Huiskerk Sondag – 29 Maart 2020
Hoekom ‘n huiskerk?
Ons weet dat kerk-wees baie meer is as bloot inligting deel; dit gaan oor mense wat mekaar ondersteun, bystaan en versorg. Met die 21 Tuisbly dae weet ons dat die kerkgebou gesluit is, maar die kerk is nog.
Dus kom ons, die liggaam van Christus, op ander manier bymekaar kom om kerk te wees en huiskerke is een van hierdie maniere. Gebruik die onderstaande liturgie as huishouding en hou saam huiskerk in ‘n veilige, afgesonderde ruimte.
Paar praktiese wenke om ingedagte te hou met Covid-19 huiskerk:
- Die hele wêreld is op hol oor die Covid-19 virus en dit voel of groot dele van ons daaglikse lewe op ys geplaas is. Om roetine te behou, reël jul huiskerk byeenkoms vir dieselfde tyd as wanneer julle normale eredienste op ‘n Sondag sou plaasvind.
- Voor die huiskerk begin, laat almal teenwoordig hulle hande deeglik was.
- Vind ‘n spasie in die huis waar almal gemaklik kan sit en deelneem, en waar die onderbrekings min gaan wees, sodat julle as groep gefokusd kan saam wees.
- Indien nodig, skakel die radio/televisie af, sit selfone op stil en haal sommer die huisfoon van die mikkie af.
- Die huiskerk is so geskryf dat jonk en oud daaraan kan deelneem. Pas dit gerus aan om by die persone teenwoordig te pas.
- Kry een persoon om die huiskerk te fasiliteer en almal nooi om saam deel te neem.
- Die opset van ‘n huiskerk mag vir baie mense, veral die jongspan, vreemd en ongemaklik wees. Verduidelik aan jou huiskerk waarom julle só bymekaar kom en wat die doel is. Herinner almal dat ons weet dat kerk-wees baie meer is as bloot inligting deel; dit gaan oor mense wat mekaar ondersteun, bystaan en versorg en vir die volgende paar weke gaan ons dit in hierdie spasie doen.
Esegiël 37: 1-14: Droë bene, nuwe lewe
Verwelkoming
Verwelkom almal by julle huiskerk
Deel hoe dit met almal gaan. Is daar dalk enige mylpale wat gevier kan word soos verjaarsdae of huweliksherdinkings?
Lydenstyd gedagte
Vandag is die vyfde Sondag in Lydenstyd. Sit ‘n kers in die spasie waar julle verkeer so dat almal dit kan sien. Indien julle wil, kan julle die kers versier met dorings, spykers en ‘n kruis om ons te herinner aan Jesus se lyding voor Paasfees.
Lydenstyd is ‘n seisoen van 46 dae waarin die kerk die lyding van Christus in herinnering roep en daarop reageer in voorbereiding op die Paasfees. Hierdie tyd is ‘n tyd van selfondersoek, skuldbelydenis, vas, gebed, Bybelstudie en diensbaarheid – selfs meer as normaalweg. Dit is ‘n tyd van soeke na God.
Baie Christene kies om in Lydenstyd vir 40 dae te vas. (40 dae, want daar word nie op Sondae gevas nie, want ons vier elke Sondag Jesus se opstanding.)
Vas is om jouself te ontneem/ontsê van jou normale gebruike, om sodoende doelbewus na God te draai in gebed. Elke keer as mens dan ongemak beleef, word dit as ‘n geleentheid gebruik om doelbewus op God te fokus.
Steek die kers aan, en nooi almal om vir ‘n paar minute in stilgebed hulle harte aan die Here oop te maak. Fokus om die dinge met die Here te deel wat jou lam, en “droog” laat voel. Wat steel jou hoop of maak jou moedeloos?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom wat in liefde na jou kyk. Kyk terug oor jou week en sien die geskenke, seëninge en gawes (wees spesifiek) wat God in hierdie week vir jou gegee het en sê vir Hom dankie.
Voorganger bid ’n vrye gebed waarin gevra word dat die Here ons deur sy Woord sal help om duidelik te sien wie ons is en wie Hy is.
Sing gerus ‘n paar liedere saam.
- Vra vir voorstelle uit die groep en sing net lekker saam as julle nie begeleiding het nie.
- Sing saam met ‘n CD.
- Vind liedere is op Youtube wat julle saam kan sing.
Paar voorstelle van liedere:
- Flam 104 Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ’n tempe
- Lied 201 Lofsing die Heer, buig voor Hom neer
- Lied 550 Twee ogies om Gods werk te sien
Lied 547 Alle volke, klap jul hande
Luister gerus op YouTube na “Alive in You” van Jesus Culture
Inleidende gedagtes
- Sit ’n bietjie droë grond in ’n bakkie op die tafel. Laat elkeen aan die droë grond raak. Hierdie droë grond gaan die droë bene in vandag se teks simboliseer.
- Laat elkeen aan die grond voel. Waaraan dink jy as jy die droë grond voel?
Skriflesing: Esegiël 37:1-14
- Nooi almal om in hulle Bybels saam te volg.
- Lees die Skrifgedeelte rustig deur.
- Voel vry om die teksgedeelte ook in ‘n ander vertaling te lees.
***As daar baie klein kinders in die groep is, vertrel gerus die verhaal weer op die kreatiewe manier (Geneem uit KIX http://kix.bybelmedia.org.za/)
Esegiël moes slegte en goeie nuus vir God se kinders bring. Die bekendste visioen wat Esegiël gehad het, was ‘n boodskap van God wat goeie nuus vir sy kinders sou bring. Ons lees daarvan in Esegiël 37: 1-14. (Haal ‘n sandboks of houer met pap meel uit.Laat iemand voor die tyd die geraamte in die bak wegsteek. Verskuif die sand in die boks sodat daar ‘n hoogte en ‘n laagte is. Plaas uitgeknipte bene – wat reeds aanmekaar gesit is – of roomysstokkies onder in die laagte. Gebruik ‘n toiletrol-mannetjie om Esegiël voor te stel.)
Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ‘n laagte. (Plaas die toiletrol-mannetjie in die sandboks.) Die laagte was vol bene. (Sit die hopie stokkies of papierbene in ‘n hopie neer.) Die Here het my om die bene laat loop, (Laat die toiletrol-mannetjie om die bene loop.) en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog. Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here, my God.” (Laat die mannetjie sy kop heen en weer skud.) Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: ‘Hoor die woord van die Here, droë bene!’ (Laat die mannetjie afkyk na die bene en steek die prentjie van die luidspreker voor die mannetjie sodat dit lyk of hy praat.) So sê die Here my God vir hierdie bene: ‘Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.’”
Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek ‘n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. (Skuif jou hande na die bene en begin om die bene aan mekaar vas te sit om ‘n lyfgeraamte te vorm. Die roomysstokkies kan met stukkies wondergom geplak word.) Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: ‘So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.’” (Plaas 4 stokkies met wind prentjies in die hoeke van die bak sodat hulle in die rigting van die bene blaas.) Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het (Blaas op die bene.) en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ‘n baie groot menigte. (Sit prente van Bybelse figure of toiletrolmannetjies bo-oor die geraamtes en laat hulle regop staan.)
Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’ Tree op as profeet, sê vir hulle: ‘So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe (Beweeg die mannetjie op en af.) en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,’ sê die Here.”
***
Paar gedagtes oor die teks:
Die droë bene in die teksgedeelte verwys na die Israeliete wat moedeloos was. Hulle het moed opgegee nadat hulle vyande hulle in ’n oorlog verslaan en na ’n ander land weggevoer het. Die Here gee hier vir die profeet Esegiël die beeld van die droë bene waaraan God dan nuwe lewe gee. Daarmee sê God vir Esegiël Hy sal vir die Isaraeliete nuwe hoop en ’n nuwe toekoms gee.
Bespreking
Tydens die bespreking, gebruik dit as ‘n geleentheid om saam te gesels en nie noodwendig te breek nie.
- Wat is opvallend in hierdie verhaal?
- Watter deel van die teks sal jy die betse onthou?
- Wat is die dinge wat jou tans sonder hoop laat voel?
- Ek wonder hoe laat dit jou voel om te hoor dat God se Gees lewe in ons lewens blaas?
- Vertel vir mekaar stories oor hoe God in die verlede in julle en in ander mense se lewe nuwe hoop gebring het.
Voorbidding
Maak ‘n lys van mense vir wie julle spesifiek in hierdie tyd voorbidding kan doen. Bid saam dat die Here julle veilig en verantwoordelik diensbaar sal maak.
Gebedsstasie:
Gebedsstasies kan gebruik vir persoonlike gebed en ‘n tyd van afsondering.
- Maak die droë grond nat met ’n bietjie water. Sit die bakkie iewers in die huis neer en laat dit die res van die week daar staan. Laat dit julle herinner dat God nuwe lewe skep. (Maak die grond gereeld nat.)
Uitsending
Tydens die uitsending tyd kan julle dit oorweeg om tyd in te ruim om of vir julle plaaslike gemeente ‘n dankoffer te EFT of offergawes opsy te sit. In hierdie tyd gaan jou plaaslike gemeente se offergawes ongelooflik afneem, maar die werk en roeping van die gemeente gaan nie ophou nie. Hierdie is juis ‘n tyd om meer vrygewig as ooit te wees en te belê in die roeping van jou gemeente.
Omdat jy in ’n lewende verhouding met God leef, verander God jou perspektief. Waarvoor wil die Here nou jou oë oopmaak?
Sluit af met die lied: Liedboek 516 Al sou dan ook die vyeboom nie bot nie
Seën
Spreek die seën saam uit en gebruik gerus die handgebare om so ook die jongspan in te nooi. Lees elke keer die reël en herhaal dit dan saam:
(Sterk arms voor jou uit)
Die Here is VOOR ons om jou pad gelyk te maak.
(Strek arms langs jou uit)
Die Here is LANGS ons om jou in Sy arms toe te vou.
(Wys met duime na agter toe oor jou skouers)
Die Here is AGTER ons om die aanvalle van die Bose af te slaan.
(Strek arms na onder)
Die Here is ONDER ons om jou te dra as jy mag val.
(Waai arms in klein sirkels langs jou)
Die Here is RONDOM ons om jou te beskerm.
(Strek arms na bo)
Die Here is BOKANT ons om jou te seën.
(Hou albei hande op jou bors)
Die Here is BINNE-IN ons om ons te lei met Sy Heilige Gees.
(Neem mekaar se hande)
Die drie-enige God is BY ons – van nou af tot in ewigheid.
Amen.
As julle in julle normale eredienste afsluit met die gebruiklike “Amen-lied”, sing dit gerus saam.
Aktiwiteite vir die jongspan om die res van die dag te doen wat by die teksgedeelte aansluit:
- Gebruik huishoudelike voorwerpe soos stokkies, klippies ens. om ‘n geraamte te bou.
- Maak soutklei aan, en bou julle eie geraamtes.
- Maklike resep:
- 2 1/2 k koekmeel
- 1 k sout(fyn)
- 1 k water
- 2 e olie
- Roer meel en sout bymekaar.
- Voeg dan alles saam en meng goed. Gooi nog bietjie water by indien nodig.
- Meng goed
- Maklike resep: