Antjie Krog |
26. “’n Variasie op Psalm 23” | Voor-bode, 2016 | Cas Vos |
27. “Aankoms” | Gode van papier, 2001 | Cas Vos |
28. “Aanbidding” | Duskant die einders, 2004 | Lina Spies |
29. “Hemel” | Dertien, 2012 | Koos Kombuis |
30. “Laaste Avondmaal” | Diaspora, 1990 | Tom Gouws |
31. “ek sal sterf en na my
vader gaan” |
Mondmusiek, 2010 | breyten breytenbach |
32. “Ontvlugting” | Ontvlugting, 1956 | Ingrid Jonker |
33. “Wete” | Joan Hambidge |
Hoofstuk 6
Om rou beter te verstaan
Ons praat nie oor die dood nie. Dit is ’n onderwerp wat ons almal ongemaklik maak. Omdat ons nie praat nie, weet ons ook nie wat om te verwag wanneer die dood oor ons pad kom en wat om daarmee te maak nie – ons word dikwels heeltemal onkant betrap wanneer ’n geliefde sterf.
Ja, dit is moeilik om die onafwendbaarheid van die dood te aanvaar, en ons huidige samelewing dra nie juis by tot ’n genoegsame kennis oor en aanvaarding van die dood as ’n natuurlike deel van die menslike bestaan nie. ’n Paar dekades gelede het veel meer mense by hulle eie huis en in hulle eie bed gesterf. Mense is baie aan die dood blootgestel
– families was daar in die oomblik wanneer ’n geliefde sy of haar laaste asem uitgeblaas het en dikwels het hulle dan ook self die oorledene se liggaam versorg. Dood was ’n normale aspek van die daaglikse lewe (Klopper, 2009:16).
Omdat die dood so ’n taboe-onderwerp is, verstaan ons oor die algemeen nie die rouproses nie, hoewel dit eintlik iets is waarvan almal behoort te weet. Irvin Yalom (2002:16) is reg wanneer hy sê al kan die liggaamlikheid van die dood ’n mens liggaamlik vernietig, kan die denke daaroor ons dalk net red.
Wanneer die dood oor jou pad kom, stroop dit jou. Jy kan nie op die gewone manier met die alledaagse voortgaan nie. Die emosies wat jy ervaar, kan oorweldigend wees. Jy soek na rigting, antwoorde en genesing vir die pyn, maar weet nie waar om te begin nie. Baie mense kan selfs in hierdie tyd ’n totale geloofskrisis ervaar.
Elke persoon se rouproses is uniek en daar is ’n hele aantal moontlike redes vir hierdie verskille (De Klerk, 1968; Klopper, 2009). Elke aspek van jou bestaan word by die rouproses betrek. Ons maak dikwels die fout om aan te neem dit is net ’n emosioneel-sielkundige
ervaring. Tog kan rou veel wyer uitkring as jou emosies en sielkundige welstand – dit raak jou liggaamlik en dit raak jou sosiale omgewing (dink hier aan jou gesinslewe, vriendekring, jou werksomgewing en selfs jou verhouding met God.)
Daar is wel algemene kenmerke van die rouproses, maar daar is soveel veranderlikes in elke individu se lewe teenwoordig dat elkeen se ervaring uniek is. Jou verhouding met die oorledene en met God, jou kultuur en of jy manlik of vroulik is, kan alles baie invloedryk in jou ervaring van rou wees (De Klerk, 1968:98). Verder reageer niemand dieselfde nie. Sommige mense kan histeries huil, terwyl ander amper geen emosie toon nie. Elkeen se reaksie moet met die nodige respek hanteer word.
Ook die “simptome” van rou verskil van persoon tot persoon. Veral liggaamlike simptome ontstel mense, juis omdat hulle net ’n emosionele ervaring verwag en dus nie besef die liggaamlike simptome hou met die rouproses verband nie. Hierdie simptome kom nie noodwendig altyd en by almal voor nie, maar mense in rou kan gerusgestel word deur die wete dat dinge soos verwardheid, hartkloppings, huilerigheid, gewigsverlies of -toename, vergeetagtigheid, konsentrasieprobleme, bewerigheid, moegheid en/of rusteloosheid, moontlik as deel van die proses ervaar kan word (Klopper, 2009:22-23). Daar moet nie vir een oomblik gedink word dat ons sommer gou-gou rou as konsep en proses kan opsom, netjies verpak en eenvoudig kan verduidelik nie – juis omdat mense so uiteenlopend en uniek is. Soos reeds genoem, ken ons oor die algemeen rou uit aan die intense emosies wat ervaar word en spesifieke algemene reaksies en maniere van optree. Wanneer jy jou midde-in die rouproses bevind, neem dit jou hele lewe oor totdat jy by ’n punt van aanvaarding van en aanpassing by ’n nuwe identiteit kom (De Klerk, 1968:99). ’n Nuwe identiteit? Ja, ’n nuwe identiteit, want jy is dalk nou nie meer Marietjie se man nie, maar Marietjie se wewenaar. Jy is dalk nou die ouer van ’n kind wat nie meer daar is nie. Die vorming, aanvaarding van en aanpassing by ’n nuwe identiteit is in die meeste gevalle ’n baie traumatiese ervaring. Deverell & Ross (2004:36) beskryf die rouproses soos volg: Rou is ’n proses waardeur ’n persoon hom-/haarself losmaak van iemand of iets belangriks wat hulle verloor het. Rou is nie noodwendig ’n negatiewe ervaring nie, want dit kan ’n herevaluering van die individu se eksistensiële waardes stimuleer.
Rou is die “tipiese” reaksie op verlies, maar daar is min dinge wat tipies aan rou is. Meestal, soos reeds gesê is, word ’n vloed van emosies ervaar – ’n kombinasie van seer, hartseer, vrees, woede, angs en skuld. Selfs ’n emosie soos woede teenoor die oorledene, God of die persoon wat rou, is moontlik. Hoe meer onverwags die dood, hoe groter die skok en hoe meer oorweldigend die emosies. Daar bestaan geen 12-stap-plan met aanwysings oor hoe om “reg” te rou oor verlies nie, nie een enkele model van ’n sogenaamde “universele rouproses” nie.
Wanneer ons oor rou praat, kan ons dit maar net oppervlakkig en algemeen beskryf. Deverell & Ross (2004:36) sê juis dat ons nie ’n spesifieke volgorde vir fases van rou kan
vaspen nie. Rou loop selde liniêr (van punt A na punt B na punt C, ens); dit is dikwels eerder siklies van aard. Hiermee word bedoel dat jy heen en weer tussen verskillende emosies en ervarings sal beweeg; jy kan dalk dieselfde emosie weer en weer ervaar; dit is nie ’n reguit paadjie nie. Die rouproses is nie “’n opeenvolging van kliniese beelde wat saamsmelt of mekaar vervang” (Parkes, 1986:27) totdat daar weer ’n roetine gevind word nie. Die alombekende modelle van die rouproses kan net as riglyne dien, nie spesifieke, stap-vir-stap-aanwysings nie.
Seker dié bekendste model is dié van Elisabeth Kübler-Ross (1969). Haar model behels vyf fases, naamlik ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en, laastens, aanvaarding. Dit is die model waarvan die meeste van ons bewus is en wat algemeen in die Westerse kultuur as die norm aanvaar word. Maar Kübler-Ross was nie die enige persoon wat met ’n model na vore gekom het nie. In 1980 het John Bowlby sy bydrae gelewer met ’n model wat met vier fases werk:
- protes, hunkering, soeke na die verlore objek
- verlamming/verdowing van gevoel en leegheid
- ongeorganiseerdheid en moedeloosheid
- herorganisering van
’n Ander model, voorgestel deur William Worden (2001), meen dat die rouproses meer is as net die beweging deur verskeie fases, maar dat elke individu take het om uit te voer. Vir hom is dié vier take:
- die aanvaarding van die werklikheid van die verlies
- die deurwerk van die pyn en rou
- die aanpassing by ’n nuwe werklikheid
- en laastens ’n “emosionele vrylating” van die oorledene en ’n aanbeweging met die
Braam Klopper (2009) bied ’n hedendaagse weergawe van ’n model wat meer ruimte laat vir die individualiteit van elke persoon se ervaring. Klopper verkies om van die “proses van rou” eerder as die “rouproses” te praat, juis om ons aandag op die “prosesmatigheid” daarvan te vestig. Hy stel ’n model voor waar die rouproses vergesel word van vyf routake wat afgehandel moet word. Dié take is nie aan tyd gekoppel nie en wanneer die take afgehandel is, kan ons aanvaar dat die persoon ’n bevredigende uitkoms ten opsigte van sy of haar rou bereik het.
- Taak 1: Die werklikheid van die verlies moet verwerk en aanvaar
- Taak 2: Die emosionele pyn van die verlies moet beleef
- Taak 3: Die nagedagtenis van die oorledene moet gevier word.
- Taak 4: Teenstrydige gevoelens moet erken en verwerk
- Taak 5: Die persoon moet afskeid neem en toekomsgerig
Hoewel hierdie take van mekaar onderskei kan word, beteken dit nie noodwendig dat hulle geskei kan word nie. Bogenoemde volgorde sal nie noodwendig chronologies verloop nie en oorvleueling is moontlik (Klopper, 2009:24-83).
Ons elkeen rou in ooreenstemming met ons persoonlikheid en op ons eie tyd. Dit lyk dalk of ons ons rou doeltreffend hanteer en aangepas het by ons nuwe identiteit en leefwêreld, en dan skielik, eendag jare later, word ons uit die bloute depressief en hartseer. Dit is omdat sommige sterftes soms lewenslank betreur kan word, die intensiteit van die treur verskil maar net van dag tot dag. Emosies bly tog wisselend. Hoewel ons graag sou wou hê die pad na genesing en aanvaarding moet reguit loop, is dit byna nooit die geval nie. Goeie dae en slegte dae is in wisselwerking met mekaar en dit is normaal. Vordering vind nie oornag plaas nie, maar geleidelik. Die rouproses is nie voorspelbaar nie, dit is nie maklik nie en dit verskil van mens tot mens.
Niemand sal ná die verlies van ’n geliefde sommer net “oor dit kom” nie – ons pas eerder by die verlies aan, vind ’n nuwe manier om ons storie te vertel met die verlies as deel daarvan en laat dit nie meer die hele storie oordonder nie. Mense moet die tyd en ruimte gegun word om woorde aan hulle emosies te gee solank hulle dit nodig het. Mense is dikwels bang dat as hulle nie meer rou nie, hulle nie meer lojaal teenoor of selfs lief is vir die oorledene nie. Hulle voel hulle rou is ’n simbool van hulle liefde en omgee vir die oorledene. Hulle is bang hulle vergeet hulle geliefde as hulle ophou om hartseer te wees.
Hier moet ons ruimte skep vir mense om hulle geliefdes te onthou, te laat gaan van die seer van die verlies en troos te vind in die goeie herinneringe wat hulle saam met hulle neem. Juis wanneer die hartseer en pyn laat gaan word, word daar soveel meer ruimte geskep om die goeie dinge te onthou. Dan word die herinneringe aan die oorledene ’n meer realistiese deel van die daaglikse lewe (Meyer, 1988:103-110). Dan is dit nie meer pynlik om te onthou nie. Tyd bring nie genesing nie, tyd verloop slegs. Aan die begin kan mense ervaar dat die verloop van tyd die pyn en hartseer eintlik net vererger – tyd wat gevul is met verjaarsdae, herdenkings, vakansies, spesiale dae en dinge wat saam beplan is en nie meer kan gebeur nie. Dit alles maak die afsterwe net meer duidelik en die verlies ’n groter werklikheid (Bothe-Smith, 2014:65).
Intense hartseer is ’n onomwonde deel van rou. Soos reeds genoem, is die hantering van rou nie net die aanvaarding van die verlies nie, maar ook ’n aanpassing by ’n nuwe identiteit en leefwêreld. Wanneer ’n geliefde sterf, kan mense soms voel asof ’n belangrike baken skielik uit hulle wêreld verdwyn het, asof hulle rigtingloos ronddryf totdat hulle nuwe singewende verwysingspunte kan vind. Omdat rou ’n proses is, beteken dit noodwendig dat dit oor ’n tydperk gaan plaasvind en dat hierdie ervaring se aard mettertyd sal verander.
Volgens Ainsworth-Smith en Speck (1982:1-2) is dit van die uiterste belang dat ’n pastor die emosies wat mense in ’n tydperk van rou kan ervaar, sal kan herken en die verloop daarvan verstaan. Daarsonder kan ’n pastor nie iemand bemagtig om deur hulle rouproses te beweeg nie. Dit is daarom noodsaaklik dat daar voldoende opleiding sal wees vir pastors om te voorkom dat enige verdere skade aangerig word wanneer hulle mense help wat deur die rouproses gaan.
In die besonder is dit pastors by wie die gelowiges eerste aanklop ten tyde van dood en daarom behoort hulle in staat te wees om doeltreffende ondersteuning te bied. Dit is ook juis pastors en liturge wat die rouproses moet verstaan en in ag moet neem tydens vierings. Daar is vier hoofoomblikke waarin ’n pastor ’n rol speel ten opsigte van verlies, naamlik die sterfte, die rouproses wat daarop volg, die begrafnis- of verassingsdiens en dan die verdere ontvouing van die rouproses. ’n Proponent wat so pas universiteitsopleiding voltooi het en in ’n gemeente instap, selfs al het hulle redelik baie ondervinding, se vermoë om doeltreffend ondersteuning te bied aan mense wat hulle geliefdes aan die dood afgestaan het, word baiemaal deur ’n gebrek aan kennis ondermyn.
Veral onder nuwe pastors is daar dikwels ’n groot gebrek aan kennis oor wat om te doen, wat om te sê en watter ondersteuning wanneer en hoe gebied moet word wanneer iemand te sterwe kom. Opleiding ten opsigte van die sterwensoomblik en die dinge wat direk daarop volg en wat moet gebeur, is meestal nie voldoende nie. Hierdie bronboek wil dan juis ook in hierdie opsig ’n bydrae maak. Ondersteuning van die pastor se kant af kan veel dieper en verder strek as net Skriflesing en gebed as hy/sy die nodige kennis en opleiding hiervoor het. Enige lidmaat kan in die lig van wat ons hier aanbied ook nadink oor hulle betrokkenheid by ander se sterwe en rou.
Ten opsigte van die rouproses is kennis dikwels beperk tot Elisabeth Kübler-Ross (1969) se model, waarna vroeër verwys is. Min mense laat ruimte vir uitsonderings, ander moontlikhede en afwykings van dié model, waarvolgens die rouproses uit vyf fases bestaan (ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding) waardeur elke persoon wat rou, moet gaan. Die werklikheid is dat elke persoon se rouproses uniek aan hom/haar is.
Die begrafnisdiens betrap menigmaal ’n jong pastor onkant, veral as dit sy/haar eerste begrafnisdiens is. Binne die NG Kerk is die Handleiding vir die erediens tans een van die enigste riglyne vir enige soort erediens, insluitende ’n begrafnis. Tog gaan geen handboek ’n pastor voorberei vir die ervaring van die eerste begrafnis wat hy/sy sal hou nie.
Daarby raak sommige pastors mettertyd lui en gebruik dikwels ’n begrafnispreek vir meer as een begrafnis. Dit is waar dat die pastor dikwels ’n baie vol program het, en in so ’n geval is die herwinning van ’n vorige diens se preek ’n beter opsie as om totaal onvoorbereid op te daag. Tog gebeur dit ook dat ’n predikant die begrafnisondernemer bel om in ’n spesifieke vrou se lêer te gaan kyk wat die teks en liedere was wat hy by daardie begrafnis gebruik het sodat hy nie dieselfde preek en liturgie vir haar man se begrafnis die komende week gebruik nie.
Opleiding aan universiteite ten opsigte van die begrafnisdiens het oor die afgelope paar jaar uitgebrei. Tog sal dit elke student en pastor baat om ’n tyd lank saam met ’n begrafnisondernemer te werk of ten minste ’n besoek of drie by ’n ondernemer af te lê. As pastor in voltydse gemeentebediening sal dit van groot waarde wees om met die begrafnisondernemers in die omgewing verhoudings te bou.
Die laaste belangrike fase van die rouproses is die langste en kan vir die res van die oorlewende persoon se lewe duur, hoewel die eerste paar jaar die belangrikste is. In hierdie tyd raak ander mense, insluitend die pastor, weer besig met die normale gang van hulle lewe en dus al hoe meer onbetrokke. Hierdie tyd is egter ’n eindeloos vrugbare tydperk vir geestelike groei, mits die pastor daarvan gebruik sou maak. Dit is wanneer verjaarsdae, herdenkings en vakansiedae soos Kersdag belangrike tye word om te onthou. Dit maak nie saak of die onthou in die vorm van ’n teksboodskap, ’n oproep of ’n koppie koffie gebeur nie, want een van die belangrikste behoeftes van mense in die rouproses is dat die oorledene onthou sal word.
Hoe werk rou dan? Daar is nie ’n enkelvormige antwoord daarvoor nie. Rou werk altyd anders vir elke persoon. Wat ek wel vir seker kan sê, is dit: Wanneer mense rou, het hulle ondersteuning nodig wanneer die hartseer op die grootste is; ’n oor wat luister wanneer hulle oor hulle verlore geliefde wil praat; goedkeuring wanneer hulle ’n punt bereik waar die hartseer hulle nie meer oorweldig nie en hulle grootliks by die verlies wat hulle beleef het, kon aanpas, en mense wat saam met hulle sal onthou.7